Ons praat met

Terence Bridget se hoop, vrese en lewenslesse

[box:full:grey:both]

Ek hoop . . .

[/box]

  • om eendag Iago in Othello te speel. Hy is een van Shakespeare se mees gekompliseerde skurke. Hy het soveel lae, daar is byna ’n weerloosheid aan hom. As ek ’n slegte ou moet vertolk, probeer ek altyd om hom as ’n slagoffer van omstandighede uit te beeld, dit skep ’n meer genuanseerde realiteit.
  • om Zoeloe en Spaans te leer praat.
  • om in Barcelona te bly en in ’n Pedro Almodóvar-rolprent te speel. Die plek het tot iets in my gespreek. Omdat ek baie Spaans lyk, het die mense my behandel soos ’n inwoner. Maar ek sê al lankal: “I’m not Coloured, I’m Cape Spanish . . .”
  • om eendag ’n dogter te hê. Ek het met vier ouer susters grootgeword, en húlle het vier dogters gehad voor die eerste seuntjie gekom het. Ek praat “chick”. Ek kan ’n mood swing op 50 tree sien. Ek voel gekwalifiseerd om ’n dogter groot te maak.
  • die chaos binne die nasionale uitsaaier maak nie die opwindende SA televisie-bedryf dood nie. Dit het nou net sy voete begin vind.
[box:full:grey:both]

Ek is bang . . .

[/box]

  • om alleen dood te gaan. Al ondervind ek tog ek is op my sterkste as ek op my eie is.
  • ek laat val een van die baie balle wat ek in die lug hou. Maar ek is ook mal daaroor om verskeie goed gelyktydig aan die gang te hê.
  • vir al hierdie goed wat my vriend en sakevennoot Paul du Toit my aandoen met die maak van ons reisprogram Rof of Spog. (Dit word einde vanjaar op SABC2 uitgesaai.) Stel dit só: My gees is gewillig, maar my vlees is so vrek bang. Sandplank ry, spring uit vliegtuie . . . Maar ek het dit gedoen!
  • as ek in my kleedkamer is en daar’s skielik ’n doodse stilte op die verhoog. Dan wonder ek: Wat’s verkeerd, wat het gebeur? En . . . is ek veronderstel om daar te wees?
  • vir mense. Ek is eintlik in wese nogal skaam. Ons almal ontwikkel mos meganismes om dit te hanteer. Maar dis ook Murphy’s Law, want dis juis op die dae dat jy weerloos voel, en lyk soos laasweek se lasagne, dat almal ’n stukkie van jou wil hê. En mense kan nie altyd aanvoel of jy die krag het om dit te hanteer nie. Hulle sien jou en moet nóú met jou gesels. Dit kan oorweldigend wees.
[box:full:grey:both]

Wat ek geleer het…

[/box]

  • Ons is almal storievertellers, ongeag die medium. Die enigste ding wat uiteindelik tel, is die waarheid, en dis waarna ek aspireer.
  • Mense is soms verras deur my intellek as hulle my ontmoet! Ek dink nogal hulle is selfs effens teleurgesteld dat ek nie ’n bietjie fluffier is nie. Ek is dalk te ernstig vir hulle.
  • Ek is peetpa vir Paul se twee kinders. Dáár’s nou onvoorwaardelike liefde. Hulle doen dinge eenvoudig sonder ’n agenda. Dis verfrissend, hulle gee jou perspektief tussen al die dringendheid.
  • Ek het eenkeer 15 kg verloor vir ’n musiekblyspel. Dit was uit pure ydelheid. Ek moes in hot pants dans langs ’n klomp show girls. Ek het begin draf en doelbewus koolhidrate uitgesny. Wat vir my die heel beste werk, is ses klein maaltye per dag. Dit doen iets aan ’n mens se metabolisme.
  • Ons onderneem nogal ietwat van ’n reis om uiteindelik terug te kom na ons wortels. Op die ou end is jy en jou familie al wat jy het. Hulle is my anker en my vlerke.
  • Ons kan nie bekostig om ons innerlike kind te verloor nie. Daardie vermoë om te speel, om in ’n ding in te duik met totale oorgawe. Ek gaan voluit, want ek is mal oor wat ek doen, en ek doen waaroor ek mal is. Dis ’n voorreg, ek geniet elke oomblik daarvan.
  • Ek was geroer deur my ATKV-Mediaveertjie vir beste sepie-akteur (as Warrick en Tyrone Paulse in Binneland op kykNET), veral omdat Engels my moedertaal is. Ek dink dikwels ek is ’n beter akteur in Afrikaans, dalk omdat ek harder moet werk om dit te laat werk.
  • Ons kan nie regtig vorentoe gaan as ons nie die verlede omarm en daaruit geleer het nie.
  • Ek is baie spyt my ma, Olive, kan nie in my malligheid en my magic deel nie. Sy is oorlede in die jaar toe ek graad gekry het. En ja, ek was ’n mommy’s boy!
  • Die beste raad wat ek ooit gekry het, was om te luister en met oorgawe lief te hê.
  • Ek is baie ongeduldig. Tipies Ram. Vúrig! Ek is hardkoppig, en wil dinge op my manier gedoen hê. Ek hou nie van die woord “nee” nie. Dit bring ’n snaakse dier in my uit, so ’n dikmond agtjarige. Maar my beste eienskap is my emosionele intelligensie en my verdraagsaamheid.
  • Ek daag myself heeltyd uit. Ek probeer byvoorbeeld elke jaar, tussen die skiet aan TV-stukke, ook twee verhoogstukke en ’n musiekblyspel doen. Wilna Snyman praat van die teater as die “volronde kuns van die akteur”. Dis belangrik om jouself voortdurend te bevraagteken. As jy selfgenoegsaam raak, hou jy op met leer.
  • Rika van der Walt

    Ek is mal oor Terence en sal hom baie graag eendag wil ontmoet. Hy fasineer my