dahlings02_b_retouched
Ons praat met

The Dahlings – bekende kykNET-aanbieder in musiekvertoning

Wat gebeur as jy die unieke 1940’s-klanke van die Andrew Sisters met moderne pop-ikone soos Beyoncé en Bjork meng en dan nog die waagmoed van James Bond daarby voeg? ‘n Paar bekende wysies, stylvolheid en ‘n bietjie aweregse humor en jy kry The Dahlings.

Dié drie talentvolle vroue – Nadia Beukes, Elizma van Rensburg en Nacia Erasmus van Gauteng – is van 3 tot 21 Februarie in dié produksie van Cinema Wow te sien in die Joburg Theatre in Johannesburg. Daar is nie ‘n ooglopende storielyn nie, maar die vertoning is in ses dele ingedeel:

  • Vroue in die werkplek in die 1940’s
  • Die goeie huisvrou in die 1950’s
  • Mode en styl
  • Deur skok (skade en skande) – ‘n eerbetoon aan welbekende bangmaak-films
  • Die (vreemde) Ooste
  • Die vrou met die vrugte (slaai)

Marguerite van Wyk het met die drie sterre van die vertoning gesels om te hoor wat ons kan verwag.

Nadia Beukes

(middel in foto hierbo)

Sy het bekendheid verwerf as kykNET-aanbieder en het al in die M-Net-sepie Villa Rosa verskyn en was ‘n mede-aanbieder in Tuine en Tossels en Dekor op kykNET. Sy was ook lid van Cutt Glas en het saam met aktrise Lizz Meiring aan verskeie teaterproduksies gewerk. Onlangse teaterproduksies op haar kerfstok sluit in Janice Honeyman se Snow White, Deon Opperman se Ons vir Jou en The Rocky Horror Picture Show. Sy’t ook ‘n Honneursgraad in bemarkingskommunikasie.

Wat is die grootste uitdaging van dié show?
Om die musiek in te studeer. Die harmonieë moet reg wees en dis moeilik. Die stemme ‘maak’ die akkoorde, so niks mag verkeerd klink nie. Daar is sowat 23 liedjies.

En die danspassies?
Ons beskou dit as oefening. Gelukkig het ons al almal verskeie verhoogproduksies gedoen waarin ons moes dans. Die choreograaf, Timothy le Roux, is ongelooflik professioneel. Hy het so pas die ballet Carmen gechoreografeer en ook Pinocchio – The Pantomime, waarin ek ook was. Ons drie is baie goeie vriendinne, so dis heerlike pret om saam te werk. Ons glo ons is almal in die verkeerde era gebore. Dis baie lekker om dié musiek en danse weer op so te laat herleef.

Jou gunsteling-liedjies in dié show?
Daar is baie. Ek hou van Frank Sinatra se ”Nightingale”. En Beyoncé se ”Crazy in Love”. Daar is ook ”Perfidia” en ”Lemon Tree” wat baie mooi is.

Nacia

(links op foto hierbo)

Sy het haar toerisme-graad aan die Potchefstroomse Universiteit verwerf en het in verskeie musiekproduksies soos The Sound of Music, The Buddy Holly Story, Aladdin – The Pantomime, Showboat en Grease opgetree. Sy werk nou as vryskutfotograaf en bestuur ‘n Jenni Button-boetiek in Menlyn, Pretoria.

Beskryf jou karakter en hoekom geniet jy dit?
My karakter is uptight. Bietjie soos Bree van der Kamp in die TV-reeks Desperate Housewives. Dis ‘n baie lekker karakter om mee te speel.

Wat het jy als in dié show oor jouself geleer?
Dissipline, spanwerk en uithouvermoë. Dis baie opwindend.

Wat is jou gunsteling van die ses dele in dié produksie?
Die laaste deel – ”die vrou in die vrugteslaai”. Dit bevat van my gunsteling-liedjies en die kostuums is kleurryk.

Hoekom is julle The Dahlings?
Dit beskryf wie ons in ons harte is en wat ons wil uitstraal.

Hoe gaan die gehoor voel as hulle by die vertoning uitstap?
Ná die tagtig minute gaan hulle glimlag en iets hê om die volgende dag by die werk oor te gesels.

Elizma

(regs op foto hierbo)

Sy het haar voorgraadse musiekstudie in Sydney, Australië, voltooi. Daarna het sy ‘n honneursgraad in musiekteater aan die Tshwane University of Technology verwerf en ‘n graad in geskiedenis aan Unisa begin. Sy het talle produksies as aktrise, regisseur en skrywer op haar kerfstok. Sy was ook sanger in die a cappella-groep Cutt Glas en doen agtergrondmusiek vir Laurika Rauch. Sy is ‘n opgeleide grimeerkunstenaar, doen vertaalwerk en skiet advertensies.

Wat beteken dié show vir jou loopbaan?
Ons werk reeds twee jaar daaraan. Die vermaaklikheidswêreld is ‘n moeilike een en daar is min werk beskikbaar. Ons het nie gewag vir werk om te gebeur nie, maar self iets geskep. Ons droom is om The Dahlings voltyds te doen. Nou moet die publiek net van ons te hore kom.

Hoe het jy in dié produksie beland?
Ek is een van die breine daaragter. Dit was deels my droom. Die vervaardigers is Timothy le Roux, Jaco van Rensburg en ek. Ons het ook die show geskryf en ontwikkel.

Watter rol speel die kostuums en grimering in dié produksie?
Ek is absoluut versot daarop. Die stylvolle, elegante lyne van die 1940’s tot 1960’s is tydloos. Vroue het toe geweet hoe om aan te trek en hul vroulike kurwes te aksentueer, sonder om ‘los’ voor te kom. Ek is baie gelukkig, want my ma maak ongelooflike mooi klere en ek gee gereeld vir haar bestellings om vir my ‘vintage’-geïnspireerde rokkies te maak. Die Christian Dior ‘New Look’ is een van my gunsteling-silhoeëtte. Dit laat my vroulik en sexy voel sonder dat enigiets aan my lyf hoef te kleef. Daar is niks soos ‘n mooi, bloedrooi lip nie. Dit is ongelooflik hoe dit ‘n hup in jou stap sit.

Is só ‘n produksie baie stresvol?
Ek dink nie mense besef hóé stesvol nie. Daar is soveel elemente om in gedagte te hou. As kunstenaar is dit soms moeilik om die administratiewe deel met geesdrif aan te pak as die kreatiewe deel vir jou so belangrik is. Maar as dit vir jou regtig belangrik is, doen jy die ‘admin’ met ‘n glimlag op jou bakkies.

**Bespreek jou kaartjies by Computicket

The DahlingsThe Dahlings