jun07praatmet1a
Ons praat met

Willie issie Worsie

Met die fotosessie val ’n skadu oor die een helfte van Willie Esterhuizen se gesig. Dis nogal soos hy is. ’n Man met ’n ligte kant – en dan ’n ander, ernstiger kant. Daardie kant wat jou reguit in die oë kyk en presies sê wat hy dink. Hy gee nie om as jy hom in ’n winkelsentrum op die skouer klop en sê: “Hoezit, ou Worsie!” nie. Maar loop lig, hy skroom nie om ’n brander van ’n e-pos aan ’n resensent te stuur wat een van sy reekse volgens hom onnodig afkraak nie.

Hy kán kragtige k-woorde gebruik. Die skryf en maak van sy nuwe TV-reeks Hester & Ester Bester en die fliek Poena het hom die afgelope jaar druk besig gehou. Boonop was dit vir hom ’n moeilike tyd, want keelkanker is by sy vrou, Glen, gediagnoseer. Hy is ook deur inbrekers in sy studeerkamer oorval. Dit het sy kreatiwiteit so ’n bietjie gestrem, sê hy. Maar die reeks en die fliek is geblik. (Poena is koning, met Robbie Wessels van “Leeuloop”-faam in die naamrol, begin op 21 September draai en kykers het reeds met Hester & Ester Bester kennis gemaak.)

En ja, hy verwag beslis sy kritici gaan dié keer ook nie stilbly nie. Sy verweer? “My werk is om mense te vermaak. Lekker ligte vermaak wat jou ’n uur of wat van jou sorge laat vergeet.”

Enersyds is daar die grapjas, Worsie van televisie se Vetkoekpaleis, en die teksskrywer wat hom soms in sy studeerkamer slap lag terwyl hy sy humortekste skryf. Van Vetkoekpaleis tot Gautêngalêng-alêng en daardie treffer Orkney snork nie. Andersyds kan jy sien hoe Willie jou vrae in sy gedagtes rondrol voor hy ’n kort en kragtige antwoord terugbons.

Dalk ’n verdedigingsmeganisme? Hy is immers gewoond aan kritiek ondanks derduisende aanhangers. Oukei, moet hom net nooit as nar takseer nie. Agter die Worsie-beeld skuil dieper dinge. Hy gryp nie sy karakters uit die lug nie. Hy hou mense fyn dop. Verslind koerante, boeke en selfs die woorde op ’n Omo-boks.

Sy onderwysers op Potchefstroom en Klerksdorp sou destyds nie kon dink hy sou so’n slag hê met woorde nie (hy kon nie spel nie). Hy voel in elk geval vere wat hulle nou van hom dink, want sy grootwordjare op myndorpe is ’n deel van sy verlede wat hy agter hom gelos het. ’n Resensent van ’n Engelse dagblad, wat normaalweg nie aandag gee aan Afrikaanse flieks nie, het destyds te midde van hewige kritiek oor die “platvloersheid” van sy fliek Lipstiek Dipstiek geskryf: “Willie Esterhuizen (director) is no idiot. He’s been responsible for the best sitcom SA television has ever seen (Orkney snork nie).”

GUNSTELINGE

DRANK: Ek drink geen alkohol nie. Ek is ’n ystee-man.

KOS: Pap en wors, natuurlik!

BOEK: Angela’s Ashes van Frank McCourt. Ek het in ’n stadium vir elkeen wat ek ken ’n eksemplaar gekoop.

MOOISTE WOORDE: ‘Pappa’

SIELSPLEK: Die tuin by my huis

FLIEKS: Ek gaan kyk na alles, want dis deel van my werk.

BESTE RAAD: Wees altyd eerlik. Ek het dit by my ma geleer.

TEATER OF FEESTE?: Ek verkies ballet. Ek haat feeste.

Theo Erasmus, kykNET-kanaalhoof, het met die heruitsending van Orkney snork nie in 2005 aan Beeld gesê die moderne Saterdagnag kon nie kykertalle lok nie. “… daarom word dit tydelik vervang met ’n wenresep soos Orkney snork nie.”

Veteraan-akteur Zach du Plessis, wat onder meer saam met Willie aan Vetkoekpaleis en Orkney snork nie gewerk het, meen Willie is “briljant op sy gebied”. “Niemand kan ’n sitkom skryf soos Willie nie. Daar is baie snobs wat destyds nie wou erken hulle sit vasgenael voor die TV vir Vetkoekpaleis nie.” Zach meen Willie het menige akteur se loopbaan geskep. Anrich Herbst gee hom byvoorbeeld gereeld erkenning in onderhoude as sy mentor. “’n Akteur se performance is net so goed soos sy woorde,” sê Zach. “Willie skep daardie woorde.” Hy glo daar is ’n kant van Willie wat baie nie ken nie. “Hy wil nie graag na geleenthede gaan nie. Hy sê die mense wil Worsie sien en hy is nié Worsie nie. Maar as daar ’n liefdadigheidsgeleentheid is, is Willie daar.”

