Ons praat met

Wat het geword van Gian Groen?

Gian Groen word geken as een van die land se top digterlike liedjieskrywers. Hy is meestal bekend vir sy liedjie “Vier Seisoene Kind” wat ook deur verskeie bekende sangers opgeneem is. Maar hy was vir ’n ruk uit die kollig – waarmee het hy homself besig gehou? SARIE.com gesels met hom hieroor én oor sy nuwe album, Dekade se Ballades.

Jy was vir lank uit die kollig – waarmee was jy besig?

 Ek is deur ’n egskeiding wat my hard aarde toe gebring het. Toe ek die geleentheid kry om kitaarlesse by ’n laerskool aan te bied, het ek dit met oorgawe aangegryp. Ek het so baie genot daaruit gekry dat ek dit steeds doen. Kinders doen wonderlike dinge vir ’n gebroke siel.

Waar woon jy nou? Inspireer jou omgewing jou om te skryf?

Ek woon steeds op Grabouw op ’n pragtige appelplaas en ja, inspirasie is volop.

Wat is die inspirasie vir jou nuwe album? 

Ek put inspirasie uit alles wat rondom my gebeur, daarom skryf ek altyd. Vir die nuwe album, Dekade se Ballades, het ons besluit om te fokus op die ouer liedjies wat nooit tot hul reg gekom het nie. Ons het ’n vars aanslag gebruik om hulle ’n bietjie meer gehoorvriendlik te maak en dan natuurlik ook ’n paar nuwe liedjies bygesit.

Gian Groen

Wat was die grootste uitdaging van die album?

Geen groot uitdagings nie, behalwe dat my dogtertjie, Gita, besluit het om drie weke te vroeg gebore te word, reg in die middel van die opname. Mens kan amper sê Gita en die CD is soos ’n tweeling.

Watter element bring Gita in jou lewe in?

Pa-wees is die beste ding wat ooit met my kon gebeur. Dis amper profeties hoe die her-bekendstelling van Gian en die koms van Gita alles dui op ’n nuwe begin. Die element van Goddelike vreugde is dus ter sprake.

… en in jou musiek? Een van die nuwe liedjies is “Gita Blom”.

Die grootste deel van “Gita-Blom” is geskryf voor Gita se geboorte en die brug van die liedjie is geskryf  toe sy ’n week oud was. Alles waaraan ek tans dink is vreugde en alles wat ek skryf is dus opgewek.

Gian Groen

Is dit nou moeiliker vir jou om te toer met ’n baba by die huis?

Ek het nog nie getoer na haar geboorte nie, maar die volgende besoek aan ander dele van die land lê vir die eerste keer soos ’n donker wolk voor my.

Wat kan mense verwag van die album?

Die opname is met deurnis deur Wouter van de Venter by VH Music behartig, so die kwaliteit maak ’n groot verskil. Die 16 snitte daarop gaan die gehoor op ’n wonderlike “roller coaster”-rit neem.

Gian GroenDie album bestaan uit 16 snitte en is ’n samevatting van Gian se beste werke, asook ’n paar splinternuwe liedjies wat almal vars opgeneem is.