Ons praat met

Zanne Stapelberg: Trauma laat haar stem verdwyn

Die deur na Zanne Stapelberg (33) se huis is rooi, haar lippe ook en sy dra graag flambojante rooi klere.

“Rooi is oorrompelend, positief, passievol, lewenskragtig, warm. Dit sê: Hier is ek!” verduidelik Zaza, soos sy haarself noem.

Maar dit was nie die geval die afgelope paar jaar nie.

Byna agt maande swanger ten tyde van ons gesprek is dié gewilde opera- en liedersangeres die toonbeeld van vroulikheid, met haar krulkopseuntjie, Alexander, wat soos ’n klein engel om haar dartel. (Hy word drie in September.)

’n Jaar of wat gelede was Zanne se lewe donker. Ná twee miskrame – 
’n tweeling op drie maande en ’n seuntjie op vyf maande – het sy so neerslagtig geraak dat sy haar sangstem heeltemal verloor het. Sy moes haar optredes kanselleer.

Intussen het sy ’n pad van groei en selfkennis gestap en onlangs kon sy opnuut in die kollig staan as die eenvoudige dorpsmeisie Micaela in die opera Carmen in Kunstekaap. Kenners het haar vertolking geprys en haar stem as “elegant” beskryf.

Ons gesels in haar en haar man, Jomar de Lange, eienaar van ’n multimedia-maatskappy in Kaapstad, se heiligdom – hul huis met ’n “bui” tussen Boere-Barok en Afrika-Versailles.

Sy skep ’n guitige stuk baklava (self gemaak) met ’n blerts Griekse jogurt vir ons in en skink tee uit haar pragtige versamelkoppies.

Die vuur knetter, daar is wacky kroonkandelare, ’n tapisserie van haar ouma in ’n vertoonkas, porseleinware en hope interessante kunswerke – onder meer een van die Suid-Afrikaanse kunsmeester William Kentridge, wat hy vir haar gegee het nadat sy in 2007 in die Mozart-opera Die Towerfluit gesing het (Kentridge het die regie en ontwerp behartig).

Zanne vertel hoe sy destyds voor en ná Alexander se geboorte op 13 September 2008 ’n tydperk van intense kreatiwiteit beleef het.

“Ek is mál oor Spaanse musiek en het in daardie tyd saam met die kitaarspeler James Grace en die mezzo-sopraan Minette du Toit-Pearce opgetree in my eie twee produksies, Canciones Españolas (Spaanse liedere) en Canciones del Sur (musiek uit die suide).”

Nog ’n hoogtepunt in 2008 was om tydens ’n gala-konsert saam met die wêreldbekende tenoor Johan Botha op te tree. In dieselfde jaar is Zanne ook vereer met die Standard Bank Jong Kunstenaartoekenning. Haar wengeld het sy in haar musiekproduksiemaatskappy, Long Tall Woman, gestort. (Zanne is self 1,79 m lank.)

Minder as ’n jaar ná Alexander se geboorte was sy weer swanger.

“’n Tweeling. Ons was ekstaties. Ek was nog altyd gefassineer deur tweelinge.”

Toe die tragedie . . .
“Vir die eerste keer is my en Jomar se lewensritme, wat nog altyd gelukkig was, ietwat versteur. ’n Miskraam het byna nie ‘ingepas’ by ons lewe nie. Tog het ek dit taamlik goed verwerk en ons het besluit om so gou as moontlik weer te probeer.”

Net ná die miskraam het sy beskermvrou geword van die Durbanville-kinderhuis. *

“’n Mens besef skielik hoe broos en kosbaar lewe is en hoe onmisbaar kinderhuise is waar omgesien word na kinders wat andersins verwaarloos en haweloos sou wees.”

Hulle het ook twee weke gaan troos soek in Spanje. Kort ná hul terugkeer was Zanne weer swanger.

“Maar in Maart 2010 het ek die seuntjie op vyf maande verloor. Die prosedure was traumaties – vir liggaam en siel. Dis asof ek nóú eers baie daarvan onthou, want ek het lank alles uitgeblokkeer.”

Hierna het sy ’n ruk lank haar kop van haar lyf “geskei” om die hartseer te probeer verwerk.

“Ek wou maande lank nie in ’n spieël kyk nie. My lyf het soos ’n lykswa gevoel . . .”

Dit was asof die eerste miskraam skielik ook “erger” geword het. Twéé keer ná mekaar . . .

’n Diep depressie het op haar toegesak. Sy het haarself begin onttrek aan mense, kon nie behoorlik slaap nie en was nie meer lus vir sing nie.

“Ek het so ’n totale so what-gevoel oor die lewe gehad.” Sy was die hele tyd hartseer. “Daar was dae dat ek gewag het tot net voor Jomar huis toe kom voor ek myself aangetrek en gegrimeer het.”

Op aandrang van ’n goeie vriendin het sy besef sy en Jomar moet hulp kry om dié hartseer ervarings op ’n positiewe manier deel te maak van hul lewe. Hulle het saam vir sielkundige berading gegaan.

“Dit was vir Jomie baie moeilik om my so swaar te sien kry. Dis een van sy wonderlikste eienskappe – dis vir hom belangrik om my gelukkig te sien.”

Sy het besef hoe mense dikwels fokus op die vrou se ervaring en onderskat dat ’n miskraam vir die man net so traumaties is.

“Ek het ook geweet ek kan nie ál die pyn vir Alexander wys nie. Kinders moet hul ouers se vreugde én hartseer beleef, maar hierdie was te diep vir hom.”

Sy het baie ondersteuning gekry.

