tornado_pierre_dancing_in_desert
Ons praat met

Tornado in die Kalahari

Snags het die kwik in die Kalahari tot minus 8 grade gedaal. Snerpend koud, veral as jy drie weke lank in ’n tent moet slaap! Soggens was die water in die draagbare storte gevries. Maar die filmspan en akteurs van die fliek Tornado het dít alles met ’n glimlag verduur. 

Op 10 April kan ons self in teaters sien waarmee hulle besig was. Dié fliek, met Regardt van den Bergh as regisseur, vertel die ware verhaal van Pierre (gespeel deur Quintin Krog), ’n depressiewe jongman, en Tornado, ’n Arabierperd wat té hard gedruk is om ’n skouperd te word. Ook in die rolverdeling: Danny Keogh, Joanie Combrink en Regardt se dogter, Lean.

“Die eerste probleem was blyplek vir 50 mense, want daar’s net ’n paar huise op Noenieput, waar ons geskiet het,” vertel vervaardiger Peter Lamberti. “Ons kon ’n plaashuis en ’n jagkamp met 16 beddens te huur kry. Die res moes in tente in die woestyn slaap. Ons moes kragopwekkers aanry. Water het ons van windpompe en tenks op omliggende plase gekry en die enigste selfoonontvangs was op een van die sandduine.”

* Die Arabiese hings wat Tornado speel, Arlieb Kashmir, is laat verlede jaar dood in ‘n springongeluk.