Ons praat met

Gavin Hood: Van Hillbrow tot Hollywood

Hy het ruite gewas in Los Angeles, was ’n lorriebestuurder vir ’n blomwinkel in Engeland en ook ’n rukkie prokureur in Johannesburg. Dis waar Gavin Hood se pad 40 jaar gelede begin het – in Hillbrow, toe deur die noordelike voorstede van die stad en verder, met ’n gewroeg deur die woeste tye van die tagtigerjare. Tot waar hy nou is. Binne-in Hollywood en die res van die filmbedryf.

Gavin word tans beskou as een van die suksesvolste regisseurs en draaiboekskrywers wat ons land tot nog toe opgelewer het.  Dit wil begin lyk of hy nie kan foute maak nie. Hy is so in aanvraag vir media-onderhoude en ander rooitapyt-geleenthede dat dit moeilik is om hom in die hande te kry. Maar as jy wel by hom uitkom, is hy vinnig. Professioneel. Vriendelik. Sy integriteit straal dwarsdeur die rekenaarskerm, deur sy antwoorde tot binne-in jou verbaasde gemoed. ’n Man met ’n siel, voel jy. En jy voel self so ’n bietjie trots, so asof jy iets met die sukses van dié Suid-Afrikaner te doen het . . .

Gavin is in Los Angeles. Dis die dag van die Golden Globe-toekennings en ek bombardeer hom uit Suid-Afrika met klein vragies soos “Vertel my van jou kleintyd” en “Hoe voel dit?”. Ten spyte daarvan dat een van sy grootste aande voor hom lê – sy fliek Tsotsi is benoem vir twee Golden Globes – verloor hy nie sy cool nie. Antwoord beleef en deeglik. (Hy’t toe nie gewen nie, maar Tsotsi is ook benoem vir ’n Oscar as Beste buitelandse rolprent.)

’n Klein vraag het soms ’n groot antwoord. Dis dalk dié eienskap wat hom bo die res plaas. Van ego is daar nie sprake nie. Hy is ’n man van erns, een met ’n boodskap. En dit wys. Tsotsi is maar sy derde vollengte fliek, maar dit het die wêreld op hol. Kritici besing dit as “roerend”, “eerlik”, “’n kragtoer van ware, menslike drama … ’n verhaal wat jou lewe kan verander”.

En die pryse en benoemings rol in:
* Daardie Oscar-benoeming . . .
*Baftas (Britse Akademie se filmtoekennings) – benoem as Beste film en Beste vervaardiger
*Golden Globes (filmkritici se toekennings) – benoem as Beste film, Beste regisseur
*Edinburg Internasionale Filmfees 2005 – wenner van Beste nuwe Britse film (die vervaardiger is    Brits) en People’s choice-toekenning
*Toronto Internasionale Filmfees 2005 – People’s choice-toekenning
*Los Angeles AFI Filmfees 2005 – People’s choice-toekenning
*St. Louis Internasionale Filmfees 2005 – People’s choice-toekenning
*Kaapstadse Wêreld-kinefees 2005 – Beoordelaarstoekenning
*Denver Internasionale Filmfees 2005 – People’s choice-toekenning
*Thessaloniki-filmfees 2005  – Griekse Parlement se Human Values-toekenning

Is dit ’n hand vol, of wat?
 

Tsotsi is ’n tipies Suid-Afrikaanse verhaal, gegrond op Athol Fugard se gelyknamige roman. Dit speel hom af in Soweto en volg ses dae in die lewe van ’n jong straatseun, ’n taai en aggressiewe bendeleier wat per ongeluk ’n baba ontvoer as hy iemand se BMW steel. Ons sien die drama tussen die ma se pyn en Tsotsi se besef dat hierdie situasie buite sy verwysingswêreld is. Dit word ’n psigologiese riller. Maar die ontplooiing, die manier waarop Tsotsi sy eie aksies en karakter ondersoek, plaas dit in ’n ander liga as net nog ’n gangsta hip-hop movie. Dit laat die kyker met hoop. Peter Fudakowski, vervaardiger, is verstom oor Tsotsi se sukses. “Dis al deur honderde verspreiders wêreldwyd uitgereik en dit hou net aan pryse wen!”

