zolani_beauty_copy
Ons praat met

Zolani van Freshlyground se eiland

Butiama-strand op die Mafia-eiland in Tanzanië sal altyd ’n spesiale plek in die hart van Zolani Mahola (29) hê.Dis daar waar sy gaan rus het ná ’n groot maar uitputtende hoogtepunt in haar loopbaan.

As hoofsanger van SA se baie gewilde musiekgroep Freshlyground was sy verlede jaar in die internasionale kollig met die Wêreldbeker-sokkertoernooi se amptelike liedjie, “Waka Waka”, wat die groep saam met die Colombiaanse sangeres Shakira sing.

Voor die toernooi is hul vierde album, Radio Africa, bekend gestel en net ná die groot sokker het hulle twee weke gaan toer in onder meer Nederland, Duitsland, Switserland, Tunisië en Angola. Terug by die huis het hulle ’n musiekvideo gemaak.

“Dit was net go, go, go!” vertel Zolani. Daar was nooit regtig tyd om stil te sit en ’n bietjie te dink oor die lewe nie. Dis goed om alles te ervaar, maar ’n mens word tog moeg. Ek móés net wegkom en rus.”

Sy en haar suster Lukhanyiso (26) van Port Elizabeth en dié se dogtertjie, Onwaba (2), het vyf dae lank in ’n strand-kothuis op die tropiese Mafiaeiland in Tanzanië gaan ontspan, waar hulle ’n slag kon “inhaal”met wat in die ander een se lewe gebeur.

“Ons het die wonderlikste bier gedrink. Die Kilimandjaro-soort was my gunsteling. Nie te bitter of te swaar nie. Daar was reuse-papajas en vars vis in alle vorme: gekerrie, gebraai, viskoekies, visvingers . . . En die Tanzaniese mans is ongelooflik mooi!”

Sy kon nie haar vaste vriend van die afgelope sewe jaar saamneem nie, want hy moes werk. Hy is in die rolprentbedryf, maar sy wil nie sy naam verklap nie.

Sy vertel opgewonde: “Bedags het ons gesnorkel. Die wêreld onder die water is so stil. Dit het ’n ander hartslag. Die doel van die vakansie was om my kop te verwyder van my besige bestaan, van harde klanke en flitsende ligte. ”

As kind was sy al dol oor die koesterende rustigheid van water en die see. Sy het in Port Elizabeth grootgeword en dié stad se Somerstrand was ’n lekker kuierplek.

“Water is gerusstellend, maar ook gevaarlik. Dis daardie tweekantigheid waarvan ek hou. Dit omhels jou, of dit tol jou om en spoeg jou uit.” Zolani is een van tien kinders

(vyf broers en vyf susters). Haar ma, Nobantu, is dood met die geboorte van haar elfde kind. Die baba het dit ook nie oorleef nie. Zolani was toe maar sewe jaar oud. Kort daarna is haar pa, Nceba (nou in sy sestigs), weer getroud.

“Dit was moeilike jare en ek het my oor baie dinge bekommer as kind, maar musiek het my altyd gelukkig gemaak. Op hoërskool het my onderwyseres my dramatalent raakgesien en danksy ’n beurs kon ek toe by die dramaskool aan die Universiteit van Kaapstad inskryf, want my pa kon nie klasgeld betaal nie.”

Hier het sy Aaron Turest Swartz, ’n medestudent en een van die stigterlede van Freshlyground, leer ken. Hy het haar gevra om vir hulle te sing. Hulle beplan later vanjaar ’n Europese en ’n Amerikaanse toer en wil nog ’n paar musiekvideo’s maak. Kerstyd het Zolani in die Transkei gaan uitspan en by haar familie in Port Elizabeth gaan kuier.

Sy beplan om eendag kinders te hê en weer toneel te speel. Maar vir eers troetel sy die herinneringe aan Mafiaeiland, waar jy saans die son soos ’n bol vuur sien sak op die horison . . .

  • http://nclkuvggflyw.com/ erckdpiyya

    jppkqe xipfzlcayole, [url=http://qvblpxbezqul.com/]qvblpxbezqul[/url], [link=http://mirqvcgnydzu.com/]mirqvcgnydzu[/link], http://cszvryxsykjj.com/