Coenie de Villiers gesels oor sy nuwe album
Foto’s: verskaf Galery
Dit is drie jaar sedert Coenie de Villiers ’n album vrygestel het. Met sy splinternuwe CD, Hart van glas, neem hy sy aanhangers op ’n musikale reis van formaat.
“Hart van glas is ’n baie groter, meer volwasse album. Dit voel vir die eerste keer vir my asof ek werklik iets van waarde maak, en nie net in die kantlyn saamspeel nie,” sê Coenie aan sarie.com.
Die CD bevat 14 snitte, waaronder "Thula" saam met Amanda Strydom en Sibongile Khumalo, en Wonder bo wonder saam met Die Heuwels Fantasties tel. Jan Blohm sing saam met Coenie die gewilde "Heimwee", wat Mimi Coertse jare gelede bekend gemaak het en deur S. le Roux Marais en J.R.L. van Bruggen geskryf is.
“Ek hoop gewoonlik die mense wie se musiek ek geniet, is bereid om saam met my op te tree. Ek is ʼn groot aanhanger van almal wat meedoen op die album, en dit was heerlik om saam met hulle in die ateljee te werk,” vertel Coenie.
Die CD is oor etlike maande in sewe verskillende ateljees deur sewe verskillende klank-ingenieurs opgeneem. Jaconell Mouton is die regisseur van die album, en Coenie verwys na haar as ’n musikale fenomeen.
Dit is ook sy wat Coenie en Grammy-wenner Jeremy Lubbock se paaie laat kruis het. Jeremy, wat die musiek vir Hart van glas met ’n volle simfonie-strykseksie in Kaapstad opgeneem het, het al met kunstenaars soos Céline Dion, Michael Jackson en Madonna saamgewerk.
Alhoewel Coenie nie gaan toer met dié album nie, gaan hy wel optredes doen waarin die nuwe musiek gehoor kan word.
“Die album is van internasionale gehalte, natuurlik te danke aan al die ongelooflike mense wat saam daaraan gewerk het,” meen Coenie.
Self luister hy na alles van rock tot jazz, en sy musiek word geïnspireer deur enigiets – van ’n frase hier tot iets wat iemand kwytraak daar ... “Dis moeilik om te verduidelik, maar as jy dit hoor, weet jy net – dít gaan ’n liedjie word.”
Die vrystelling van Hart van glas is vir Coenie ’n hoogtepunt in 2011, maar ook die toekenning by Skouspel vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek staan vir hom uit in die jaar wat verby is.
Verwante artikels
-
Coenie de Villiers en Die Heuwels Fantasties sing saam
SARIE - Desember 2010
Dit gons nou al vir 'n wyle dat die ikoniese sanger en liedjieskrywer Coenie de Villiers gaan kragte saamspan met die talentvolle manne van Die Heuwels Fantasties.
-
Lisa Marie Presley se nuwe album – die 1ste in 5 jaar
SARIE Maart 2012 | Kommentaar: 1
Kan jy enige liedjies deur Elvis Presley se dogter, Lisa Marie, onthou? Wel, sy beplan om 'n nuwe album – haar eerste in vyf jaar – bekend te stel.
-
Mimi word vereer op 80
SARIE Februarie 2012
Die glansryke musikale huldeblyk, kykNET vir Mimi, is ’n viering van die musieklegende Mimi Coertse se roemryke loopbaan en word op Vrydagaand 17 Februarie 2012 by die Kunstekaap gehou.
















Kommentaar