sterling_eq_with_romanz
Ons praat met

Ons gesels met vroue-musiekgroep, Sterling EQ

Die vroue-musiekgroep Sterling EQ, met Carina Bruwer, Renate Riedemann, Eriel Huang en Ariella Caira, weet wat dit vat om voor duisende mense hul ding te doen. is die  Hulle was al op gróót verhoë saam met groot name. Hulle wys vir sarie.com hul gunsteling-foto’s.

Wat doen julle vir Vrouemaand in Augustus?
Ons het bietjie tyd afgeknyp vir ‘n kort vakansie die begin van die maand, aangesien ons ‘n besige paar maande het wat voorle.  Na ‘n lekker rustige week het ons op Vrouedag-naweek vir die SA Heart Foundation by Sun City opgetree, en van daar is dit terug Kaap toe vir repetisies aangesien ons op 15 Augustus ons splinternuwe album begin opneem!  En dit is nie sommer enige album nie; dis een waarna ons, en veral ook ons Afrikaanse aanhangers, al baie lank uitsien.  Hierdie album is baie spesiaal aangesien ons ons gunsteling Afrikaanse liedjies van oor die jare gaan neem, en ‘n “Sterling-geur” daaraan gee.  Dit is harde werk om die liedjies te verwerk vir instrumente, maar ons geniet dit ongelooflik om teruggeneem te word na ons kinderdae, en met die beeldskone melodieë te werk.  Na die opnames is dit weer Johannesburg toe met ons vir 8 dae, waar ons op ‘n groot produksie vir Bidvest gaan werk, en aan die einde van die maand tree ons op by die bekendstelling van die Mail & Guardian “SA Book of Women”, ook in Johannesburg.

Wat beskou julle as jul grootste optrede nóg?
Om lewendig by die SAMA’s (South African Music Awards) op te tree, voor ‘n gehoor van omtrent 6000 (en natuurlik omtrent 40 miljoen wat die regstreekse uitsending gekyk het), was werklik ‘n eer en ongelooflik opwindend.  Hier het ons die verhoog gedeel met van SA se grootste kunstenaars, insluitend Parlotones, HHP, Soweto Gospel Choir, Romanz ens. En dit het regtig “groots” gevoel.  Ander hoogtepunte sluit in optredes by die IPL Kriekettoernooi (lewendig uitgesaai na biljoene kykers regoor die wereld), die opening van die FIFA 2010-kongres, optredes saam met Boney M in Doebai, en ons eie lewendige DVD-opname in die Artscape Operahuis.

Shop julle saam vir daardie pragtige rokke en verhoog-uitrustings?
Ja! Ons maak gewoonlik ‘n daguitstappie daarvan (met genoeg koffie en middagete om ons aan die gang te hou). Ons ken mekaar nou al so goed, en vertrou mekaar se oordeel, wat dit nogal makliker maak om die regte uitrusting vir elke dame te kies. Dit is natuurlik altyd ‘n uitdaging om ‘n stel uitrustings te vind wat goed saamwerk op die verhoog, maar steeds individualisties is; so ons inkopie-uitstappies is werp nie altyd ewe veel vrugte af nie, maar is altyd pret!  Soms dink ons ons moet ons eie modereeks begin, net jammer ons was almal so sleg in naaldwerk op skool!

Hoekom het julle besluit om uitsluitlik ‘n vrouegroep te wees?
Vroue speel soveel beter viool as mans!  Ha-ha, nee! Die konsep was van die begin af om ‘n groep te vorm wat modern en aantreklik is, maar natuurlik hoogs vaardig en talentvol om aan klassieke musiek ‘n heel-nuwe baadjie aan te trek. Die pret-element is deurgaans baie belangrik, en so ook die feit dat die musiek effens sexy is, en natuurlik die groep ook. Dis vir al vier van ons heerlik om so saam te werk, aangesien mens ‘n natuurlike vriendskap vorm, wat baie anders sou wees as daar mans betrokke was. Ons is gelukkig dat daar regtig geen spanning tussen ons is nie, iets wat mens soms by ander vrouegroepe kry nie. Ons benadering tot Sterling EQ is baie professioneel – pret en vriendskap is gelukkig deel daarvan, maar al vier van on sweet hoe belangrik die werk en die musiek is, en ons verstaan dat dit essensiël is vir die groep om ‘n hegte eenheid te wees, vir dit om suksesvol te wees.