sr1002praatmet_6_
Ons praat met

Van 7de Laan tot Survivor – Nico Panagio bly koelkop

Nico Panagio kom oor die spierwit sand aangestap. Kaal bolyf, gespierd en bruingebrand, ‘n vilthoed op sy kop. Dis nie net die weer wat vandag warm is hier op die Mosambiekse eiland Santa Carolina nie.

Oh. My. Word. He’s hot,” kwyl ‘n mede-joernalis hier naby my.

Ja, hy is. Dis immers een van die redes hoekom hy gekies is om die aanbieder van Survivor SA: Santa Carolina te wees. Dít en die feit dat hy beskik oor die drie kardinale eienskappe om die werk te doen, volgens Survivor SA-regisseur, Donald Clarke: Hy’t die nuuskierigheid van ‘n Debora Patta (ondersoekende joernalis), die skeidsregtervermoëns van Jonathan Kaplan (internasionale rugbyskeidsregter) en die waaghalsigheid van James Bond.

Om een van die aanbieders van die glansprogram Top Billing te wees het Nico ook goed voorberei vir Survivor SA, veral omdat ons hom aanvanklik as akteur leer ken het – as George Kiriakis in 7de Laan.

Nico is mal daaroor om op en oor goed te klim, sê sy vrou, die aktrise Christi Panagio (sy was Karien in 7de Laan). Hy’s ‘n gevorderde duiker, hy’s mal oor bergfietsry, hy’t al van die Bloukrans-brug in Tsitsikamma gerekspring en saam met haaie geswem – om net ‘n paar avonture te noem.

“Hy’t ‘n sterk persoonlikheid. Die deelnemers respekteer hom en hou van hom,” sê Donald.

“Nico het vir my gesê hy was nog nooit so op sy senuwees tydens ‘n oudisie soos vir Survivor nie. Sy hart het in sy keel geklop. Maar ek kon nie eens agterkom hy’s senuweeagtig nie. Dis hoekom ons hom gekies het. Hy’s ontspanne. Hy’s gemaklik in sy vel en tipies Suid-Afrikaans. Die aanbieder moet pret hê in Survivor en Nico hét pret.”

Jy sien Nico se kalmte met die opnames. In hitte van hoog in die 30 grade lyk dit asof hy nie eens sweet nie. Nadat ek ‘n paar dae op die eiland deurgebring het, is dit duidelik dat die reeks net so warm soos die weer gaan wees. Die bekendes, sonder om name te verklap, is van die A-lys: akteurs, TV-aanbieders, komediante en ‘n sterkman of twee. Een van die deelnemers is “Goliath” gedoop en het in een uitdaging die ander stam se deelnemers soos vlieë van sy lyf afgegooi. Wenk: Hy’s gewoond daaraan om te “spring”.

En raai wie wou nie haar gesig was nie omdat sy bang was haar vals wimpers kom af?

Soos Nico sê: Dis ‘n klomp kleurryke karakters. Dit werk omdat die meeste van die deelnemers die speletjie speel. Om huis toe te gaan is nie vir hulle ‘n opsie nie.

Vrydag 6 NOVEMBER 14:00 – Twee dae voor Nico eiland toe is

Nico is in Kaapstad, waar hy woon, besig om reg te maak vir sy vertrek na Mosambiek. Ons gesels oor die telefoon.

In Top Billing is jy gewoond aan glans. Dink jy dit gaan ‘n uitdaging wees om Survivor te hanteer?
Ek geniet die buitelewe meer as enigiets anders. Om die Survivor SA-aanbieder te wees is die ultimate job. Ek sien erg uit daarna. Ek verkies ‘n verlate strand bo ‘n vyfsterhotel, enige dag.

