jan06voorbladartikel1a
Ons praat met

Wilmien – ‘Ek is dít nie meer’

Voor op die wa. Onverskrokke. Heeltemal bereid om haar naam krater te maak, ’n bol energie, altyd reg vir iets nuuts . . . maar ook empaties, onseker (by tye), onnodig streng met haarself, iemand met ’n fyn intellek (as jy haar net tot ruste kan kry vir ’n gesprek). Só sê die mense wat haar ken. Nina Swart. Nee, vergeet dit, in ’n paragraaf kry jy haar nie afgehandel nie. Gee my minstens 600 woorde, sê Hugo Theart, wat by die regie van haar verhoogwerk betrokke was. Hy is dit oor een ding eens met almal: Sy het Talent. En sy kan nog groot dinge bereik.

Maar Nina het haar eie loopbaan-siening. “Ek het lank gery op die golf van die jeugdige Wilmien van 7de Laan, die vars, nuwe opwindende briesie. Maar ek is dit nie meer nie. Oral in my lewe is ek besig om dinge in heroënskou te neem. Daar is nuwe uitdagings.” Sy het al baie geleer. “Maar ek het nog niks groots bereik nie, ek het nog nie regtig dit gevind waaroor ek kan sê nie: Hierin is ek uitstaande. Maar ek sal nog.“

“Ek het ongelooflik baie geleer. Wilmien was die ultimate sepie-karakter – ’n kombinasie van wildheid en weerloosheid. Ek sal haar enige tyd weer wil vertolk.” Regisseur Pierre van Pletzen, wat ook Oubaas speel, het eers gewonder hoe sy dit gaan regkry om “Wille Willemien” te speel. “My eerste indruk was so ’n skralerige muisie met ’n groot bril wat eenkant sit en lees.” Maar die volgende dag op stel het sy een sin gesê en hy het gedink: Wow! Wát ’n transformasie. Daardie opinie het nog nooit verander nie.

“Die talent drup uit haar uit.” Maar sy is ook soos ’n oorenergieke jong hings. “In groeptonele kon sy soms 10 000 rooimiere kry en jou as regisseur grensloos irriteer – sy doen karate-skoppe, hol rond, laat almal oppak van die lag . . . en jou tyd is beperk. Bygesê, Nina het altyd dadelik verskoning gevra. Sy kon inneem en die ander pla! Sy is vinnig en slim. En sy sal in ’n ander rol die skaduwee van ’n sepie-karakter oortuigend oorboord kan gooi.” Pierre het haar goed leer ken in die drie maande dat hy haar as regisseur opgelei het. “Mense besef nie hoe moeilik is multi-kamera-regie nie. Sy was ’n baie goeie, toegewyde student. Sou sy weer regie wou doen, sal ek haar net ’n maand lange opknapkursus wil gee voor ek haar op die niksvermoedende diertjies loslaat . . .”

 

Oral in my lewe is ek besig om dinge in heroënskou te neem. Daar is nuwe uitdagings

Pitstop was ’n volgepakte ervaring. Nina wou veral leer oor lewenstyl-regie (Pitstop-regisseur Albert Venter beskryf haar as ’n dorstige spons), maar uiteindelik was die grootste kick om joernalis te wees. “Ek het hard gewerk om in die onderhoude werklik iets van ’n kunstenaar te kon weergee. Ek het my navorsing self gedoen, geweet waarheen ek elkeen wil neem – ek kon hulle selfs teregwys as hul eie feite verkeerd was!”

Haar charisma het gaste uitgeboul, van dag een af toe Heinz Winckler nie sy oë van haar kon afhou nie, vertel Albert. “Die Gróót Theuns Jordaan-onderhoud het plaasgevind op ’n snikhete dag in Pretoria. En woeps, daar het Nina haar T-hemp uit en spring met haar bikini in die swembad. Daarna was Theuns putty in haar hande!”

