Cameron van der Burgh
FOTO: verskaf

Cameron van der Burgh FOTO: verskaf

Ons praat met

Wat maak jou ’n held? Cameron van der Burgh vertel

Vir die Olimpiese swemmer Cameron van der Burgh is helde mense wat jou inspireer om hoogtes te bereik, veral as jy daardie persoon ontmoet het.

“Dis nie altyd wat iemand sê wat jou inspireer nie, maar dikwels kry jy inspirasie deur net in jou held se teenwoordigheid te wees,” sê Olimpiese swemmer Cameron van der Burgh oor helde. Hy vertel dat hy steeds die dag onthou toe hy sy held, Penny Heyns, ontmoet het.

“Ek onthou glad nie wat sy gesê het nie, maar ek onthou hoe dit was om haar te ontmoet,” sê hy.

Cameron gesels oor sy nuwe meisie

Sedert hy in 2012 by die Olimpiese Spele in Londen ’n goue medalje in die 100 m borsslag gewen het, is hy self ook ’n Suid-Afrikaanse (én internasionale) held.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

“Jy moet iets hê waarna kinders kan opkyk. Jy moet uiteraard ’n rolmodel wees en iets hê waarna kinders kan streef. Maar uiteindelik is dit meer jou dade – die goed wat jy doen, hoe jy jou lewe leef – wat maak dat mense jou as hul held sien,” gesels hy oor held-wees.

“Dis partykeer moeilik, want mense hou jou dop. Wanneer ek oefen, moet ek alles voluit doen, anders kan die kinders net sê hulle hoef dit nie voluit te doen nie, want ek doen dit nie voluit nie; jy moet jouself wees, maar ook ’n voorbeeld,” beskryf hy die verantwoordelikheid wat by 2012 se Olimpiese Spele saam met sy goue medalje in sy skoot geval het.

Vir Cameron het swem Ritalin vervang – lees meer daaroor

Om ’n held te wees is nie nét moeilik nie. Deesdae skuur hy immers skouers met mense wat voorheen ook sy helde was.

“Met ons terugkeer van die Olimpiese Spele af was dit ongelooflik om te sien hoeveel mense lughawe toe gekom het net om ons te sien. Ek het besef dat dit ’n paar jaar gelede ek was wat my helde daar ingewag het.”

Maar nou is Cameron deel van ’n uitgesoekte groep helde.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

“Wanneer jy goud wen by die Olimpiese Spele, is dit asof jy deel van hierdie klub word. Voor die tyd loop jy rond en jy herken mense soos Michael Phelps en jy moet vir hulle hallo sê. Maar nadat jy gewen het, is dit hulle wat sê ‘Hi, ou! Hoe gaan dit?’ en dis asof jy deel van die koel groep word,” vertel hy verbaas.

Cameron se foto-album

Dié dat Disney hom pas gekies het vir die vyfde fase van die Disney XD Aim High-veldtog.

Die veldtog gee kinders van oor die hele land die kans om ’n mentorskap saam met ’n internasionale sport- of musiekster te wen. Cameron is vanjaar se mentor in die veldtog.

“Ek dink baie van die kinders wat inskryf, stel nie noodwendig belang in swem nie, maar hulle kyk op na mens,” verduidelik hy.

“Hulle wil miskien nie regtig oor swem leer nie, maar net geïnspireer word en vir my sal dit goed wees om daardie kinders op ’n persoonlike vlak te leer ken en belangrike lesse met hulle te deel,” sê Cameron, wat eers toe hy 11 jaar oud was kompeterend begin swem het.

Kinders kan van 12 Mei af vir die kompetisie inskryf op Disney XD se webblad.