Jy is deur ’n moeilike jaar. Hoe het jy dit reggekry om steeds humor te skryf?

’n Mens moet aangaan. My broer Pieter meen ek skep op my beste as ek soos ’n rot in ’n hoek vasgekeer is. Glen was baie siek. Ons is deur hel.

Het dit julle wakker geskud?

(Hulle het mekaar as studente in ’n balletklas ontmoet – Willie was 3 jaar op balletskool!) Ons is nou 28 jaar getroud en ek het nog nooit daaraan gedink dat ek haar kon verloor nie. Die siekte het so ’n jaar gelede onverwags op ons afgekom. Sy het skielik begin sukkel om te sluk. Ons het nooit ’n diagnose soos kanker verwag nie. Ons almal gaan die een of ander tyd dood. Maar ek het eendag besef ek gaan baie kwaad wees as ek alleen moet agterbly. Toe vra ek haar of my tweede vrou in ons bed kan slaap. Toe moet jy sien hoe vinnig word sy beter!

Julle is na aan mekaar?
Sy is my sielsmaat, my klankbord. Sy is Brits en verstaan dus nie ’n woord van wat in my reekse aangaan nie. Maar dis ook voordelig. Dit hou my verhouding met haar en my werk afsonderlik. Ons ly op die oomblik aan leënes-sindroom. Toby is 26, Teya 25 en Tallula 20, elkeen op sy eie koers. Ons sal nou ons liefde op ons katte moet uitstort.

Het jy geleer om Glen meer te waardeer?
Ek het baie aan haar te danke. Ek sou die grootste luiaard gewees het as ek dit nie vir haar en die kinders moes doen nie. Sy sorg dat ek hard werk en sy sê ek is haar gunsteling-skrywer, want ek skryf al haar tjeks uit. Die kombuis is hare en die houtwerk-plek myne.Houtwerk is die enigste nuttige ding wat ek op skool geleer het.

Wat het gebeur die aand met die inbraak?
Die twee het oor my agtermuur geklim en wou my keel-af sny. Ek het kalm gebly en was baie vriendelik. As ek hardekoejawel was, was ek dood. Ek het daardie aand ’n Oscar-performance gegee. ’n Mens raak al gewoond aan die gedagte van misdaad. Ek het die aanval al ’n paar jaar verwag.

Sal jy byvoorbeeld na Australië emigreer as jy die kans kry?
Natuurlik! Ek dink dis goed om ’n internasionale burger te wees eerder as om aan volk en vaderland te klou. Ons vergeet Suid-Afrika is net ’n klein village vergeleke met die res van die wêreld. Jong mense moet geleer word dat die wêreld hul oester is.

Is jy een van daardie verbitterde ouens wat in die sewentigs weermag toe moes gaan?
Nee, ek was nie in die weermag nie. Hulle het my oral gesoek, maar ek was in Londen, waar ek die Engelse meisies beter leer ken het!

Maar hoe voel jy oor Afrikaans?
Ek is mal oor Afrikaans. Dis die taal waarin ek droom en vervaardig. Afrikaans veg nou om oorlewing en ek dink dis goed so. Afrikaans was te lank in ’n bevoorregte posisie.

Jou tong kan skerp wees. Daardie stink e-pos wat jy vir Beeld se TV-skrywer geskryf het? Ek het dit gelees. Dis nogal kru.

Ek het haar op haar plek gesit in die kru taal wat ek gemeen het iemand wat so kru soos sy oor ’n ander mens se werk is, sal verstaan.

Hanteer jy kritiek gewoonlik sleg?
Ek is dikvellig, maar dit irriteer my as iemand sonder ’n humorsin kritiek lewer op iets waaroor die volk mal is. Sommige resensente is nie in voeling met waarvan die gewone mens hou nie.
Ek steur my net aan wat die kykers sê. As die fliek goed doen by die loket en die TV-kykertal is goed, weet ek dis goed. Ek verpes mense wat so kla oor alle Afrikaanse reekse. Die klaers moet oppas, hulle gaan Afrikaans nog van die TV en die silwerdoek af kla.

Is daar mense wie se mening jy respekteer?
As Franz Marx of P.G. du Plessis sê my werk is swak, sal ek daaroor nadink. Ek het ’n paar mentors gehad. Stephan Bouwer en Koos en sy broer Hannes Roets het my baie geleer van TV- en rolprentwerk. Ek leer steeds oor kamerawerk by André van den Heever. My seun, Toby, maak my wys oor al die moderne gadgets.

