16-jarige Katryn Kruger dié model om dop te hou!
Foto’s: Gallo images/Getty images Galery
Afrikaans en skaars 16, maar die modewêreld gons dat sy dié model in 2012 gaan wees!
In Oktober 2010 het Katryn Kruger nog netbal gespeel en kwalik geweet van die tydskrif Vogue.
’n Jaar later, op 2 Oktober, het dié 16-jarige op elegante swart hoëhakskoene, in ’n roomwit knieromp en bypassende chiffontop, waaroor nóg ’n winterwit vallebloes getuimel het (ontwerp deur Riccardo Tisci), in haar volle glorie van 1,8 m by die Givenchy Lente/Somer 2012-modeskou in Parys gedebuteer.

Sy moes haar kastaiingbruin lokke pikswart kleur vir dié kwartier op die loopplank. “Dit was baie opwindend, hoewel ek effens senuweeagtig was voor die tyd. Dán raak ek gewoonlik stil. Ek onttrek my.”
Katryn was eksklusief bespreek om Givenchy se klere tydens dié modeweek te modelleer, wat beteken het sy mag nie vir iemand anders op die loopplank verskyn het nie.
“Dis ’n báie groot eer. Ek is mal oor Riccardo se klere vir Givenchy. Dis stylvol, vroulik en drabaar. Van die klere wat ons op modesessies dra, is soms baie eksentriek.
“Die Brasiliaanse top-model Gisele Bündchen het dié vertoning afgesluit. Sy het ná die tyd vir my gesê ek het goed geloop. Sy is báie plat op die aarde en menslik. Ek hoop mense ervaar mý ook eendag so.”
Katryn, ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Tygerberg in 2012, is heel toevallig in 2010 voor ’n rekenaarwinkel in die Canal Walk-sentrum by Kaapstad deur die akteur en model Robert Bester (destyds Zac in 7de Laan) raakgesien. Hy het haar ouers, Aletta, ’n bedryfsredakteur, en pa, Pieter, ’n onafhanklike makelaar, gevra of sy in modelwerk sou belang stel.
In November dieselfde jaar het sy deeltyds vir Y-Models in Kaapstad begin werk. Een ná die ander ding het gebeur. Eers het ’n internasionale werwingsagent van die IMG-agentskap in Parys ’n kontrak met haar gesluit, en in die afgelope Junie-skoolvakansie is sy Parys toe.
“My ouers was vir ’n week saam. Ek is mal oor Parys. Die ou geboue, mooi winkels, die metro wat jou in staat stel om orals te beweeg, die straatkafees. As ek daar werk, bly ek in ’n woonstel saam met ander modelle oorkant die Saint-Martin-kanaal.”
Sy vertel sy is in die beste hoërskool in die wêreld.
“Hulle ondersteun my modelwerk en verwag net dat ek my verlore skoolwerk self inhaal. Ek probeer nooit langer as ’n week tot tien dae aaneen weggaan op ’n modesessie nie, anders mis ek té veel skoolwerk en dis vir my baie belangrik. Ek wil matriek voltooi en sal graag eendag verder studeer in tale deur ’n korrespondensiekursus van Unisa.
“Maar tans is dit wonderlik om soveel nuwe mense te ontmoet; ek groei baie so op my eie. Natuurlik mis ek my ouers, my worshond-babas Rolo en Crunchie, my broer, Albert (13), lekker lawwe skoolervarings en vriende. Maar daar is gelukkig Facebook en ek lees baie. Ek dink ook dis belangrik om gemaklik te wees in jou eie geselskap.”
’n Groot hoogtepunt tot dusver was die gesogte Prada Lookbook, ’n katalogus van dié Italiaanse modehuis met modes vir 2012, waarvoor Katryn in Junie in Milaan was.
Einde Oktober het sy weer vir ’n naweek Parys toe gevlieg vir ’n mode-artikel vir die tydskrifte Jalouse en Dedicate.
Katryn het nie juis ’n “skoonheidsgeheim” nie. Sy sê sy glo maar net in gesond eet, drink baie water, stap Parys se strate plat, wend getrou dag- en nagroom aan en gebruik min grimering omdat sy glo jong velle het dit nie nodig nie. En sy lag baie.
“Ek glo as jy vir jouself kan lag, is jy heel orraait.
“Dit gaan nie nou vir my soseer oor die geld wat ek verdien nie. Mamma se kos is nog die lekkerste. Die twee wêrelde hou my nederig. En my ouerhuis hou my geanker.
“Dit gaan oor die ervarings. In die een haal ek saans grimering af. In die ander een doen ek huiswerk.
“Boonop weet ek hoekom ek hier beland het. Ek het lank gelede, as klein dogtertjie, gebid dat iemand my eendag moes raaksien ...”
FOTO: KATRYN AS KLEUTER SAAM MET HAAR MA, ALETTA

KATRYN AS MODEL IN DIE NOVEMBER 2011-UITGAWE VAN SARIE

Verwante artikels
-
Kaapse model in Prada se nuwe advertensieveldtog
SARIE Januarie 2012
Katryn Kruger, die Afrikaanse meisie van Durbanville, pryk tussen top internasionale modelle in Prada se splinternuwe advertensieveldtog.
-
SA model Katryn Kruger 'n sensasie in Parys
SARIE Februarie 2012 | Kommentaar: 1
Jy’t haar eerste in SARIE gesien! Die jong Kaapse model Katryn Kruger is ’n sensasie in Parys, waar sy pas met een van die grootste komplimente in die modewêreld vereer is.





















Kommentaar
C het gesê:
Sjoe, sy is regtig pragtig.
25ste Jan. 2012, 06:10Rensche Bougas het gesê:
Sjoe,sy s pragtig!gewis n gebore model,sterkte!
5de Jan. 2012, 21:30Zahnie Harris het gesê:
Ek gaan jou loopbaan volg!
5de Jan. 2012, 13:48Sarah Steyn het gesê:
Wat 'n pragtige jongvrou!
5de Jan. 2012, 10:43MARIETJIE OOSTHUIZEN het gesê:
BAIE ELEGANT! GENIET DIE LEWE! WENS MY DOGTER KON RAAKGESIEN WORD!
5de Jan. 2012, 10:09Hermina het gesê:
Sy is stunning.
5de Jan. 2012, 09:37Christa van der Walt het gesê:
Wow.....Katryn jy's pragtig!!!!
5de Jan. 2012, 09:30