FOTO: Hannah van Foto Fractions

Ons praat met

Vallei van sluiers se Jana Fischer gesels oor reeks se bittersoet einde

Die finale episode van Vallei van sluiers het verlede week vir groot opwinding gesorg. SARIE.com gesels met een van dié gewilde reeks se sterre, Jana Fischer, hieroor én oor ma-word …

Op 6 Januarie om 20:30 het duisende Suid-Afrikaners hulle vir die laaste keer aan die kleurryke karakters en meesleurende storielyn van kykNET se dramareeks Vallei van sluiers oorgegee.

En dít het beteken dat Jana eers haar karakter, Monique, moes groet en iets anders vind om haar mee besig te hou. Sy vertel vir SARIE.com wat vir haar voorlê – in haar professionele én private lewe.

“Ek werk nog heeltyd by my man se restaurant. Dit gaan goed daar en ek is gelukkig om vir my man te werk en hom te ondersteun.” Sy en haar man, Stephan, het in Augustus 2014 Milhaus Food and Wine Bar in Kayalami, Johannesburg, oopgemaak.

Hoewel Jana ‘n ruk nie op die kassie gaan wees nie, is dit duidelik dat sy nie vir te lank stil kan sit nie: “Ek is ’n bestuurder by die restaurant: ek kyk of die mense in die kombuis hulle werk doen, proe of die kos nog op standaard is, sorg dat die klante gelukkig is. Ek maak ook my eie roomys!”

Milhaus is vir eers dié bedrywige paartjie, wat verlede jaar in Mei getrou het, se “kind” en ’n regte pienkvoet sal vir eers moet wag: “Ons het dit bespreek, maar Milhaus gaan nog deur baie groeipyne. Sodra ons lewe meer stabiel is, gaan ons definitief met ’n gesin begin.”

Stephan en Jana in Milhaus FOTO: Verskaf

Stephan en Jana by hul restaurant, Milhaus
FOTO: Verskaf

Jana oor die einde van Vallei van sluiers

Hoe voel jy daaroor dat die reeks tot ’n einde gekom het?

Dit is hartseer, maar ek dink tog dit het goed geëindig. Ek is baie trots op die produk wat gelewer is. Dit het soveel deure oopgemaak en so baie geleenthede geskep.

Wat was die hoogtepunt van Vallei van sluiers?

Die mense saam met wie ek gewerk het. Dit was regtig vir my ’n groot voorreg om met mense soos Elizabeth Archer (regisseur), Michele Burgers (Emma) en Nico Panagio (Jacques) te werk. Ek het baie by hulle geleer. Dit het ook baie vir my selfvertroue beteken.

Jana en Michele Burgers FOTO:  kykNET

Jana en Michele Burgers op die stel van Vallei van Sluiers
FOTO: kykNET

Wat is die ooreenkomste en verskille tussen jou en jou karakter? 

Monique is impulsief en sy volg haar hart en ek doen presies dieselfde. Maar ek het nie ’n ryk pa soos Monique nie. Tog, toe ek die karakter vir die eerste keer moes vertolk, het Elizabeth vir my gesê ‘wees maar net jouself, want die karakter is maar wie jy is’.

Hoe voel jou man oor jou romantiese tonele op die stel?

Hy hou nie daarvan as ander mans vir my komplimente gee nie. Tog het ek glad nie ’n jaloerse man in daardie opsig nie. Hy was eenkeer op stel toe ek en Nico juis ’n liefdevolle toneel geskiet het. Hy was glad nie ongemaklik nie.

Voel jy soms, omdat jy so mooi is, jy harder moet werk om te bewys dat jy nie net ’n mooi gesiggie is nie?

Dit is ’n baie groot kompliment. Ek het al by baie mense gehoor dat ek nie besef hoe ek lyk nie. Ek verkies om dit so te hou. My grootste ding is om altyd myself te wees en vir mense te wys dat ek professioneel is, hard werk en altyd meer wil leer.

Lees nou