Ons praat met

Veelsydige Milan Murray: aktrise, sangeres, skrywer. Wat volgende?

Ons het haar in haar eerste groot TV-drama gesien met Song vir Katryn, maar Milan Murray (35), van Linden, Johannesburg, was ook bekend vir haar spel in sepies soos Isidingo en Binnelanders. Deesdae is sy boonop een van die aanbieders van Ontbytsake op kykNET.

Én dan is daar die nuwe CD, Ontbytsake en vriende . .
 
Waaroor gaan Koemelaat?
Dis my eerste boek. `n Eerlike tong-in-die-kies kykie na mawees  Dít moes op my groei soos mos op `n nat weskusklip. Die boek moes als vertel van borsvoed, dissipline, lyfstraf en seks ná kinders – This book calls a spade a damn shovel. Ek was nog altyd lief vir skryf. My wiskunde huiswerk was nooit gedoen nie, maar my opstelle was die volgende dag op Juffrou René se tafel. Dis sý wat op my laaste skooldag vir my gesê het: `Moet nooit ophou skryf nie.’ (Hou sarie.com dop vir meer hieroor)
 
En nou hoor ons jy kan sowaar sing ook . . .
Die CD Ontbytsake en Vriende was alles aanbieder Jan Harm se skuld. Hy het op ons algemene jaarvergadering by kykNET voorgestel dat ons `n CD opneem vir die pret. En ons gee al die geld vir liefdadigheid – Helpende Hand. Niemand het eers gedink daar sal iets van die CD kom nie. Ons het dit baie geniet. Helpende Hand  werk vreeslik baie met kinders in Afrikaanse gemeenskappe. Die Springbok rugbyspeler Victor Matfield is ook by HH betrokke.

Watter musiek sing julle op die CD?
Ek sing “Breyten se brief“ saam met Jan Blohm, “Stof“ saam met Klopjag en `N1 Roete Noord“ saam met Lucas Maree en Manuel Escorsio. “Stof“ is my gunsteling. Dit was só fantasties om saam met Klopjag te werk. Hulle het vir my Mexican Waves agter die glas gemaak in die klankateljee gemaak as ek die note bykom.
 
Vanwaar jou sangloopbaan?
Ek sal myself nie sommer as sanger beskryf nie. Ek is lief vir sing en kom van `n uiters musikale familie. Ek het in die Kaapse jeugkoor gesing toe ek jonger was en sang was een van my vakke as student. Maar ek noem myself nie sanger nie. Seker maar omdat ek dit pes dat sangers hulself akteurs noem. Let op die suur druiwe …
 
Wat het jy als geleer deur deel te wees van dié CD-projek by gesoute name indie bedryf soos Mel Botes, wat die verwerkings gedoen het en musikale regisseur was, Coenie de Villiers, Jan Blohm, Lucas Maree, Manuel Escorsio …?
Dit verstom  my dat die ouer kunstenaars – hetsy op die verhoog of agter die mikrofoon – altyd die kleinste ego’s het. Iemand soos Sandra Prinsloo, met wie ek tans optree in die verhoogstuk `Vergenoeg“, is ongelooflik. En ek het by Coenie geleer dat mens nie noodwendig loud, boheems en eksentriek hoef te wees om jouself `n kunstenaar te noem nie.
 
Watter projekte doen jy als op die oomblik?
`Vergenoeg’ saam met Alexa Strachan en Sandra (regie deur André Odendaal) vir die kunstefeeste. Ek het twee feeste gedoen met `Taraboemdery’ saam met Neil Sandilands. En ek werk aan `n eenvrou-vertoning, `Gefop’. En dan natuurlik is ek een van die aanbieders op Ontbytsake.
 
Hoe maak jy tyd vir als – en `n man en kinders?
Toneelspel is my hartklop. Ek moet eenvoudig tydmaak vir my loopbaan sodat ek `n beter vrou vir my man en `n beter ma vir my kinders kan wees.
 
Wat is als in die pyplyn vir die toekoms?
Ek wil niks jinx nie. Maar ek is nog lank nie klaar op die verhoog en voor die kamera nie. Daai groot fliek lê vir my en wag …

  • adele

    Hi Milan
    Ek is absoluut mal oor jou. Jy kom altyd vrolik, sag en borrelend voor. Baie sterkte met als op jou kerfstok. Ek kan nie wag om jou boek te lees nie (ek is nou swanger met my 2de een)