Amanda Strydom se hoop, vrees en lewenslesse
Foto’s: Phyllis Green Galery
Sy ryk vanjaar 'n nuwe album uit ná die onlangse verskyning van die CD Briewe uit die Suide in België en Nederland.
EK HOOP
dat mense ryker en vervuld sal voel as hulle by my vertonings uitstap en daardie gevoel sal saamneem.
om weer eendag ’n rol in ’n goeie drama te vertolk. Ek broei ook al lank oor ’n boek, maar wil nie nou te veel daaroor sê nie.
en wens dat die kunste in SA met dieselfde oordaad ondersteun sal word as sport.
en bid vir die opheffing van die armes, die beveiliging van ons land se mense, die koestering van ons kinders. Dis die kinders in die nuwe Suid-Afrika wat my hoop gee - swart, bruin en wit - wat hand aan hand die toekoms kan ingaan.
EK VREES
nee, nie om oud te word nie, maar om pateties en afhanklik te word, ja.
die verlies van waardes, van die geborgenheid waarin ons land se kinders moet grootword. Ek is bang vir die selfvoldane houdings van ons eie en wêreldleiers, is woedend oor die ongeërgdheid waarmee ons regering kwessies soos armoede en vigs hanteer.
daardie skel neonligte en ontblotende spieëls in aanpashokkies! Hulle moet terapeute aanstel by elke boetiek om vroue van my portuur berading te gee vóór en ná die tyd. Dalk koop ek dan iets!
WAT EK NOU WEET
Dis só verlossend om van bagasie en selfbeheptheid ontslae te raak. Die lewe is so kort, als is vervlietend. Daarom moet ek nóú doen, en nie net daaroor droom nie.
Ek kan nie sonder musiek lewe nie, dis terapie vir my gees en ’n wonderlike uitlaatklep vir my emosies. Om skeppend te wees hou ’n mens jonk. Ek sit op God se skoot wanneer ek sing.
Ek gaan nooit weer in ’n nommer 10-rok of -jeans pas nie, maar nogtans sal ek jubel . . .
Die mooiste en kosbaarste geskenke is gratis vir my gegee - my talent, die vermoë om lief te hê, om liefde te ontvang, om te vergewe, om te groei. En natuurlik ook: my vriende en
familie (wat nie nonsens van my vat nie). Hulle hou my plat op die grond. Stadig oor die klippers, en moenie die bobbejaan agter die berg gaan haal nie.
Ek moes vasgebyt het met klavierlesse en note leer lees het. En ek moes nooit my welige wenkbroue in standerd agt laat uitpluk het nie! Verder - non, je ne regrette rien!
Om ouer te word is ononderhandelbaar en onvermydelik. Dis die wonderlikste deel van die reis. Die insig wat kom met ouer word, is so kosbaar. Ek voel gemakliker met myself, ek weet waarvan ek hou en wat ek wil en nie wil doen nie en dat dit in orde is om te sê “nee dankie”, waar ek voorheen dinge teen my sin gedoen het.
Die dood van my broer, André, en Ralph (Johannes Kerkorrel) het my teruggeskok na die besef van verganklikheid. Ek wou nog so baie met hulle deel. Nou probeer ek twee keer dink voor ek iets sê wat ek later kan berou. Ek luister ook geduldiger na mense, dis ’n klein oorwinning vir my.
Die grootste fout wat depressielyers maak, is om in ontkenning te leef en sodra hulle beter voel, hul medikasie weg te smyt. Dis só belangrik dat jy weet wat die siekte en die tekens is, hoe om jouself op te pas. Jy verloor nié jou kreatiwiteit of identiteit as jy medikasie gebruik nie.
’n Kunstenaar is niks sonder sy publiek nie. Dat hulle steeds kom luister en meeleef, is vir my ’n grootse kompliment. Elke optrede is soos ’n skelm liefdesverhouding. Ek gee my hele siel vir jou en ons deel elke emosie denkbaar vir negentig minute, dan is dit verby tot ons weer ontmoet.
God het my gemaak om altyd weer op my voete te beland - en dis net genade. Ek is gebore en grootgemaak met ’n geweldige sterk wil om te oorleef, om op te staan en weer te
begin. Ek leer elke keer opnuut, en ek wil nooit ophou leer nie.
- Hare Deirdre
- Grimering Deirdre
Verwante artikels
-
Aanpashokkies ...
SARIE - September 2009
-
Amanda Strydom
Wat die volgende 30 jaar inhou, weet sy nie. "Genugtig! Dit klink soos 'n ewigheid. Ek laat dit in die Groot Regisseur se hande." - Amanda Strydom oor haar 30ste jaar op die verhoog (Die Burger) Sy tree Woensdag 11 Maart in 'n Vuur Gevang in Glas by...
-
Amanda Strydom - KKNK
"Dis genesende vermaak. Ek skryf wat ek voel en dan komponeer ek. Dít is hoe ek met mense se harte praat." - Amanda Strydom oor haar produksie, Saam, met Lize Beekman, Krit-feeskoerant. Amanda vier vanjaar haar 30ste jaar in die vermaaklikheidsbedryf en...
-
Amanda Strydom se roerende brief aan Johannes Kerkorrel
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 6
Met die produksie Persreën by Aardklop bring Amanda Strydom hulde aan Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie). In hierdie emosionele brief vertel sy hoe diep die spore van hul vriendskap was:














Kry jou SARIE oral, enige tyd