Vir Albert was dit ’n absolute plesier om saam met haar te kon werk. “Sy is deeglik, gefokus en weet wat sy wil hê – en my geld is daarop dat sy dit gaan kry. Sy is fenomenaal. Maar ek wil nie heeltyd gush nie. Dis haar skuld dat ek begin rook het . . . sy laat alles so lekker lyk!”

Met die Pitstop-mark wat al jonger raak, het Nina gevoel sy kan nie meer geloofwaardig oor studente-bands en sulke dinge gesels nie – en “ek dink Lise (haar suster, wat die program nou aanbied), doen ’n fantastiese job”.

Die laaste jaar op 7de Laan het sy as ’t ware “verleer om te leer”, vertel Nina. Sy het besef sy moes op ’n ander plek verder leer. En Known Gods het dit gebied – “’n wonderlike nuwe reis”. Maar sy het geweet sy stel haarself ook bloot. “Almal wat siek en sat was vir Wilmien, kon dit nou uit hul gestel kry . . .” Sy het al goeie resensies gekry, maar “ek het ook twee baie slegte krits gekry vir Gods en dit was swaar. Ek probeer onthou: Jy is nooit so goed soos hulle sê nie en nooit so sleg soos hulle sê nie.”

Dit was moeilik om in haar tweede taal te speel. “Jou kop is nog besig met die I ams en they ares, jy kan nie nog dink aan die dieper subteks nie. Dit was beslis ’n struikelblok, maar ook ’n groot uitdaging.” En sekerlik intimiderend om te speel saam met swaargewig-aktrises soos Sandra Prinsloo en Antoinette Kellermann? Nóóit, sy is heeltemal te cheeky om geïntimideer te wees, skerts Sandra. (Nina se verweer: “Hoe banger ek is, hoe luidrugtiger raak ek! Dis een van my kompensasie-tegnieke.”) Sandra het Nina nie vooraf geken nie. “Ons het heerlik gejol en grappies gemaak op die stel. Nina is sommer net pret, ’n lekker, spontane mens. Sy werk ook spontaan en intuïtief. En sy het baie talent.”

Nina is dankbaar vir die kans om ’n tranerige, sondige, selfsugtige karakter te speel waarvan niemand hou nie. “Mense het al vir my gesê daai Nina Jansen is so irriterend, en dis vir my ’n groot kompliment.”

Regisseur Regardt van den Bergh sê haar borrelende persoonlikheid kan jou verkeerdelik laat dink sy is nie regtig ernstig oor haar werk nie. “Nina het ’n diepte – in haar houding teenoor haar werk, haar interpretasie van die karakter. Sy gee baie, sy stel belang in die proses, hoe die regisseurs dink – en sy bevraagteken dinge. Sy het ’n natuurlike flair. Sy kan een oomblik grappies maak en die volgende oomblik huil. Dis ’n gawe.”

 

Daar was dalk al oomblikke, maar ek het nog niks bereik nie, ek het nog baie om te leer

Nina was al seremoniemeester by ’n menigte geleenthede – van selfoonmaatskappye se jaareindgeleenthede en mnr. Boepenskompetisies tot Die Burger se Kerskonsert en 40 landwye Afrikiti-vertonings vir die ATKV. Haar reël: Doen dit elke keer asof dit die eerste keer is.

“Jy moet onthou dis húl jol, wat die geleentheid ook al is. AJ (van der Merwe, regisseur) het ons tot op die einde nog notes vir Afrikiti gegee. En jy vat daardie notes. Daar is altyd nog iets om te leer.” Nina is altyd bang voor sy op die verhoog gaan: “Maar ek is nie bang om my naam krater te maak nie. Ek is saans moeg as ek seremoniemeester was, op ’n high. Veral as daar musiek was.”

Die mening van haar mede-aanbieder, Soli Philander: “Op die verhoog gee Nina alles, selfs al was sy pas vier uur op die pad.” AJ: “Soli is in ’n klas van sy eie, maar Nina het goed by hom aangepas. En haar lewenslus en energie het almal agter die verhoog geïnspireer.”