Gavin se vorige twee flieks het albei ook die aandag getrek. Sy lae-begroting-eersteling, die bekroonde A Reasonable Man, het mense laat regop sit. Hy is in 2000 by die Sundance-filmfees in die VSA deur Variety aangewys as “een van tien regisseurs om dop te hou”. Vir sy tweede fliek, In Desert and Wilderness (’n Afrika-avontuur gemik op kinders, geskryf deur die Poolse Nobelpryswenner Henryk Sienkiewicz), is hy gehuur as regisseur.

Hoewel die fliek in Afrika afspeel, moes dit in Pools wees. Gavin het die kans aangegryp, en gewapen met sy kennis van die vasteland, ’n Poolse tolk en sy kamera is hy die bosse in. Dié fliek het gesorg vir die grootste inkomste by die Poolse loket in 2002 en is in dieselfde jaar bekroon as Beste Rolprent by die Chicago Internasionale Kinderfilmfees.

Vertel iets van die agtergrond van Gavin Hood?

Ek is in Hillbrow gebore. Albei my ouers was akteurs. Teen my vyfde verjaardag het hulle besluit hulle het albei ’n “behoorlike” werk nodig en dis hoe ons in die noordelike voorstede beland het. Daardie tyd kon ons nog kaalvoet in die veld rondhardloop en in riviere speel – laasgenoemde was glo vol bilharzia. En, ja, daar kry ek dit toe! My ma het gaan onderwys gee en my pa, met ’n graad in argitektuur, het vir Southern Sun hotelle gaan bou. Praat van ’n verandering. Hy het so goed begin doen dat hulle my na ’n private skool kon stuur. Ek is later Wits toe om in die regte te gaan studeer. Dit was in die tagtigerjare . . .

Ek weet jy was van vroeg reeds polities en sosiaal bewus. Hoe het jy dié tyd aan Wits beleef?

Ja, dit was ’n baie, baie intense tyd. Dit was toe die regering al hoe meer onderdrukkende wetgewing begin instel het. Ons het betoog. Ons is met traangas gegooi. ’n Skoolvriend van my is in Angola op die grens doodgeskiet. Ek was baie kwaad en baie deurmekaar. Een naweek – nadat ek en 127 ander studente kortstondig in die tronk gegooi is ná ’n “onwettige byeenkoms” – het ek gaan sit en ’n passievolle artikel geskryf wat die onpartydigheid van die reg bevraagteken het en ’n beroep doen op ons regters om in die openbaar teen apartheid te praat.

Die artikel is ten volle gepubliseer as ’n dubbelblad – in die Saturday Star, as ek reg onthou. My professors het daarvan gehou, maar ek het ook dreigoproepe en -briewe gekry. Twee van ons klasmaats het “permanent” tronk toe gegaan. Ek is nie trots om dit te sê nie, maar ek was bang. Die malheid van daardie tyd . . . Ek het die regte geniet, maar besef ek is heeltemal te emosioneel vir die regswêreld. Die filosofie daaragter fassineer my steeds: Die morele en etiese dilemmas van moeilike sake. As ’n skrywer en rolprentmaker kan ek dit egter kombineer: Ek kan die grys gebiede ondersoek.

Hoe kom jy toe by flieks uit?
Fotografie was ’n stokperdjie op universiteit. Ek het ook bietjie in verhoogstukke gespeel. Ek wou baie graag draaiboeke skryf en self flieks maak, maar my idee destyds was dat dit “oorsese” mense is wat dit doen . . . Onthou, ons het eers in 1976 televisie gekry. En toe was dit Dallas en The Brady Bunch, so dit het nie soos ’n moontlikheid gelyk nie! In 1989, toe maak ek die sprong. Om eerlik te wees, ek het jare lank soos ’n lafaard gevoel dat ek nie vroeër my hart gevolg het nie.

