André le Roux verklap ...
Foto’s: Inge Prins Galery
Oor Charlotte Rampling, 'n perd, bikini's ver van die see - en 'n gebukkery by SARIE . . .
André le Roux, samesteller van SARIE 40 flitsverhale (Human & Rousseau, R165), SARIE-rubriekskrywer en wenner van verskeie joernalistieke pryse, het ’n paar dinge aan Marguerite van Wyk verklap wat min mense van hom weet.
Wie dink jy (behalwe jou eie vrou) is die mooiste vrou op aarde?
Aarde! Charlotte Rampling op die perd se rug.
Wat is jou kinders se name en ouderdomme en wat doen hulle?
Selene (= maangodin) studeer nagraads letterkunde en gee klas, Petro werk by 'n motorverhuringsplek. En ek het al geleer om nie 'n vrou se ouderdom te verklap nie al is sy hóé jonk.
Wat is jou gunsteling-gereg en wat eet jy glad nie? Ook jou gunsteling-drankie.
Ek’s nie veel gepla oor kos nie. Vis en steak, biltong en droëwors (natuurlik). Dit gaan nie vir my soseer oor die soort kos nie, maar oor die tekstuur. Daarom eet ek nie goed soos quiches en broccoli nie. En glad nie tong en lewer en afval nie, dis organe! Drink whisky en Coke (nie saam nie).
En jou gunsteling TV-program?
Nuus, Binnelanders, Kwêla, Desperate Housewives.
Wat irriteer jou?
Domgeit.
Hoekom hou jy nie daarvan om ’n pak of das te dra nie?
Ek hoort eintlik in die veld êrens in die Karoo.
Wat is vroue se grootste swakhede?
Jy vra moeilike vrae. Dit sal van vrou tot vrou verskil. Maar oor die algemeen dink ek vroue is te liggelowig, hulle val te maklik vir praatjies.
Waarmee kan ’n man ’n vrou se hart wen?
Woorde (of praatjies).
Wie is jou gunsteling-skrywers?
Te veel om op te noem. Charles Bukowski, Raymond Carver.
Wat is die grootste belediging wat jy nog ooit gekry het?
Ek weet nie van beledig nie. Ek raak wel oneindig kwaad as jy my valslik van iets beskuldig.
Wat is die beste pluimpie wat jy nog ooit gekry het?
Elke woord van waardering van SARIE-lesers.
Jy werk tussen oorwegend vroue by SARIE. Geniet jy dit of is dit soms vir jou moeilik?
Altyd maklik, praat van geniet! ’n Mens sien sulke interessante dinge, want daar’s mos altyd iemand wat êrens buk of so. Eenkeer het ek my by die hysbak vasgeloop in ’n hoop modelle – ’n hele troppie van hulle – almal net in bikini’s. En jy moet onthou ons is 10, 12 km van die naaste see! Ek het groot geskrik.
Jou gunsteling-manier van ontspan?
Lees met ’n glas whisky. Of ek doen houtwerk. Enige skrywer behoort houtwerk te doen.
Waar hou jy die graagste vakansie en hoekom?
Karoo, en Plettenbergbaai (net omdat my vrou tyddeel daar het).
Wat is die beste, wyse woorde wat jy nog ooit in jou lewe gehoor het en wie het dit vir jou gesê?
Dink vir jouself. My Pa.
Hoe wil jy hê moet jou kinders jou eendag onthou?
Nes ek is, hoe anders?
** Watter vraag wou jy nog altyd vir 'n man gevra het, maar kon nog nooit die moed bymekaar skraap nie? Laat weet ons hier.
Verwante artikels
-
'In die slaghuis' - André le Roux
'Dis toe dat die vies vrou haar plastieksak met die skaaptjops hier van onder af opbring, en sy slaan die vriendelike man...'
-
André le Roux: "Vroue gaan winkels toe oor hul hormone"
SARIE - Desember 2010
'Ek sien jou! Hoe hou jy van my potensiaal?'
-
André Le Roux: "Vrouens shop in groepe"
SARIE - November 2010
-
Nuut! SARIE 40 flitsverhale
SARIE - Junie 2009
Nataniël, Anna-Mart, Amanda Strydom, Koos Kombuis en vele meer gee 'n blik op 'n lewensoomblik















Kommentaar
Heleen het gesê:
Geniet jou rubriek baie. Lees nie Sarie so gereeld nie, maar wanneer ek wel die kans kry, is dit die eerste ding wat ek lees.
2de Jul. 2009, 14:06Petro Viljoen het gesê:
my pa is 'n superster in my oe, het baie in sy lewe vermag, en ek dink hy is baie wys. Hy doen ons taal trots, en ek is trots om afrikaans te wees, sy kind te wees, hy is 'n wonderlike pa. petro
29ste Jun. 2009, 15:24Hannely het gesê:
Jy is so cool!!! Jy het seker 'n great verhouding met jou dogters ook. Dis so lekker om 'n "verligte" Afrikaanse man as deel van ons liefling tydskrif se span te sien! Ek mis steeds vir Izak de Villiers. Hou so aan...wat ook al uit jou pen kom,is baie genotvol!!!! Dis min dat 'n man op 'n sexy manier sulke "blatante" opmerkings oor 'n vrou (sy eie vrou ook!)kan maak, en daarmee wegkom,haha
29ste Jun. 2009, 10:27