Ons praat met

Trends 2011: Desember

Ons kan teen dié tyd nie wag vir die Kersvakansie om gehaltetyd saam met ons geliefdes deur te bring nie. Maar hoe lyk ons menseverhoudinge regtig?

Waar ons in die verlede boots and all in sosiale media soos Facebook en Twitter geduik het omdat dit nuut was, gaan ons begin kieskeurig raak en die gebruik daarvan verfyn, sê Jacquie Myburgh Chemaly, tendenskenner en redakteur van Visi. Ons gaan byvoorbeeld oorweeg of ons regtig soveel Facebook vriende wil hê.

“Ek kry die indruk mense smag weer na persoonlike kontak. Om te sê ‘bel my’ eerder as ‘e-pos my’. Ons word met soveel inligting gekonfronteer, maar ons het tyd nodig om dit te verwerk. Ek dink ons gaan onsself al hoe meer daardie tyd gun.”

Die resessie het ons ook gedwing om te herevalueer wat ons gelukkig maak. Ons sal altyd van mooi goed hou, maar ons wil eerder spesiale ervarings as materiële goed hê, sê Jacquie. Hoe unieker, hoe beter.

“Om ’n vintage motor te ry, iets nuuts te proe en na ’n nuwe plek te reis.”

Glamping of glamour camping is een van die vakansietendense hier en internasionaal,” sê Kerryn Fischer, redakteur van National Geographic Traveller in Suid-Afrika.

“Mense bly byvoorbeeld in luukse-tenthuise in kampeerplekke. Ek dink ons waardeer ons land opnuut ná die Wêreldbeker-sokkertoernooi en reis meer hier. Omdat ons so lief is vir die son en strand, is plekke soos Mosambiek en Oosterse lande soos Thailand ook gewilde bestemmings.”