Het jy eers in SA probeer?

Ja. My eerste werk was vir ’n advertensiemaatskappy – ek moes locations afneem. Toe kry ek ’n rol as akteur in ’n klein verhoogdrama. Met min geld. Maar die resensies was positief en so beland ek toe in The Game. (As jy nie kan onthou nie – The Game was destyds ’n sepie oor rugbyspelers, en baie gewild.) My medespeler was Zane Meas, hy was die “bruin” ou in die wit spel van rugby. Ons het groot vriende geword, in die verhaal, maar ook in die werklike lewe. Ek dink tot vandag toe The Game het ’n groot boodskap in ’n belangrike tyd uitgestuur. (Onthou, dit was 1989!) Johann Potgieter, die skrywer en vervaardiger, het goeie werk gedoen.

En die sprong Amerika toe?

Regdeur die verfilming van The Game het ek nagelees oor draaiboekskryf en regie. Daarna het ek letterlik alles wat ek het, verkoop en aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles (UCLA) ingeskryf, waar ek ’n aandkursus in regie, skryf en kinematografie gedoen het. In die dag het ek (onwettig!) gewerk om myself aan die gang te hou. Ek was onder meer ’n vensterwasser, ’n riviergids, ’n troufotograaf …

So nou en dan selfs ’n akteur, maar gewoonlik in kleiner en regtig slegte produksies. Die tyd in LA was opwindend, ek was totaal omring met wat ek wou doen. Maar . . . ek was al in my vroeë dertigs, en het begin dink ek het te lank uitgestel. Deur die jare, as ek nie geld kon kry vir rolprente nie, of as ek in swak produksies moes optree om te kan oorleef, het ek dikwels gedink ek het ’n groot fout gemaak. Vandag weet ek: Ek het nie. Ná UCLA was ek vir drie jaar terug in SA, het vir die department van gesondheid “opleidingsdramas” geskryf en gemaak. Onderwerpe soos vigs, TB, tienerprostitusie, dwelmmiddels . . . Ek het baie in die townships gewerk en het ’n klomp tawwe kids ontmoet.

Soos in Tsotsi?
Ja, net so. Toe volg A Reasonable Man. Maar ek moes eers die draaiboek, wat ek op filmskool begin het, verfyn. Ek is Engeland toe daarvoor. In 1998, uit pure desperaatheid, het ek ’n kortfilm (The Storekeeper) geskryf en vinnig in Suid-Afrika kom skiet. Toe begin dié klein filmpie oral pryse wen by filmfeeste en uiteindelik kry ek toe ’n bietjie geld om A Reasonable Man te maak, wat ons binne vier weke in 1999 geskiet het. Ek het my Amerikaanse groenkaart (werk-enverblyfpermit) op grond van dié kortfilm en my benoeming op die Variety-lys gekry.

GUNSTELINGE

KOS Avokadopere

DRANKIE Bergwater – nie uit ‘n bottel nie!

PLEK Die Oranjerivier deur die Richtersveld

BOEK Immortality deur Milan Kundera

FLIEK Jongste, Brokeback Mountain

REUK Lemoenbloeisels in ‘n volle boord

GESEGDE Izandla ziyagezana – dis Zoeloe vir: Die een hand was die ander, ons kry niks op ons eie reg nie.

Waaruit het jy tot dusver die meeste geleer?
Om in Suid-Afrika te leef. Ons is ’n passievolle, ingewikkelde, somtyds aggressiewe spul, en tog, verbasend, soms ongelooflik erbarmend. Deernisvol.

Hoe het Tsotsi gebeur?
Ek het die boek sowat tien jaar gelede gelees, maar toe was die filmregte reeds verkoop. Peter Fudakowski het my een dag gebel, hy het A Reasonable Man gesien en vra my uit die bloute oor Tsotsi. Of ek dit al gelees het, wat ek daarvan dink? Ek het gesê ek hou van die universele temas van bevryding (redemption) en vergifnis. Dat dit ’n tydlose coming of age-storie is. Peter was besig om te onderhandel om die regte oor te koop en vra toe of ek die draaiboek wil skryf en die regie doen. Ek het natuurlik dadelik ja gesê.

