rampai_mohadi
Ons praat met

Vrystaat! by die Oscars

Hou Suid-Afrika dop by vanjaar se Oscars.  Van Pretoria tot Soweto tot Mafikeng het ‘n konneksie met die 81ste Oscar-aand Sondag in die Kodakteater in LA.  Nie net sal die kleurryke Soweto Gospel Choir op die verhoog wees met ‘n Peter Gabriel-liedjie nie (sien nuusbrokkie onder), maar die skrywer van die boek waarop die veelbenoemde rolprent Slumdog Millionaire gegrond is, in Pretoria! Die adjunk-hoë kommissaris van Indië tans in Suid-Afrika, Vikas Swarup, het die boek, Q&A, geskryf en dis dié rolprent wat al ‘n string pryse gewen het.

 

Nog ‘n Suid-Afrikaner is te sien in die veelbesproke rolprent The curious case of Benjamin Button wat vir ‘n rekord 13 Oscars benoem is, met Brad Pitt in die hoofrol. Rampai K Mohadi (sien foto in galery) is in Mafikeng, Noordwes, gebore en het op 16 begin dans en net nooit weer opgehou nie. Vandag is hy nie net danser nie (hy was onlangs nog te sien in African Footprint), maar ook ‘n gerekende choreograaf, regisseur en vervaardiger. In die rolprent speel hy die karakter Ngunda Oti, gegrond op die ware verhaal van ‘n Kongolese pigmee, Ota Benga, wat in 1906 as ‘n frats in die Bronx-dieretuin in New York ten toon gestel is om die konsep van die ewolusie van die mens te bevorder!

 

The curious case of Benjamin Button is ‘n verwerking van ‘n F. Scott Fitzgerald-kortverhaal. Volgens kenners is Slumdog Millionaire se kanse goed om Sondag met nóg ‘n string pryse weg te stap. Moenie die Oscars se prag en praal Maandag 19.30 op M-Net (kanaal 101) op DStv misloop nie!