sr1108lewe_dinge_6_
Ons praat met

Vaughan Gardiner SA se volgende groot ster

Op 24 is hy goed op pad om ’n sanger van statuur te word. En die dramaturg Deon Opperman maak van hom ’n akteur in sy kykNET-dramareeks Hartland.

Is jy Sean Else se nuwe protégé?
Ek dink so, ons sal maar sien.

Hy gaan van jou ’n ster maak!
Daar is soveel mense na wie ek opkyk. Sean is een van hulle. Deon Opperman ook.

En nou speel jy Brümilda van Rensburg se kind in Hartland?
Ja, en Johan Scholtz speel my pa. Dis ‘n groot eer. En jy het seker gesien wie almal in Hartland speel . . .

Dis almal swaargewigte.
In die begin het ek gedink ek gaan starstruck wees. Ek moet sê, ek was eerder geïnspireer deur hulle as wat ek bang was.

Die nuwe tendens is sangers wat akteurs word.
Alles is onder een sambreel van kuns.

Speel hulle maar nie in elk geval toneel op die verhoog nie?
Eerder hulself.

Is dit soos modelle wat ook wil toneel speel?
Dis soos akteurs wat ook wil sing. Soos ek sê, dis alles onder een sambreel.

Waar het Sean jou opgespoor?
Ek het ’n paar jaar terug aan ’n soort Mnr. en Mej.-kompetisie deelgeneem, en Sean het ge-MC by die geleentheid. Dit was nog voor Bok en Lianie May.

Was dit soos ’n skoonheidskompetisie?
Ja.

Waarvoor wil jy bekend wees? Sanger, filmster of ernstige akteur?
Ek wil goed wees in alles wat ek doen.