Rina Hugo, wat ook in Afrikiti was, sê Nina herinner haar aan haar eie Riaan-kind – jy wéét as hulle by jou is, hulle neem ’n groot ruimte op. “Sy praat baie, sy sing baie en sy gaan speel sommer in die orkes as ons oefen. Sy straal positiewe energie uit. Maar al is sy altyd besig, is sy tog fyn ingestel op die mense om haar.”

Aanvanklik moes AJ die leisels bietjie intrek. “Nina is soos ’n Red Bull wat jy geskud het. As jy hom nie versigtig oopmaak nie, gaan hy die wêreld vol spuit. Sy moes eers baas raak van haar energie. Maar sy is toegewyd, sy sal regmaak en skaaf tot dit wérk. En dit het.” Soli se laaste sê: “Sy is baie cool, in ons huis (vol tieners) die grootste kompliment.”

’n Sangloopbaan is en was nooit op Nina se agenda nie – al vra almal haar daaroor, sê sy. Sy doen ’n paar liedjies in Afrikiti, “maar ek sing eerder in die bondel, ek was nog nooit ’n voorsanger nie”. Sy is ’n spanspeler. “Ek sal nooit Springbok-kleure kry nie, maar in ’n spannetjie kan jy my nie terughou nie. Mmm, noudat ek daaroor dink, ek wil ook nogal graag die baas van die spannetjie wees . . . Dis seker waar my lus vir regie inkom.”

Nina was in ‘n stadium ’n “baie oorgekwalifiseerde” agtergrondsanger in haar band, vertel die sangeres Laurinda Hofmeyr. “Ek is mal oor haar stem, dis so sjokoladebruin, lekker donker en solied. Sy kan beslis ’n loopbaan daarvan maak as sy haar daarop sou wou toespits. Sy het ’n goeie oor en aanvoeling. In my eerste jaar by die KKNK het ons saam in ’n produksie gesing – ek sal altyd dankbaar wees teenoor haar en Saartjie Botha wat vir my bevestig het dat my gut reg is oor my musiek.”

Nee, maak Nina dit gou af as jy oor verhoog-hoogtepunte wil praat. “Daar was dalk al oomblikke, maar ek het nog niks bereik nie, ek het nog baie om te leer.” Nicole Holm, mede-aktrise in die verhoogstuk Onbekend en ook in Known Gods, sê Nina was eers baie onseker oor haar verhoogwerk – wat ’n mens glad nie van haar verwag nie. “Soveel só dat sy in ’n stadium erken het sy het acting tips op Google ingetik!” Ten spyte van haar onsekerheid het sy die toneelstuk eenvoudig gepák – dapper en vreesloos, sê Nicole. “Sy is ook die ondersteunendste persoon en aktrise met wie ek al saamgewerk het.” Hugo Theart, regisseur van Onbekend, sê hy kan hom nie ’n repetisie voorstel met Nina sonder ’n Red Bull en sigaret in die hand nie. (Deesdae is haar kamera ook iewers in die prentjie – sy neem ongelooflike foto’s.)

“Nina is hardwerkend en kreatief, sy bring ’n vonk na die verhoog en die teaterproses. Sy is warm en gee baie as mens en kunstenaar. Maar sy is ook baie streng met haarself, sy ag altyd ander se talente groter as hare. Net te kompleks vir ’n paragraaf.”

5 dinge wat jy nie van Nina geweet het nie
(“Nou weet almal álles van my!”)

 

• Sy oefen in die geheim om handstane te doen, maar kan nie.
• Sy wil graag ’n boereorkeskompetisie beoordeel.
• Sy hou nie van fliek toe gaan nie – dis te lank en donker.
• Sy kan nie kos maak nie.
• Vir haar 30ste verjaardag op 2 Oktober het sy ’n feëtjieuitrusting as geskenk gekry.