sr1003praatmet
Ons praat met

Claire Johnston: Terug met ‘n “bang”

Die pienk lipstiffie pas by haar skelpienk bostuk. Haar persblou naels gesels saam wanneer sy vrae beantwoord en die luiperdvelmotief-bandjie wat guitig by haar skouer uitloer, maak haar onmiskenbaar die hoofsanger van Mango Groove.

Dís die kleurryke prentjie wat jou begroet wanneer Claire Johnston op die agterstoep van haar huis in Bryanston, Johannesburg, uitgestap kom. Maar dis nie áltyd ’n prentjie van selfvertroue nie . . . Binne Claire “stoei twee honde gereeld met mekaar – dié van kleur en dié van grys”.

Sy sê vandag: “Verskoon maar. Ek het my sin vir humor verloor. Jy vang my op ’n slegte dag.”

Dit was nog altyd so, sê Claire. Sy’s vol teenstrydighede. “Ek’s ’n snaakse mengsel van selfvertroue en onsekerheid. Sommige dae is ek ongelooflik sterk en voel ek ek kan enigiets doen, maar ander dae sien ek net nie kans vir uitdagings nie. Dikwels vertrou ek myself nie om enigiets te doen nie, maar op ’n manier kom ek altyd reg.”

November verlede jaar was ’n besige maand met dié dat Mango Groove vir die eerste keer in 14 jaar ’n CD, Bang the Drum, uitgereik het. Sy moes keer op keer haar tyd met haar persoonlike fiksheidsinstrukteur kanselleer vir ander afsprake.

“Ek kry nie die spanning uit my lyf nie.”

Elke “hond” kry ’n kans om sy kop uit te steek tydens ons onderhoud. Haar gelukkige Mango Groove-stories word afgewissel met hartseer herinnerings aan haar ouers se egskeiding toe sy net sewe was.

Ons kyk uit op Claire en haar man, John Leyden (ook ’n lid van Mango Groove), se groot tuin. Sy hou daarvan om na aan die aarde te leef. Die natuur maak haar rustig. Dis ook hoekom hulle gereeld Bosveld toe vlug om te gaan ontspan.

Maar die voorblad van Bang the Drum is vol energie. Mango Groove het instinktief begin voel dis tyd om weer ’n CD op te neem.

“Ons het die kreatiewe roerings begin voel. Ons het ’n webtuiste begin en die mense se reaksie was fantasties. Ons het besef daar’s ’n verlange na Mango Groove en dit kom nie net van ons nie, maar ook van ons aanhangers.”

Claire is al deel van Mango Groove vandat sy 17 jaar oud was. In haar matriekjaar het die groep pas begin. Hulle het ’n voorsanger gesoek en haar sangonderwyser, Eve Boswell, gekontak om te vra wie haar beste sangstudent is. Dit was toe Claire.

Die groep beplan om in Maart met ’n landwye toer te begin om vir Suid-Afrikaners te laat weet Mango, soos sy liefderik na die groep verwys, is terug met ’n bang.

Hoekom het julle so lank gevat om ’n nuwe CD uit te bring?

Almal in Mango Groove wou vir ’n ruk lank ander dinge doen. John het onder meer CD’s vervaardig en ’n musiek-blyspel, Gladlands, geskryf saam met Paul Slabolepszy. Mduduzi Magwaza (kwêla-fluitjie) het saam met die Soweto String Quartet getoer en Marilyn Nokwe (agtergrondsanger) het haar eie spyseniering-onderneming begin. Ek was ook nie meer verlief op Mango Groove nie. Op 31 was ek lus vir iets anders. Ek het toe my eerste solo- CD (Fearless) in Engeland gaan opneem. So vier jaar gelede het Mango weer begin roep.

Beskryf jul nuwe CD.

Ons moes iets doen wat soos Mango Groove klink, en dis tipies ons van begin tot einde. Van die resensente het gesê ons verskuif nie grense met Bang the Drum nie, maar dis nie wat ons wou doen nie.

Dit was maklik om mango groove-aanhangers op te spoor. Daar’s so baie van hulle! Alta Kriel van Johannesburg wil weet of daar ooit in die beginjare teen jou gediskrimineer is omdat jy ’n wit vrou is?

Absoluut. Daar was mense wat dít waarvoor ons gestaan het, gehaat het. Ek is met agterdog deur sommige wit én swart mense dopgehou. Ek het besef ons samelewing is verdeeld. Ek het dit in daardie konteks gesien en dit nie persoonlik opgeneem nie. Mense het ons naderhand met vriendelikheid ontvang soos dinge in die land begin verander het.

Nicolaas du Plessis, ’n Suid-Afrikaner in Engeland, wil weet wat jy dink van realiteitsprogramme soos Idols?

