Ons praat met

Valiant oor sy nuwe album, ‘Wild en Wakker’, saam met Ollie Viljoen

Dié musiekduo het drie jaar terug hul eerste album saam, Vuur en Vlam, uitgereik met boeremusiek-snitte soos ‘My hart verlang na die Boland’, ‘Die aeroplane se vlerk’, ‘My Hartjie my Liefie’ en ‘Boereworsie’.

Valiant het afgewyk van die blues-musiek waarvoor hy bekend is, en ’n ander kant van sy musiektalent gewys. Ná die sukses van Vuur en Vlam, wat ’n Sama-toekenning verwerf het vir Beste Tradisionele Afrikaanse Album in 2008, het Ollie en Valiant hierdie jaar weer saamgewerk en vroeër die maand ’n splinternuwe album, Wild en Wakker, uitgereik.

Valiant gesels oor Wild en Wakker, Ollie Viljoen, en Afrikaanse musiek.

Watter tipe musiek kan luisteraars verwag op Wild en Wakker?

Dis ’n voortsetting van ons strewe om enersyds tradisionele liedjies in ’n nuwer, stylvoller gewaad te tooi, en andersyds ’n stel splinternuwe komposisies in die tradisionele idioom aan te bied.

Hoe verskil Wild en Wakker van jou en Ollie se eerste album, Vuur en Vlam?

Die instrumentasie is meer gestroop. Daar is geen strykers of blasers of ’n hoop ander gasmusikante nie – dis net ek en Ollie en ons drie orkeslede. Ons het wel ’n banjospeler ingebring op drie van die liedjies.

Ek sien die album se titels allitereer. Wie dink die name uit?

Dis eintlik blote toeval. In beide gevalle het ons die titel van ’n liedjie op die betrokke album geneem.

Hoekom dink jy werk jy en Ollie so goed saam?

Ons geniet dit verskriklik om musiek te maak. Ons style komplimenteer mekaar outomaties. En ons is goeie pêlle.

Is daar enige planne vir nog ’n solo-album?

Ek is reeds besig met ’n paar nuwe wysies en verse vir ’n gatskop rock-album.

Dink jy dat Afrikaanse musiek ’n groter following het as in die verlede, en hoekom?

Ja, daar’s darem nou ’n reuse-verskeidenheid mense op die toneel, weliswaar van wisselende gehalte. Die aanhangers blyk net meer en meer te word.

Wat dink jy van musiek-acts soos Jack Parow en Die Antwoord?

Ek is mal oor hulle. Uitdagend en anders – die meeste ander is vir my maar eenselwig en vervelig. Dit klink asof almal dieselfde drie liedjies oor en oor sing.

Dink jy meer Suid-Afrikaanse kunstenaars moes ingesluit gewees het by die line-up vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi se konsert op die 10de Junie?

Ja, beslis. Maar wat, die organiseerders het seker ’n paar magtige pype om na te dans. Die arme marionette. Ons het hulle in elk geval nog nooit nodig gehad nie.

Gaan jy ’n sokkerwedstryd bywoon tydens die toernooi?

Ek wil bitter graag, maar ek is te besig met optredes en toere. Ek volg dit maar op TV wanneer ek kan.

Wie dink jy gaan die Wêreldbeker wen?

Wel, my hart het geglo in Bafana, maar nou ja. Brasilië lyk sover die beste. Ek hou ook van Holland, maar ek hou steeds duim vas vir ’n Afrika-eindstryd.

Waar bly jy nou en hoe ervaar jy dit?

Stanford in die Strandveld. ’n Stukkie paradys.

Ek sien dat jy taamlik gereeld jou Facebook-status opdateer. Waarvoor gebruik jy as musikant Facebook?

Hoofsaaklik om te netwerk en met my vriende en fans te gesels.

* Hier is Valiant en Ollie se gunsteling-dis: Gebraaide snoek!