“Vriende het kos aangedra, SMS’e gestuur, plante gebring – ’n vyeboom, frangipani . . .” Sy het begin skuldig voel dat haar kreatiewe lus 
geblus was.

“’n Ruk ná my tweede miskraam het ek ook agtergekom my stem is nie meer dieselfde nie. Later het my sangstem heeltemal weggegaan.”

Haar stem-arts by die Tygerberg-hospitaal naby Kaapstad, dr. Rory Attwood, het bevind dis hormonaal. Máár ook te wyte aan diepe trauma.

“Ek was baie bang dat ek nooit weer behoorlik sou kon sing nie. Ek het die meeste van my groot optredes vir die res van die jaar gekanselleer.”

Haar sangdosent, Magdalena Oosthuizen, hoof van sang by die Universiteit Stellenbosch se konservatorium, het haar bly moed inpraat en ondersteun.

“In Julie verlede jaar was my stem beter en ek het twee weke lank in Switserland meestersklasse by een van La Scala-operahuis in Milaan se grootstes, Giovanna Canetti, bygewoon.”

Dít was ’n kreatiewe inspuiting – sangers van reg oor die wêreld, mooi natuurskoon, en die erkenning wat sy van Giovanna gekry het.

“Sy het aangebied om my te on
derrig, maar dit sou my lewe op ’n totaal ander pad gestuur het en ek en Jomar wou ons gesin uitbrei.”

Teen einde verlede jaar was Zanne weer méns.

“Die wonderlikste les wat ek 
geleer het, is dat ek steeds baie bevoorreg is.”

Sy was opgewonde, maar ook ’n 
bietjie bang toe sy einde verlede jaar vir die rol van Micaela in Carmen genader is.

“Ek het opera so gemis. Dis vir my soos vry – die lekkerste ding in die hele wêreld! Albei gee my die ongelooflikste trillings,” verklap sy.

Sy het Micaela se karakter omarm.

“Micaela is Carmen, die vurige sigeunerin, se teenpool. Ek wou haar realisties en multi-dimensioneel uitbeeld, as iemand met wie jy empatie het. Dit was vir my belangrik om elke aand dieselfde gehalte toneelspel en sang te lewer. En toe ek die eerste aand gefokus op die verhoog uitstap, was ek uitasem van blydskap.”

Hoewel Zanne opgewonde is oor haar sangtoekoms (daar wag allerlei projekte waaroor sy nog nie mag praat nie), besef sy ook hoe waardevol dit is om haar psige op te pas.

“Ek stel myself nie bloot aan negatiewe energie soos gewelddadige rolprente of selfs teaterstukke wat my in donkertes dompel nie. Ek lees boeke en digkuns wat die lewe vier.”

Zanne se volgende “produksie” is nou die geboorte (vroeg in Junie ten tye van ons ter perse gaan) van Maja Heleen de Lange, genoem na Maja die by (in die kinderstorie) en na Heleen, haar ma, wat saam met haar pa, Adri, ’n gekwalifiseerde apteker, al dertien jaar lank ’n geskenkwinkel in Durbanville het.

“Alexander en sy sussie is vir my die vervulling van my en Jomie se lewe saam. Ek het op sestien, toe ons begin uitgaan het, al geweet hy moet my kjênners se pa wees.”

Dis steeds ’n vurige vrou wat voor my sit, maar daar is ’n nuwe rustigheid.

“Ek het grootgeword,” sê sy. “Sielkundige terapie het my geleer ek hoef nie altyd ‘konsert’ te hou nie. Soms is dit vir my lekker om ander te vermaak, maar ék kan kies wanneer.

“My en Jomar se storie was erg en baie hartseer, maar regtig nie die ergste wat ’n mens kan oorkom nie. Ek het nou eers agtergekom hoe sterk en bewonderenswaardig ouers moet wees wat ’n volwasse kind verloor en dit uiteindelik regkry om positief aan te gaan met hul lewe.”

Op 33 besef Zanne dis moontlik om jou familie en jou loopbaan te versoen. “Dis vir my dié vervullendste ding op aarde om ma te wees. As Alexander sê ‘Mamma, ek is lief vir jou’ en sy armpies om my nek slaan, wil ek huil van lekkerkry.”

Op 12 Julie, skaars ’n maand ná Maja se geboorte, tree sy al weer op in die SA komponis Hendrik Hofmeyr se sangsiklus Of Darkness and the Heart (toonsettings van die SA digter Fiona Zerbst) wat hy vir haar geskryf het vir die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees.

Want sy is liewer as ooit vir musiek, haar lippe is rooier as ooit en sy droom weer gróót.

“Om op die operaverhoog te sing, met die magiese effek van die verhoogligte, donker ouditorium en die klank van die orkes wat oor my spoel, voel soos vlieg. Dís magic.”      

* Lesers wat ’n kind wil help, kan navraag doen by jstrauss@durbanvillekinderhuis.org.za. Hulle het ook ’n Borg-’n-Kind-program.   

  • Yolande Louw

    EK het al my simpatie met jou, ek het n pa verloor en toe is ek deur n egskeiding, ek het laas jaar siek geword en my stem het net besluit om weg te bly vir vier maande, ek was raadop totdat ek ook gaan hulp soek het by Sielkundiges, n mens se liggaam is wonderlik, ek het gedink ek is ok maar my liggaam het my laat weet ek is nie, dit was die beste ding ooit om hulp te gekry het, ek is tans baie positief, dit help hoe n mens kan raad ontvang hoe om sekere dinge te hanteer in die lewe maar dan moet jy ook self die wilskrag he om dit te wil laat werk,
    Sterkte vir jou

  • knopkierie nel

    Prys die Here

  • Renske

    En sy vry in die bondel!!!!! Sies!!!!