Ons praat met

Vanessa Haywood: Distrik Sexy

Die branders en die vars seelug, om saam met vriende te lag, perdry op die strand . . .

Dis die balans wat Kaapstad in haar lewe bring, vertel Vanessa Haywood in haar sagte altstem.

Vanessa werk sowat vyf maande van die jaar in die Kaap, maar woon eintlik in ’n meenthuis in Bryanston, Gauteng, saam met een van haar susters, Kim,’n radio-platejoggie en joernalis vir 5FM, en hul DBVbrakkie, Thandi.

Hoewel haar hele lewe verander het ná die sukses van District 9 (sy het die rol gespeel van Wikus van der Merwe se vrou, Tania), bly dié blondine met haar perfek gemanikuurde naels en Sports Illustrated-lyf steeds die “plaasmeisie van Pietersburg” wat glad nie omgee om lekker Afrikaans te praat nie.

“My ma, Caroline, ’n verpleegster, en pa, Eric, ’n boer, het ons drie dogters streng grootgemaak. My ma se trots was haar groentetuin – 80 m lank en 20 m wyd. Sy het vir almal groente uitgedeel.”

Dís hoekom Vanessa vandag nog gesond eet. Maar wanneer sy en haar beste vriendin, die model Sjaniël Turrell, en dié se man, Dale, en hul 2½-jarige seuntjie, Jaden, gaan
piekniek hou op Kampsbaai se strand, kan sy haar vergryp aan happies en klink sy graag ’n glasie Veuve Clicquot Reserve of ’n koue Hamilton Russell Chardonnay.

As sy haar stapstewels aantrek en Tafelberg uitklim, trek sy die lug diep in en verkyk haar aan die Kaap daar van bo af nadat sy ’n koppie koffie by die restaurant gedrink het.

 

Ek is ’n fiksheidsbesetene.

 

“Ek het ál die ‘fases’ van die berg beleef. Die ‘ou’ kabelkarretjie van my kinderjare, die moderne een én die paadjies boontoe. Die berg betower my elke keer. Ek is ’n fiksheidsbesetene. Ek glo veral aan waterterapie. Perdry is ook wonderlik.Om by Noordhoek langs die strand te ry en die wind deur jou hare te voel en die seereuk in te asem is kos vir die siel.”

Vanessa is ’n opgeleide fiksheidsinstrukteur wat ook onlangs aan die Knysna Groot 5-uitdaging deelgeneem het wat van ’n halfmarathon tot ’n bergfietswedren insluit, alles
ten bate van die Starfish Greathearts-stigting vir vigswesies. Sy stel belang in omgewingsake en het onder meer help aanbied aan AgriTV op SABC2, die  natuurprogram Groen op kykNET en talle dokumentêre programme oor die  natuurlewe, ook vir internasionale TV-stasies.

“As Christen ervaar ek ’n intense verhouding met God wanneer ek duik of branderplankry by Muizenberg. Dis asof jy een is met die natuur. Die adrenalienstuwing wat jy kry as die golf aankom en die vryheid wat jy voel wanneer jy die golf ry en op die branderplank klim, is net onbeskryflik.”

 

As Christen ervaar ek ’n intense verhouding met God.

 

Sy kry ’n gloed op haar wange as sy vertel hoe sy gevryduik het saam met haaie in Mosambiek, Costa Rica, die Maledive en in die Mediterreense see.

“As daar weer iemand spesiaals in my lewe kom, sal dit ’n voorvereiste wees dat hy ook hou van reis. Ek was van 2005 tot 2007 getroud en ons is nog goeie vriende, maar ek was te jonk. Nou is ek weer gereed om my lewe met iemand te deel.

“Veral verlede jaar, met die suksesse en stres van District 9, was die lewe soms eensaam. Ek het ook my ware vriende leer ken. Sommige mense kan baie geniepsig wees as jy suksesvol raak.”

Onlangs het sy klaargemaak met ’n onafhanklike Britse rolprent, die romantiese drama The Sweet Shop, wat September internasionaal uitgereik gaan word.

“Verlede jaar is ek Hollywood toe om dinge te gaan deurkyk, maar ek het my vervies vir mense wat van my verwag het om ’n tweede Charlize Theron te wees. Die druk was enorm.

Ek het besluit ek wil in Suid-Afrika bly. Dís huis. En Kaapstad is my spirituele tuiste.”