Ek was mal oor die eerste SA Idols en ek het vuriglik gestem, maar ek dink ek het nou genoeg van sulke programme gehad. Ek is mal oor ’n band. Ek verkies ’n groep mense wat saamwerk om hul unieke klank te ontwikkel bo mense wat bloot saamgegooi word oor hoe hulle saam lyk of hoe hul stemme klink as hulle ander mense se musiek sing. Ek kyk glad nie meer na enige talent-programme nie.

Wat is die vreemdste ding wat ’n aanhanger al gedoen het?

Mense het al snaakse goed na my op die verhoog gegooi. Ek het nogal skaam gekry toe ons een keer in Port Elizabeth opgetree het op ’n winderige dag. Ek het net begin sing: When the stars . . . en toe land ’n groot kledingstuk in my gesig. John sweer tot vandag toe dit was ’n man se onderklere. Ek het uitgebars van die lag en die band het ook begin lag.

Elmarie Claassens, een van jou vriendinne, wil weet wat jou vroegste sang-herinnering is?

My kleuterskoolkonsert in Johannesburg toe ek drie was. Ek was die enigste kind wat ’n solo gesing het. Die liedjie se naam was “Nutmeg”. Daar was ’n aktrise in die gehoor wat ná die konsert vir my ma gesê het: “Jy moet jou dogter op die verhoog sit, mev. Johnston.” Ek kan nie glo hoeveel selfvertroue ek op drie gehad het nie! Dít het vir my gewys om te sing is eenvoudig deel van jou of dit is nie.

Jy’t feitlik jou lewe lank opgetree en het in die musiekblyspel Annie gespeel toe jy net 10 was. Dit het landwyd getoer. Het jou ma jou altyd aangemoedig om te sing?

Ja, sy’t besef ek’s mal daaroor. En sy’t gesien hoe mense teenoor my reageer as ek sing. Sy het my nog altyd ondersteun, maar nooit gedruk nie.

Elmarie wil ook weet of jy al ooit gevoel het jy wil nooit weer sing nie?

’n Paar keer al. Ek onthou ek moes een keer, toe ek omtrent 12 was, veldskool toe gaan. Meisies van drie skole is Pelgrimsrus toe. Ons het saans om die kampvuur gesing. Van die meisies van die ander skole het uitgevind ek het in Annie gespeel en ná ’n ruk het ek alleen om die kampvuur gesing as hulle my gevra het. Een dag was ek in die badkamer en vier meisies het opgedaag en gesê: “Kom, Claire, sing vir ons.” Ek’t gesê ek is nie lus nie. Hulle het my in die badkamer toegesluit en gesê hulle sal die deur eers oopmaak as ek sing. Ek was histeries. Dit was die eerste keer dat ek gevoel het ek wil nooit weer sing nie. Ek gaan deur fases waarin ek myself afvra of dit my gelukkig maak om te sing. Die meeste van die tyd is die antwoord ja, maar soms is dit nee. Dis nie soseer die sing self nie,maar die druk om ’n openbare beeld te hê omdat ek sing. Dis uitputtend om heeltyd nice te wees. Ek word soms moeg daarvoor om bekend te wees omdat ek sing.

Om te sing is eenvoudig deel van jou of dit is nie – Claire Johnston

John, jou man, vra of jy dit al ooit ernstig oorweeg het om SA te verlaat?

Ek het. Daar was ’n tyd dat ek nie veilig gevoel het nie – net nadat ek en my ma in 2001 in haar huis in Johannesburg aangehou is. Baie dinge het in daardie jaar gebeur, dit was nie net die aanhouding nie. Ek het my eerste solo-album uitgereik, ek was gespanne daaroor ook. Vandag is ek bly ek het nie ’n “paniek-reaksie” gehad en weggegaan nie. Toe ek verlede jaar oorsee gegaan het, het ek op Johannesburg se lughawe gestaan en gedink: Sê nou ek gaan permanent weg? Ek’t besef daar’s nie ’n manier dat ek dit kan doen nie. Die mense, die natuur, die spasie en die blou lug hier . . . ek kan dit nie los nie.

Jou ouers is geskei toe jy sewe was. Watter invloed het dit op jou lewe gehad?

Aan die een kant was ek verlig, want dit was onaangenaam in ons huis. My pa was gewelddadig. Maar ek het ook skuldig gevoel omdat ek so verlig was. Ek het in my dertigerjare vir sewe jaar vir terapie gegaan en besef hoe kwaad ek is. Baie van my onsekerhede spruit uit daardie ervaring en dit sal altyd deel wees van my. Ek vertrou mense nie maklik nie.

Jy’s al tien jaar getroud. Moes jy deur verhoudingkwessies werk?

Ek was baie onseker van myself toe ek jonk was. Ek is deur alles en almal geïntimideer. Ek het twee ernstige kêrels vóór John gehad en ek was ’n nagmerrie met hulle, só jaloers. Selfs met John was ek baie jaloers. Ek het intussen aan my onsekerhede gewerk en die kwessies aangepak wat in my pad gestaan het. Dit het als uit my ervaring met my pa gespruit. Ná die egskeiding het my pa terug Engeland toe gegaan (Claire is daar gebore). Ek het hom vir 22 jaar nie gesien nie. Ek het hom uiteindelik gekontak, maar ons het nie kontak behou nie.

