sr1102gina_9_
Ons praat met

Van Ashley Judd na Bono van U2 in ‘n naweek

Gina Nelthorpe-Cowne is een van die vele Afrikaanse vroue wat hul ding baie suksesvol oorsee doen. Sy skryf vir SARIE hoe sy só al van die grootste name ter wêreld ontmoet het – hier is een so naweek in haar lewe.

Die aand se geleentheid saam met die lieflike Ashley Judd het ’n belaglike dress code Rock Star Chic. En daar is ons klompie toe die enigstes wat so aantrek – dieres van die mense is almal in tradisionele aanddrag. Ons is eers effens geïrriteerd,maar besef darem ook hoe komies dit is.

Ek en Jeanne arriveer met gróót hare en gróót grimering, swart leerklere, blinkers en 8 duim (20 cm) hoë Christian Louboutin-platformhakke. Ek het visnetkouse aan en die kortste mini denkbaar. Jeanne dra ’n stywe katpak van leer met ’n lae hals. Bob (Geldof) en Mark se uitrustings is darem nie so oordadig nie, hoewel Mark se T-hemp in ware rock-tradisie ’n paar lelike woorde in groot letters op het. Die paparazzi is mal oor ons!

Ashley gee ’n briljante toespraak oor haar onlangse Afrika-avonture en lyk soos ’n ware ster in haar pragtige lang rok. Ons kom so teen drie-uur die oggend in die bed.

Die volgende dag is dit New York toe vir Bob se verjaardag. Die aand gaan kyk ons na ’n toneelstuk van sy vriendin, die vervaardiger Sonia Friedman, op Broadway en gaan toe na Milos, ’n ongelooflike seekos-restaurant in West 55th Street, vir aandete. Ons vier Bob se verjaardag saam met Sonia, een van die toneelstuk se aktrises (ook ’n Gina), Bono,The Edge (David Howell Evans, U2 se kitaarspeler), die eienaar van MTV en ’n grootkop-Hollywoodrolprentvervaardiger wie se naam ek nie kan onthou nie.

Bono in sy kenmerkende donkerbril sit heelaand langs my en ons deel ons vis, ons grappe en ons stories. Op een perfekte oomblik neurie hy selfs ’n Frank Sinatra-wysie.

Ek kan nie onthou wie dit eerste opgelet het nie, maar in die begin van die aand het ’n taamlik vreemde karakter van nêrens af by ons tafel aangesluit. Almal het gedink sy is saam met een van die ander gaste daar, maar uiteindelik besef ons toe niemand in ons geselskap het ’n idee wie sy is of waar sy vandaan kom nie. Sy het byna die hele aand met Bob gesit en gesels. Ek dink hulle het waarskynlik hul slakke en mossels ook gedeel. Nodeloos om te sê, sir Bob was ontsteld, om dit sagkens te stel, toe hy aan die einde van die aand besef hy het heeltyd ’n indringer onthaal!

Net in New York sal iemand dít probeer …en daarmee wegkom.

U2 kom in Februarie SA toe