Viljé Maritz FOTO: Facebook

Ons praat met

Akteur, prokureur, vlieënier… Viljé Maritz droom groot

In Januarie het akteur Viljé Maritz nog beplan om sy studies in BCom(Regte) te begin, maar toe ander geleenthede instroom, moes hy dié droom eers opsy skuif.

“Ek sou dié jaar inskryf vir ’n BCom(Regte)-graad by Unisa en het selfs al my studentenommer gehad,” vertel Viljé, wat in Januarie vir SARIE gesê het hy glo niemand kan kennis ooit van jou af wegneem nie. “Maar toe is ek skielik in twee toneelstukke én ek het fliekvooruitsigte gehad, so toe moet ek dit eers los,” sê die Swartwater-akteur.

Maar dit beteken nie dat hy dié droom gaan laat vaar nie. “Ek glo dit is steeds in die pyplyn, maar in ons industrie [as akteur] is dit moeilik om vooruit te weet wanneer jy besig sal wees. Jy moet óf besluit om dit voluit te doen, óf jy moet jou graad in omtrent ses jaar doen en elke jaar net drie vakke vat.”

Aktrise én prokureur Jena Dover groet die regswese

Maar ’n loopbaan in die regswese is nie al waaroor dié talentvolle akteur droom nie. Nog ’n lewenslange droom van hom is om ’n vlieënier te word. Dít sal egter moet wag – nie net totdat hy meer tyd het nie, maar ook vir wanneer hy genoeg geld bymekaar gemaak het.

Bekendes se ander werke

Intussen is hy in twee produksies by vanjaar se Innibos-kunstefees – Frats en 4000 myl – én hy speel binnekort ook in twee rolprente. Die toneelgogga het Viljé skielik gebyt nadat hy in graad nege gevra is om twee lyne in ’n skoolproduksie te sê. “Ek het nooit beplan om ’n akteur te wees nie. Dit het my net skielik gegryp en nou is dit wat ek doen.”

In 4000 myl speel die jong akteur, wat al in Binnelanders, Liefste Kayla, Donkerland én Verraaiers was, teenoor Annelisa Weiland.

“Dis awesome om saam met Annelisa te werk. Sy is so plat op die aarde. En sy is ’n ongelooflike sterk verhoogaktrise – sy word heeltemal ’n ander mens, ek sou nie kon sê dis 7de Laan se Hilda nie,” vertel hy.

Annelisa Weilandt keer terug na die verhoog

Hy en Francois Jacobs, wat ook in Donkerland gespeel het, is saam in Frats. Sy pa, Albert, is die regisseur van dié produksie. Hul voorbereiding hiervoor het ietwat verskil van hoe akteurs en regisseurs produksies normaalweg aanpak …

Viljé Maritz, Leandie du Randt en Francois Jacobs FOTO: Instagram (@leandiedurandt)

Viljé Maritz, Leandie du Randt en Francois Jacobs. Viljé en Francois speel roeikampioene wat tydens ‘n wedvaart langs die oewers van die Krokodilrivier gestrand raak in Frats.
FOTO: Instagram (@leandiedurandt)

“Ons het altesaam net sowat 6 dae regtig saam gerepeteer,” vertel hy hieroor. Die res van die tyd het hy en Francois hul lyne vir mekaar gelees in Johannesburg en daarna deur Skype gerepeteer. Albert het hulle dan vanuit Kaapstad deur die rekenaar geregisseer.

Viljé en Louw Venter praat oor hul planne vir 2014

“Dit was moeilik, maar dit het baie gehelp. Ons sou nie nou gereed kon wees vir Innibos as ons dit nie só aangepak het nie.”

Viljé staan ook nie lank stil nie. Ná Innibos in Julie begin hy Augustus aan Die Pro verfilm. Dié fliek is gebaseer op Leon de Villiers se bekroonde jeugroman oor ’n branderplankryer wat sy beste vriend in die see verloor. En volgende jaar werk hy saam met André Odendaal en Tinarie van Wyk-Loots aan ’n “spanningsvolle verrassingsfliek”.

Janee, vir studies sou dié besige akteur vanjaar maar moeilik tyd bymekaar moes skraap!