Ons praat met

Zelda la Grange se beskeie broer

Zelda het haar “beskeie” broer dié week ’n streep getrek en sy nuutste prestasie op Facebook aangekondig: “Eks sooooooo trots op my boetie, Anton la Grange, wat Saterdagaand die AFO (Afrikaanse Fotografiese Organisasie) se Fotograaf van die Jaar-trofee gewen het, onder meer. Hy’s SO beskeie. Baie geluk boeta! So lief vir jou!”

Anton is op 44 die Ouboet, en betaal Zelda terug in eie munt. “Sy word Saterdag 41! Ons het in Pretoria grootgeword en is net die twee kinders en het soos kat en hond baklei toe ons klein was. Nou is ons baie na aan mekaar.”

Hy is hoof- gesondheidsopvoeder in Suid-Afrika vir Colombië Universiteit en lei onder andere dokters en verpleegsters op in die nuutste HIV- en vigs-navorsing. Sy werk is deel van die President Busch Emergency Fund for Aids Relief in Africa.

Die fotografie-gogga het hom in 2009 gebyt nadat ’n vriend sy vakansie-foto’s gekritiseer het.

“Ek het by die Universiteit van Pretoria by die Afrikaanse Fotografiese Organisasie aangesluit en het sedertdien verskeie pryse plaaslik en internasionaal gewen.” Om deel te wees van dié organisasie, moet mens aan plaaslike en nasionale wedstryde deelneem. Die organisasie self maak maandeliks toekennings en al die punte dra by tot die toekennings aan die einde van die jaar.

“Ek is aangewys as Fotograaf van die Jaar en het ook die prys vir die meeste internasionale punte gekry.”

Hy spesialiseer in natuurfoto’s, makro-foto’s (waarin hy onder meer insekte van naby afneem) en menslike portrette.

“My broer het nog altyd die vermoë gehad om dinge op ‘n spesiale manier in oënskou te neem. Fotografie gee hom die perfekte medium om met ons die perfeksie te deel wat hy raaksien. Hy is kreatief en skeppend en volg sy passie. Ek is ongelooflik trots op hom met al sy toekennings,” vertel Zelda.

Hy vind haar en haar werk ewe inspirerend en was gevlei toe sy hom in Julie genooi het om deel te wees van die Bikers for Mandela-veldtog. Hy was die amptelike fotograaf van die veldtog en het oral waar hulle aangedoen het by nie-regeringsorganisasies sy kennis oor HIV en vigs gedeel.

“Dit was ’n ervaring wat my nederig laat voel het. Ek besef hoe baie het ons om voor dankbaar te wees.”