Ons praat met

Themsie Times (Maria van ‘7de Laan’) se hoop, vrees en lewenslesse

EK HOOP

om te werk tot ek dood neerslaan. Ek is al 59 en my werk is my lewe. Dis soos om asem te haal. Dit maak ander mense gelukkig. Ek is al aktrise sedert 1966.

dat my kinders ’n goeie lewe sal hê. Girwood (31) word maar rondgewoel by die werk. Ek hoop hy word ’n goeie salaris betaal. Geney (28) werk in ’n kitskosplek in Londen en dit gaan goed met haar. My seun Bruce (36) is in Augustus verlede jaar dood aan asma. Dit was ’n verskriklike slag en ek is nog baie hartseer daaroor.

ons kan almal gelukkig en in vrede saamleef. Verlede jaar is by my huis in Eldoradopark net buite Johannesburg ingebreek. Dit was traumaties. Nét my banke en bed het oorgebly. Ek het gehuil toe ek tuis kom en na die leë gate staar waar die televisie en borde was. Maar as ons bid en glo in God, sal ons vrede hê. Dít weet ek.

dat ons meer vir mekaar sal glimlag. Lank gelede kon mense by mekaar suiker leen. Nou skinder iemand as dit gebeur. As iemand in die straat stap en uit die hart uit glimlag, kan jy dit dadelik aanvoel. Ons kort meer sulke mense.

 EK IS BANG

vir ’n muis! Miskien sal dit my tone eet. Ek sal uit die huis vlug as daar een binne is.

vir die onbekende. Dalk sal ek eendag wakker word en nie meer kan loop nie. Wat sal dan gebeur? Dan kan ek nie meer werk nie en verloor ek my onafhanklikheid. Hoe gaan mense my dán behandel?

om snags te bestuur. ’n Ruk gelede het iemand my motor een aand op pad huis toe gestamp. Maar ek moet op my eie ry en ek doen dit steeds.

WAT EK GELEER HET

Ma-wees gaan oor geduld en onvoorwaardelike liefde. Soms dryf my kinders my teen die mure uit, maar jy kan nooit jou kinders verlaat nie, al is hulle hóé stout. Jy moet sterk wees, opkyk na God en báie bid.

Ek is baie onafhanklik. Toe ek getroud was, het ek ál my vertroue in my man geplaas, en hy het my verkul en swak behandel. Die laaste sowat twintig jaar, sedert ek op my eie is, onderhou ek myself en my kinders. Ek kan my kinders ten volle vertrou.

Ek is lief vir Maria se karakter, want sy is ’n bietjie gek en sy laat my lag, selfs al is ek hartseer. Dis goed vir my. Byna soos medisyne. Ons leef in ’n baie hartseer en wrede wêreld en Maria maak dit vir my beter. Dis hoekom ek my álles in hierdie karakter sit.

Toneelspel het my baie dissipline, perfeksionisme en motivering geleer. Dit het my ook baie mensekennis gegee. Ek kan vinnig sien of mense opreg of vals is. Dís ’n gawe van God.

As ek getrou aan myself is, sal ek  getrou aan ander wees.

Ek het voorheen my sorge gesus met té veelalkohol, maar ek het dié gewoonte ses jaar gelede gelos. Dít het my bemagtig en baieselfvertroue gegee. Ek het nuwe tegniekeaangeleer om die lewe se hartseer te verwerk. Ek sê nou vir myself:“Dit sal wel weer beter word.” Ek lees spirituele boeke en ek vra God om my te lei.

Ek is lief vir mense, maar hou nie van skynheiligheid nie. Ek draai nie doekies om nie en sal reguit vir iemand sê as ek nie hou van wat hy of sy doen nie.

Liefde is daar om uit te deel. Ek is baie ongeduldig, maar ook baie liefdevol. Ek kan nie toesien dat ander mense ly nie, en sal my geld, kos en klere vir iemand in nood gee.

Ek is spyt ek het getrou, maar ek het baie geduld geleer uit dié ondervinding. Deur al die swaar tye in my huwelik het ek besef: Niemand kan die kern van Themsie verander nie. Dit maak nie saak wát iemand aan my doen nie, ek sal nooit háát nie. En ek weet al gaan dit hóé swaar, daar is altyd lig aan die einde van die tonnel.

 

 

  • Hyla

    Themsie, jy is n ‘diep’, pragtige mens wat al swaargekry het in die lewe – ons geniet jou karakter verskriklik baie- jy laat ons lekker lag!! Beste wense vir nog baie jare voor die kamera.. Groete

  • Mari

    Themise, ek geniet elke oomblik wat jy op die kaasie is. Doet so voort! (In Ou Basie styl)

  • PJsy7F gyuhxtcjzsvg, [url=http://gclmvstzrejr.com/]gclmvstzrejr[/url], [link=http://ekrsxmpgbkca.com/]ekrsxmpgbkca[/link], http://xlnwngwhbyjc.com/

  • Anja

    As daar meer mense soos jy was sou die lewe en wereld baie beter plek gewees het – dankie dat daar nog iemand is soos jy ons kan almal van jou leer en dat jy bo alles gestyg het God seen jou en bly die pragtige mens wat jy is alles wat mooi is vir jou