Die deelnemers is bekendes en daar’s ‘n kans dat jy van hulle gaan ken. Maak dit jou senuweeagtig?
Nie regtig nie. Gelukkig is daar niks wat ek kan doen wat hulle kan beïnvloed nie. Ek moet heeltyd objektief wees. Daar gaan altyd lede van die TV-span saam met my wees, so dit gaan onmoontlik wees om enigiemand voor te trek. Ek’s baie opgewonde om te sien wie op die eiland gaan wees.

Jy wou blykbaar eerder ‘n deelnemer wees?
Nie meer as wat ek die aanbieder wou wees nie. Ek’s mal oor Survivor. Ek kyk dit al jare lank.

Jy is geheg aan Christi. Hoe gaan dit sonder haar wees?
Erg. Sy gaan by haar ouers in Pretoria kuier en by vriende bly terwyl ek vir die maand weg is. Ons het mekaar 11 jaar gelede op dramaskool ontmoet en is in 2006 getroud. Ons het ‘n ruk gelede Kaapstad toe getrek, want dis rustiger hier. Sy is nou ‘n vryskut-akteur en doen soms werk as binneversierder. Sy is mal daaroor om kreatief te wees.

Jou jonger suster, Nicky ,sê julle was na aan mekaar as kinders. Is jy familievas?
Ja. My twee susters is ongelooflik. Hoe anders? Hulle is dan my ma se kinders. Sy was ‘n sterk vrou. Sy’s ‘n ruk terug aan kanker oorlede. Ek kuier gereeld by my susters. Nicky het pas haar B.A.-graad in sielkunde klaargemaak en my ouer suster, Angela, is ‘n skoonheidsterapeut.

Jy’s baie gelowig?
My gunsteling-tyd van die dag is die oggend. As alles doodstil is, is dit ‘n goeie tyd om te bid en my kop reg te kry vir die dag.

Mense sê jy het ‘n goeie humorsin?
Ek het. Ek gebruik dit om die spanning te verlig in enige situasie. Ek maak heeltyd grappies en lag, veral in moeilike omstandighede.

Jy was ook in die vloot?
Ek was een van die laastes wat diensplig gedoen het. Ek is mal oor die see en was vir ‘n jaar vloot toe. Daarna het ek ‘n ruk lank gehelp om my pa se skoonmaakmiddelonderneming te bestuur. Maar om akteur te wees was nog altyd my droom en ek het uiteindelik drama by ‘n dramaskool in Pretoria gaan studeer.

Wat dink jy gaan van jou ‘n goeie Survivor-aanbieder maak?
Ek kan op my voete dink. Ek gaan myself wees – ek hoop dis goed genoeg. Ek’s nog nie op my senuwees nie, meer opgewonde as enigiets anders.

Het jy enigsins voorberei?
Omdat ek die reeks gereeld kyk, weet ek hoe dit werk. Eintlik berei ek myself al die afgelope paar jaar voor! Ek is besig om na vorige episodes te kyk. Ek is darem al vir ‘n rukkie ‘n TV-aanbieder. Hopelik gaan alles oukei wees.

Donderdag 26 NOVEMBER 16:00 – Dag 16 op die eiland

Vroeër jare was Santa Carolina (ook bekend as Paradise Island) met sy casino en hotel ‘n speelplek van die wêreld se rykes en bekendes. Ná die burgeroorlog in Mosambiek, wat laat in die 70’s uitgebreek het, het niks daarvan oorgebly nie, buiten ‘n paar vervalle geboue. Ek en Nico sit op die grond van een van hierdie geboue en gesels. Ná ‘n lang dag in die son en see lyk hy koel in sy wit hemp en sandkleurige kortbroek.

Hoe kry jy dit reg om so vars te lyk?
Ek voel nie vars soos ek hier sit nie. Dis dalk my wit hemp wat my so laat lyk. My lyf het aangepas by die omstandighede. Die eerste paar dae hier het ek vreeslik gesweet. Dit was baie ongemaklik. Ek weet nou al hoe om my energie te spaar. Ek kom so veel as moontlik in die koelte en sit heeltyd sonskerm aan met ‘n UV-filter van 50, want die son is meedoënloos. Die deelnemers se vel is al op die derde laag soos hulle gebrand het.

