tess_van_staden_
Ons praat met

Aktrise Tess van Staden wil LA verower

“Ek was soos ‘n boom. My wortels is in Suid-Afrika, maar my groei was daar. Dis asof daar nuwe lewe deur my blare gevloei het in LA.” Sy is op 19 – “heeltemal te jonk!” – getroud. “Ek het wel besef ek wou méér hê as ma-wees (sy het drie volwasse kinders). Ek wou myself gaan toets met nuwe uitdagings in LA.”

Sy was trots op haar suksesse in Suid-Afrika in die laat negentigs: veral haar rol in Antjie Krog se tragikomedie Toyi-toyi (die regie is behartig deur Marthinus Basson) en haar rol in die TV-reeks Sterk Skemer waarvoor sy vir ’n Avanti-prys benoem is. Maar sy was ver van vervuld.
“Ek het besef ek moes Amerika beleef om my uniekheid te ontdek. Mense is mal oor my aksent en my voorkoms. Dis asof ek vir die eerste keer besef ek is ’n wese van Afrika. Ek het nooit so oor myself gevoel ín Suid-Afrika nie!’”

Die “reis” was dikwels moeilik. Sy was baie alleen. “Alles is vreemd. Die verkeersreëls, hoe die mense dink, dis ‘n báie mans-georiënteerde wêreld, al sê mense wát. Ek moes leer hoe om my emosionele reserwes te voed deur gefokus te bly. Ek het gereeld die gimnasium besoek – dit help as jy gesond leef. Jy keer só angstigheid. Want jy leef met konstante vrees as jy in ’n nuwe omgewing is.”

Sy het al hope kursusse oorsee gedoen: Shakespeare- en Tsjechof-werksessies in New York staan vir haar uit.

Tess van Staden

“Ek het ook twee jaar gelede saam met regisseur Larry Moss, wat onder andere die Oscar-wenner Hilary Swank en die aktrise Helen Hunt onder hande gehad het, gewerk in die teaterproduksie Fun dogs and a bone. Die gehoor in LA het ge-rave daaroor. Die X-Files se regisseur was in die gehoor en het agterna vir my gesê: “Daar ís werk vir jou in Amerika, jy moet bly.”

Op die oomblik skryf sy ‘n teaterstuk oor die verskillende rolle van vroue in verhoudings. “Dit gaan oor die ‘verkragting’ van die vrou se siel as sy in ‘n boks gesit word, en oor seksuele mag in verhoudings… Ek hoop dit loop uit op ‘n draaiboek. Tydens my blitsbesoek in die Kaap ondersoek ek ook moontlikhede van rolprentwerk in Suid-Afrika.”

Sy is opgewonde oor waar sy haar nou bevind in haar lewe. “Ek het geleer dat ek foute van die verlede moes laat gaan en in die nóú moes leef. En ek moes leer dat ek in LA nie nét met my regterbrein kan leef nie, al is dit my natuurlike voorkeur. As jy jou kreatiwiteit wil uitleef, moet jy ook ‘n sakeplan hê.”

Nou is sy gereed vir rolprent- en TV-werk. “Ek het my eiendom in Suid-Afrika vier jaar gelede verkoop om myself aan die lewe te hou in LA. Nou is dié nes-eier vinnig besig om te krimp. Ek werk af en toe as kelnerin vir ‘n ekstra inkomste, maar dis nie genoeg nie… In LA is die pas baie vinnig. Enigiets is moontlik. Dis opwindend. Dis ‘n aanhoudende uitdaging en jy bly daagliks groei. Daar is derduisende mooi, vaardige mense en hulle stroom aanhoudend die stad binne.”

Natuurlik verlang sy na die warmte van die Suid-Afrikaners. “Hier in Suid-Afrika het mense al soveel pyn en lyding beleef. Dis asof ons ’n natuurlike deernis met die mensdom het… Dis asof ons hier na mekaar luister en regtig hóór waar woorde ‘val’. We gét each other. In Amerika wil almal die heeltyd nét ‘goeie energie’ hê. Soms is dit baie uitputtend. Maar op die oomblik is dit my tweede tuiste. Ek is bly ek was ná veertig bereid om myself in die onbekende te gooi.”

  • Marietjie

    Stunning! Hou so aan Ek is so trots op jou!

  • Stephen

    Ou Tess, dis nou wonderlik om in jou raak te loop! Hou aan met jou goeie werk! Stephen van Rhema ’95