Befoeterd?
Ek is nie buierig nie. Nie eens onder erge stres nie. Ek en Pieter duld nie tantrums op ons stel nie. Ons jaag ’n moeilikheidmaker weg. Ons glo die pret op stel moet uit die TV-skerm spoel. Jy kan nie ’n komedie skiet as die mense op stel baklei en ongelukkig is nie. Dit syfer deur en jou kyker kom dit agter.

Maar is jou humor platvloers, kômmen?
Soms word mense kwaad. Hulle sien hulself raak in die “platvloersheid”. Hulle sien iets wat hulle nie wil raaksien nie. Mense wil nie erken dat “platvloerse” humor net so volksbesit is soos braaivleis nie. Hoekom dink jy het die heruitsending van Orkney snork nie ná 15 jaar so goed gedoen?

Jou humor is partykeer slim?
Haai, dink jy so? Spread the news! Mense hou van verskillende vlakke van humor. Party mense is te smart om Afrikaanse spitsvondighede te verstaan. Ek kon van kleins af die humor in situasies raak sien.

Jy en Pieter werk al van 1982 saam. Irriteer julle mekaar nie soms nie?

Ons was vier kinders: ek, Pieter, Gerrie en Annelise. Ek het die arme Pieter goed gefoeter toe ons klein was, maar nou is hy groter as ek. Ons is beste vriende. Ons werk soms 18 uur per dag. Dan kan ons ook ure aaneen saans oor die foon praat soos twee ou vrouens. Dit irriteer ons huismense vreeslik. Hy redigeer en ek regisseer. As ons werk, hoef die een net vir die ander te kyk, dan weet die een wat die ander wil hê.

Baie in die bedryf kla oor min werk. Hoe bly julle aan die gang?
Ons skep ons eie werk. Ek weet nie altyd waar die kreatiewe idees vandaan kom nie. Ons het altyd ’n nuwe plan in die kop. Te veel mense in byvoorbeeld die teaterbedryf kla omdat mense nie meer teater toe kom nie, maar as die mense nie na jou show wil kom kyk nie, kan jy net jouself die skuld gee. As jou stuk goed is, soos Groet die Grotman, sal mense dit gaan kyk.

Hoe het jy ontdek jy kan skryf?
Ek het van kleins af daarvan gehou om te tik. Toe probeer ek eendag ’n storie op ’n klein draagbare Olivetti skryf. ’n Kinderstorie oor ruimtetuie en goed. Toe wen ek ’n prys. Ek het mettertyd besef ek hou baie van skryf.

Kom dit maklik?
Dit kom net en ek is dankbaar daaroor. Ek vrees die dag dat dit gaan opdroog. Jy weet mos hulle sê skryfwerk is 99% harde werk en 1% talent. Ek gaan sit eenvoudig voor die rekenaar en begin skryf. Partykeer duur dit ’n dag om ’n episode te skryf, soms is dit ná twee weke eers klaar.

Watter karakter van al jou reekse is jou gunsteling?
Ek is lief vir hulle almal, want ek het hulle geskep. Poena (Gautêng-alêng-alêng) het diep in die volk se harte gekruip, nes Vetkoekpaleis se Worsie. Maar ek weet ek gaan weer hope kritiek kry. Veral oor al die kaal boude daarin. Jy sien, die fliek is met ’n klein begroting geskiet en ek het nie geld gehad vir baie kostuums nie. (Hy lag moedswillig.)

En Robbie Wessels (Poena), dink jy hy is ’n goeie akteur?
Ek is mal oor hom. Hy’s’n bleddie goeie akteur. Ons teikenmark vir die fliek is jong tieners. Hulle gaan mal wees oor hom.

Hoekom laekoste-flieks maak? Maak jy dan nie baie geld uit jou flieks nie?
Ons is gelukkig as ons nie ’n verlies ly nie. Ons kan nie meeding met begrotings van oorsese produksies nie. Die begroting van een episode van Absolutely Fabulous is groter as ’n plaaslike reeks van 26 episodes.

Is daar ’n toekoms vir SA rolprente?
Ons moet ophou dink elke fliek wat in SA gemaak word, het ’n kans in die buiteland. Mense moet besef vir elke honderd flieks wat in Amerika gemaak word, is daar net dertig wat goed doen by die loket. En daarvan is net vyf goeie flieks. Ons poeletjie is baie klein. Jy moet mooi dink watter gehoor jy wil betrek. As jy ’n kunsfliek maak, is jou gehoor klein. As jy wil oorleef, moet jy gee wat die massas wil sien. Dis my mark. Dis die mense wat ek wil laat lag.

Hoe voel jy oor Hester & Ester Bester en die Poena-fliek? Gaan dit werk?
’n Mens weet nooit voor die tyd nie, maar ’n regisseur kry ’n goeie gevoel oor ’n fliek. Ek het dit met eerlike passie geskryf.