ep4_si_lg
Ons praat met

Tasleem Vally se ‘Survivor’-vlam geblus

So sê Tasleem Vally, die grimeerkunstenaar van Durban, wat gisteraand uit Survivor SA: Maldives gestem is.                                                                    

Dit het gelyk asof jy moed opgegee het nog voordat jy uitgestem is?

Toe ons die laaste uitdaging teen Goma verloor het, was ek nie op ‘n goeie plek nie. Ons het gehoor hoe die ander stam ná die uitdaging gil en ons het geweet hulle het kos gewen. Daar was niks op ons eiland om te eet nie. Niks. Op daardie stadium was ek so honger, ek sou enigiets eet. Selfs ‘n rot as ons net een gevang kon kry. Ek wou net huis toe gaan. Ek was uitgemergel en die res van my stam het dit gesien.

Niemand vang vis nie. Wat gaan aan?

Ons het vir ure aaneen probeer, maar ons kon nie ‘n vis gevang kry nie.

Hoe het julle aan die lewe gebly?

Ons het kokosneute, groen papaja en broodwortels [yam] geëet. Daai wortels was so sleg en het ons tonge laat opswel dat dit naderhand gevoel het asof jy nie asem kan kry nie.

Was jy verlig toe jy uitgestem is?

Aan die een kant, ja. Ek sou verder kon gaan as ek nie so honger was nie. As ek net ‘n bietjie kos in my lyf kon kry, sou ek oukei gewees het. Nadat ek ‘n goeie bord kos geëet het en vir een aand in ‘n bed geslaap het nadat ek uitgestem is, wou ek met alle mag teruggaan eiland toe. Jy kan nie glo watter groot impak dit op jou het as jy honger is nie.

Wat was jou sterk punte as deelnemer?

Ek is nie fisiek sterk nie, maar ek kan mans uit die palm van my hand laat eet. Ek glo as ek langer op die eiland gebly het, kon ek die mans gekry het om te doen wat ek sê.

Wat was die ergste van die ervaring?

Om nie grimering te dra nie! Ek kan nie na myself kyk sonder grimering nie. Wanneer ek myself nou op TV sien, word ek sommer depressief!    

Het jy baie gewig verloor?

Ja, 6,5 kg in tien dae.

Wie dink jy is ‘n sterk deelnemer?

Lesego. Sy het stamina en sy ontstel niemand nie. 

  • Hyla

    So hoekom het die mans nie gedoen wat jy wou he nie/uit die palm van jou hand geeet nie? O ja, tyd was biqi min… sterkte vorentoe!