Jy was opgewonde vóór jy gekom het. Is Survivor SA alles wat jy gedink het dit gaan wees?
Alles en meer. Ek slaap op die vasteland en staan soms soggens om vieruur op en kyk na die sonopkoms. Dan klim ek op ‘n boot om na die deelnemers se eiland toe te gaan. Ek kan nie glo hoe eg alles is nie. As jy in die bedryf werk, verwag jy dinge gaan smoke and mirrors wees. Toe ek hier kom, het ek gesien hoe moeilik dit regtig is en waardeur hierdie arme mense moet gaan. Dis erger as wat ek ooit gedink het.

Op TV lyk dit alles soos son, see en die wind in jou hare. Beskryf die omstandighede vir mense wat nie hier is nie.
Dit lyk mooi op prentjies, maar as jy nie beheer oor hierdie elemente het nie, word dit ‘n negatiewe ervaring. Die seewater is sout. Jy kan dit nie drink nie en jy’s dórs. Die deelnemers het nie toilette of toiletpapier nie. Elke stukkie kos wat hulle kry, moet hulle voor veg in ‘n uitdaging of dit iewers gaan uitgrawe of vang. Sowat 90% van hul kos grou hulle self iewers uit.

Wens jy steeds jy kon ‘n deelnemer wees?
Absoluut. Ek sien hoe die deelnemers elke dag positief verander. Hulle dryf hulself tot die uiterste en ontdek hulle kan dinge doen wat hulle nooit gedink het hulle kan nie. Waar anders gaan jy so ‘n geleentheid kry? ‘n Deel van my sal altyd weet ek kan Survivor nooit soos hulle ervaar nie. Ek is jaloers.

Is dit vir jou ook ‘n uitdaging om hier te wees? Jy’t dan jou eie grimeerkunstenaar!
Kyk, ons is onder dieselfde son. Ek het nie heeltyd kos en yskoue koeldrank tot my beskikking nie. Hier’s niks op die eiland nie en ons werk heeldag. Daar’s nie ‘n kameraman agter my wat my koel waai nie. My gesig word net gepoeier sodat dit nie moet blink nie. Maar ek moet sê, ek ervaar nie naastenby waardeur die deelnemers gaan nie.

Wanneer kry jy die deelnemers die jammerste?
Wanneer hulle uitgestem word. Hulle is dan baie emosioneel. Byna elkeen huil. Ek is gewoonlik die eerste mens met wie hulle daarna gesels en dan gee ek hulle ‘n drukkie. Een of twee het vir my gesê dis so ‘n verligting om met iemand te gesels wat nie ‘n verskuilde agenda het nie en vir wie hulle nie bang hoef te wees nie. Ek kry ook die stam jammer wat ‘n uitdaging verloor. Jy kan die teleurstelling in hul oë sien, veral as hulle kos verloor. Ek kan sien hoe hul moed in hul skoene sak.

Watter invloed dink jy het Survivor op die deelnemers?
Aan die begin kry hulle fisiek en geestelik swaar. ‘n Week later is hulle dalk moeg, maar iets skop in wat hulle dwing om te oorleef. Mense wat nooit vir hulself kos maak nie, vang krappe. Krappe! Hulle kook dit self en eet met hul hande. Selfs mense wat baie higiënies is, eet saam met ander uit ‘n pot en maak hul tande met stokkies skoon. Dis ook fassinerend om te sien hoe hulle hul eiewaarde op ‘n ander manier meet. Skielik het dit nie meer invloed om oulik, mooi, snaaks of ‘n blikskottel te wees nie. Nou is iets soos positiewe energie belangrik. Jy moet ‘n harde werker wees en deursettingsvermoë hê. Maak nie saak hoe seer jou spiere is nie, jy moet aangaan. Dis ‘n hele nuwe speelveld.

