willem_botha_2
Ons praat met

Willem Botha

Sy tweede CD, Sê my nou, is Maandag (9 Maart) vrygestel. Dieselfde dag het Willem Botha gehoor hy het ‘n Euro Ster-toekenning ontvang vir sy liedjie “Dis alles ‘n Miracle”in die kategorie vir beste oorspronklike Afrikaanse liedjie met ‘n Eurovision-verbintenis.Mense kon wêreldwyd op die internet luister en stem*. Dit lyk of Willem, die naaswenner in 2006 van kykNET se Afrikaanse Idols, net van krag tot krag gaan. Hy het met Henriëtte Loubser gesels.

 

Is jy bly oor die Euro Ster-toekenning?
Baie opgewonde, want toe ek laas gehoor het, het die Belgiese sanger Christoff de Bolle nog voorgeloop met stemme. Sy CD’s verkoop dubbel-platinum in België, so ek het nie gedink ek gaan hom klop nie.

 

En jou nuwe CD?
Ek het self van die liedjies daarop geskryf. Johan Vorster van Eden en Mozi Records, wat liedjies skryf vir Bok van Blerk en Lianie May, het ook ‘n liedjie geskryf – “Onsigbaar vir jou”. Dis ‘n ongelooflike eer.

 

Helen Zille het glo ook op die internet vir jou liedjie gestem?
Ek het vir Helen ge-e-pos dat ek bly is sy stem vir my, want ek gaan vir háár stem.

 

Jou pa is DA-leier in die Wes-Kaap se provinsiale parlement. Staan jou kop ook politiek toe?
Nee, jy moet baie geduld hê vir die politiek en geduld is nie iets wat ek gou wil leer nie. As ek iets wil hê, moet dit gou gebeur. Ek is nog net 21 en as ek dink wat ek nog elke dag byleer, is ek opgewonde oor waar ek op 30 gaan wees. Ek is opgewonde oor die lewe.

 

Jy’t op ‘n plaas by Riversdal grootgeword, maar deesdae is Pretoria jou huis?
Ek het twee maande ná Idols Johannesburg toe getrek en in Desember 2007 my eie huis in Pretoria gekoop. Dis die regte ding vir jou loopbaan, want hier is verskriklik baie geleenthede. Nie net vir shows nie – my platemaatskappy, Sony Music, sal byvoorbeeld op kort kennisgewing vra dat ek ‘n advertensie vir SABC2 doen. Dan moet jy naby wees. My ouers kom kuier darem gereeld.

 

Jy was ook ‘n Arabierperdruiter-kampioen. Mis jy dit?
Dis die enigste nadeel van my nuwe lewe. As ek in die Kaap is, sorg ek dat ek plaas toe gaan en perdry. My liefde vir diere sal nooit doodgaan nie. Ek wou altyd ‘n veearts of ‘n wildbewaarder geword het, maar dinge het toe anders uitgewerk. Omdat ek so baie weg is van die huis, kan ek nie ‘n hond aanhou nie. Hy sal my nooit sien nie en dis ‘n onreg teenoor ‘n dier. Ek dink nou daaraan om ‘n kat te kry.

 

Is daar tyd vir verhoudings?
Net voor Idols het ek en my meisie van 3 jaar uitgemaak. Sedertdien probeer ek weer op die dating wagon klim, maar dit werk nie. Ek weet nie of die meisies net te skaam is of nie kan byhou met my skedule nie. Ek lag altyd vir sms’e wat sê “Die meisie wat jou kry, sal so lucky wees”. Dan dink ek: Waar ís daai meisie? Want ek’s ‘n sucker vir romanse. Ek love Valentynsdag en om spesiale goed te doen.

 

Reis jy baie?
Ek show omtrent elke dag van Woensdag tot Saterdag – van Kimberley tot Bloemfontein, Port Elizabeth en Durban. Dis makliker nou dat Hugo Ludik vir my kitaar speel. (Hy het ook die liedjie “Papsopwinterwaternat” vir Kurt Darren geskryf). Ons het groot pret. Anders kan dit baie alleen raak. Ek hou daarvan om dít wat ek beleef met ander mense te deel.

 

Wat dink jy van vanjaar se Idols?
Ek’s mal oor Sasha Lee Davids. Ek love haar energie en haar look (goeie looks help altyd!). Dit kom op die TV-skerm deur dat sy bereid is om hard te werk. As jy dít nie kan doen nie, gaan jy nie suksesvol wees in hierdie bedryf nie.

 

Doen jy moeite met jou eie voorkoms?
Ek het gelukkig maklike hare. Ek sit ‘n bietjie jel aan, vryf dit deur en dan is ek reg om te gaan. Ek hou daarvan om versorg te lyk.

 

Wat is jou volgende groot projekte?
Ek gaan KKNK toe met my nuwe album en gaan daar tot 4 shows ‘n dag doen. Ons het ook ‘n show met Idols and friends daar.

 

  • Eurovision is ‘n liedjie-kompetisie wat al 53 jaar gehou word, vertel Roy van der Merwe, president van Eurovision SA. In 1974 het Abba dit gewen met ”Waterloo” en daarna wêreldberoemd geraak. Celine Dion het ook haar loopbaan só begin (sy het vir Switserland deelgeneem, want die komponis van haar liedjie was ‘n Switser).  Kunstenaars kan nie vir SA daaraan deelneem nie, omdat ons nie deel is van die European Broadcasting Union nie. Ons kan wel aan verwante aktiwiteite deelneem, soos die Euro Ster-kompetisie.

 

  • Willem tree op: 15 Maart by Montana Traders in Pretoria; 24 Maart by Merensky Hoërskool op Tzaneen, 28 Maart by die kuierplek Firkin in Boksburg en 3 April by Jolly Dolphin in Jeffreysbaai. Hy is ook van 4 tot 11 April by die KKNK. Besoek sy webwerf by www.willembotha.com.