Sal jy altyd Suid-Afrikaanse stories vertel? Is ons nie “klaar” met die verlede nie?
Ek dink nie enigiemand is ooit regtig “klaar met die verlede” nie, dis so ’n reuse-deel van wie jy is. Maar, ek hou van alle stories. Ek hou van movies! Dit gee ons kans om ander wêrelde te besoek en ondersoek, anders as ons eie. Ek het beslis aanvanklik nodig gehad om SA stories te vertel sodat ek self die wêreld waarin ek grootgeword het, kon verstaan. Maar so het ek nou ook al in Brittanje en die VSA gebly, en daar ontstaan dan nuwe idees. Die absolute wonder van flieks maak, is dat jy die kans kry om geskiedenisse, mense, karakters te ontdek wat jy andersins nie sou nie. Maar natuurlik wil ek nog stories van SA vertel!

Hoekom sukkel die SA filmbedryf so? Ons het tog die stories en die mense om dit te vertel?
Ek dink ons is – veral gedurende apartheid – nooit aangemoedig om onsself openlik en eerlik uit te druk nie. Natuurlik is ons ook eers in die laat-70’s aan TV bekend gestel. Daar was sensuur. ’n Legio redes. Ek dink wel die afgelope twintig jaar het ons – veral op advertensievlak – geweldig gegroei. Ons soek egter nog die storievertellers. Vertellers met die nodige begrip van tema, kinematiese pas, ritme, karakterontwikkeling . . .

In die VSA en elders word rolprentstudies ernstig bejeën. En dis hier waar ons tekort skiet, ouens hier dink nog daaraan as ’n tegniese veld. Ons moet leer oor die kuns van stories vertel, van mitologie, filosofie, wat dit beteken om méns te wees . . . Maar ek dink ons gaan oukei wees. Ons maak nou meer flieks as ooit, en ons skrywers en regisseurs word al hoe beter.

Woon jy nog in Suid-Afrika?
Ek leef tussen Los Angeles en Suid-Afrika. Los Angeles is die plek waar ek geld kan kry om draaiboeke te ontwikkel. Ons bedryf tuis is ongelukkig te klein om sulke ontwikkeling te steun. Onthou, verreweg die meeste flieks wat gemaak word, verloor geld. Los Angeles is die een plek waar die bedryf stewig genoeg is om kanse te vat. Maar Suid-Afrika bly my huis.

Het jy ’n rolmodel?
Ek dink Ang Lee, die regisseur van Eat Drink Man Woman, Sense and Sensibility, Crouching Tiger, Hidden Dragon en nou die uitstekende Brokeback Mountain. Ang is ikonies. Sy werk is universeel, hoewel hy voortdurend in verskillende kulturele omgewings werk. Sy begrip van wat ons almal as mense gemeen het, is absoluut inspirerend.

Het jy ’n volgende projek in gedagte?
’n Paar, maar dinge rafel soms so vinnig uit dat ek nie kan sê voordat ek nie heeltemal seker is nie. Tans is ons in elk geval só besig om Tsotsi wêreldwyd te bemark dat dit ’n hele rukkie gaan neem voordat ek by my volgende rolprent uitkom!

Wat anders sou jy wou doen as flieks maak?
Op lug dryf. Onderwater asemhaal . . .

Die sin van die lewe?
Om soms net te sê: “Ek weet nie” is veel dapperder as om te sê: “Ek weet”. Dit maak jou oop vir menige mitiese maniere om die wêreld om jou te beleef, die skoonheid te sien. Ek glo in a sense of wonder, en in deernis in hoe mens met ander mense omgaan. As daar ’n lewe hierna is, hoop ek dit is so opwindend soos dit kan wees reg hier op hierdie planeet as dit geleef word met passie, daardie sense of wonder en deernis.