Sommige mense sien jou as ‘n pretty boy. Dink jy daardie persepsie gaan verander met Survivor SA?
Ja. In my beroep moes ek al waaghalsige dinge doen. Dis nie asof ek uit karakter is met Survivor nie. Ek voel gemaklik in hierdie omgewing.

Het jy ‘n definitiewe plan vir jou toekoms gehad nadat jy destyds besluit het om 7de Laan te verlaat?
Nee, ek het ‘n geloofsprong gemaak. Ek het hoop gehad en baie tyd op my knieë deurgebring. Ek het my alie afgewerk toe ek by 7de Laan was. Ek het van Maandag tot Vrydag vir hulle gewerk en naweke as seremoniemeester by geleenthede opgetree. Ek het geld gemaak, maar ek het byna nooit my vrou gesien nie. Ek het een dag by die huis gekom en gesê dis nie my lewe nie. Ek is mal daaroor om ‘n akteur te wees, maar nie só nie. Ek het genoeg geld gespaar om drie maande te kon werk soek. Ek’t besluit as ek ná drie maande nie werk kan kry nie, is ek in ernstige moeilikheid en moet ek ‘n ander beroep oorweeg. Nie lank daarna nie het ek Michael Mol raakgeloop en hy’t voorgestel ek doen vryskutwerk vir Top Billing. Ek’t ook in TV-reekse soos Ella Blue gespeel. Ná Survivor SA gaan ek weer toneelspeel. Ek beplan om terug te gaan Top Billing toe. Ek het nie my brûe daar verbrand nie.

Wat doen jy op die eiland as jy nie besig is met verfilming nie?
Ek bring so twee uur per dag op die see deur omdat ek nie op die deelnemers se eiland bly nie. Met laaggety vat dit my nog ‘n ekstra halfuur om by die boot te kom. Tussendeur toets ons die speletjies om te kyk of dit werk en sodat ek seker is ek weet hoe om dit aan die deelnemers te

10 DESEMBER 09:00 – Nico se laaste dag op die eiland

 
Nico is op pad terug na Suid-Afrika. Hy kan nie wag om by die huis te kom nie, sê hy.

Het jy gewig verloor op die eiland?
Ek dink so. Ons het baie gestap en ons moes self al ons toerusting en sakke ronddra. Ek dink dit gaan nou ‘n bietjie gemakliker wees om op die strand te lê met dié lyf.

Wat is die eerste ding wat jy gaan doen as jy by die huis kom?
Ek gaan my vrou soen.

Jou vriend, die sanger Winckler, wil weet of jy kans gekry het om jou sangtalent te ontwikkel met al die alleen-tyd op die eiland. Enige liedjies geskryf?
Ek kan ‘n album vol skryf oor die stories wat op hierdie eiland gebeur het! Pyn en lyding is mos ‘n goeie muse. Sê vir Heinz ek sing steeds net vir myself onder die stort.

Hy wil ook weet of jy ‘n skeermes kon saamvat, of het jy die Robinson Crusoe-voorkoms aangeneem?
Ek het ‘n baardknipper saamgevat sodat ek ‘n designer beard kon groei. Dis darem nie reg om skoongeskeer op Survivor te wees nie!

Hoe dink jy gaan kykers op die reeks reageer?
Goed, dink ek. Die deelnemers se emosies wissel blitsvinnig van woede na geluk na hartseer en dis ‘n verrassing om te sien wie goed vaar. Geen X-faktor-eienskap kan jou van ‘n plek aan die einde verseker nie.

Met jou wat so besig is, beplan jy en Christi om gou kinders te hê?
Dis beslis deel van ons beplanning. Ek kan nie wag nie, maar dis in God se hande. In hierdie stadium is ons ‘n bietjie te besig.

KYK DEUR NICO SE FOTO-ALBUM:

  • Chantel

    Mooi was nog NOOIT lelik nie!!! Jy bly sexy Nico!!!