Hoe het jou en John se verhouding begin?

Ek ken John al vir 25 jaar. Ons was eers kollegas, toe vir ’n lang ruk vriende en toe het iets tussen ons verander. Dit was ’n moeilike besluit om romanties betrokke te raak omdat ons saam werk. As die verhouding nie sou uitwerk nie, sou dit ons albei se loopbane beïnvloed het. Aan die begin het ons dit ’n geheim gehou, maar vriende en kollegas het agtergekom iets is aan die gebeur. Ons het vir drie jaar saamgebly en toe getrou.

Wat trek jou na John toe aan?

Hy is die goedhartigste, onvoorwaardelikste mens. Hy’s ook baie snaaks en slim. En hy is lief vir my ondanks al my foute.

Wat was die donkerste tyd in jou lewe?

Ná ons in my ma se huis aangehou is. Ek was besig om haar slaapkamermure te verf. My ma het buitentoe gegaan terwyl ek die kamer aan die kant gemaak het. Ek het haar hoor skree. Ek het kombuis toe gehardloop en ’n man het in die huis ingehardloop. ’n Ander man het ingekom met ’n rewolwer teen my ma se kop. Hulle het ons op die kombuisvloer laat lê. Ek het gedink hulle gaan ons verkrag en ek het my arms en bene om my ma gevou en nie gelos nie. Hulle is later weg sonder om ons seer te maak. ’n Week later was ek weer by my ma se huis besig om klaar te verf. Ek was woedend en hartseer en ek het magteloos gevoel. ’n Hondjie het buite iewers begin blaf en ek wou net skree “bly stil!”. Alles het sinneloos, ellendig en wreed gevoel. Ek het toe begin om my terapie ernstig op te neem.

Is depressie iets waarteen jy gereeld moet veg?

Soms is dit deel van my lewe. Dis iets waarna ek moet oplet. Dis belangrik dat ek gereeld oefen, dis ’n goeie uitlaatklep. Elke keer wanneer ’n nuwe CD uitkom, is dit ook ’n emosionele ervaring.

Jy’s 42 en lyk so jonk en goed!

Ek oefen al twee jaar saam met my persoonlike afrigter, Dickson Ngono. Hy’s ’n voormalige wêreldkampioen in skopboks. Ons oefen drie keer ’n week vir ’n uur lank. Op ander dae probeer ek kardiovaskulêre oefening doen. My skoonheidsroetine is eenvoudig: Ek gaan slaap byna nooit met grimering aan nie.

Was dit ’n daadwerklike besluit om nie kinders te hê nie?

Ek het nog altyd gedink ek sou kinders hê, maar dit het nooit gebeur nie. In ’n stadium het dit my gepla omdat mense my daaroor gevra het, maar ek is gelukkig soos dinge is. Daar’s soveel verskillende lewens wat jy kan leef: Met of sonder kinders; ek kan sing of iets heeltemal anders doen. Ek kan nie iets mis wat ek nooit gehad het nie.

Na watter musiek luister jy?

Alle soorte. Soms is dit rock, ander kere jazz of opera. Op die oomblik is ek mal oor Lily Allen en ek dink Muse is fantasties.

Jy’t al ’n paar keer die nasionale volkslied voor rugbywedstryde gesing. Is jy ’n rugby-aanhanger?

Ek was nooit nie, maar het een geword. Ek het die volkslied die eerste keer in 1998 by rugby gesing en sedertdien het ek begin verstaan hoe die sport werk. Die passie in die stadions is altyd ongelooflik.

Wat is ’n gunsteling-oomblik uit jou Mango Groove-dae?

Om vir die eerste keer in SA in ’n stadion te kon optree staan uit, en ook toe ons dit kon regkry om die Standard Bank-arena sewe keer ná mekaar vol te maak! Dit was ook wonderlik om oorsee te kon optree. Elke keer wanneer my wildste drome oortref word, is groot.

  • http://xlfchkgymmpx.com/ vuindfgzjn

    jI6eGS fsionihuarzc, [url=http://nbbfmrmlyjga.com/]nbbfmrmlyjga[/url], [link=http://rezgqkyssjjp.com/]rezgqkyssjjp[/link], http://iixvmbvnfsqx.com/

  • Melinda van Zyl

    Claire, jys PRAGTIG en so ‘n talentvolle mens!! DANKIE VIR JOU EERLIKHEID IN DIE ARTIKEL, dat jy ook net soos al ons ander vrouens ook een dag goed oor jouself voel en dan skop die hormone in en als is deurmekaar!Die artikel het my regtig verryk en ek sê weer dankie vir jou EERLIKHEID. Mag Mango Groove GROOT HOOGTES bereik en GO GIRL GO, BECAUSE YOU ROCK!