EKSKLUSIEF: Patricia se stem gespaar!
Dit was slegte nuus vir Patricia Lewis. Ses nie-kankeragtige gewasse sou naby die sangeres se stembande verwyder moes word, wat haar sangloopbaan kon kortknip. Nou is dit net die lááste opsie . . .
Sy het eksklusief met Marguerite van Wyk vanaf hul vakansiehuis in Balito in KwaZulu-Natal gesels waar sy en haar familie die afgelope week aangesterk het ná griep.
Wat het verander?
Nadat die bom oor my tumors in die pers gebars het, het ek baie e-posse en oproepe van dokters en professore ontvang. Ek het gehoor van 'n Duitse dokter, 'n vrou, wat 'n nuwe, kontroversiële antibiotikum daarvoor oorweeg. En ek het self baie navorsing begin doen. Ek kyk ook na die sogenaamde Scio-behandeling. Dis 'n masjien wat gebruik word (moenie my vra hoe dit werk nie, dis iets wat 'n blonde nie verstaan nie!) om die tumors te laat verdwyn. Ek sal waarskynlik vroeg aanstaande week met die eerste van 'n paar Scio-behandelings begin. Dit sal natuurlik ook help as ek gesonder begin leef en meer vitamienes drink. Ek sal ook daarna kyk om pille te drink om my onderaktiewe skildklier te behandel. Dit behoort die skildklier-werking te stabiliseer. Tot dusver het ek daarvan weggebly. Die dokters wil net sny, maar as jy 'n sanger is, is daar baie op die spel. En ek wil weet ek het al die moontlikhede ondersoek voordat ek dít oorweeg.
Gestel daar moet tóg geopereer word en jou sangloopbaan is op 'n einde, hoe sal jy dit verwerk?
Een van die belangrikste lesse wat ek van my ouers geleer het, is dat ek altyd moet vasbyt. As dit só moet wees, sal ek aangaan met my lewe. Ek en my man, Mark Whitfield, ontwikkel eiendomme in Balito en sal daarmee voortgaan. Ek sal steeds sing in die stort! Ek weet nie of ek vir Max (5) sal sing nie, want soms as ek die radio aansit en 'n liedjie saamsing, sê hy: 'Mammie, bly stil, ek wil die liedjie hoor.' En ek sal voortgaan om vervaardiging vir TV te doen.
Jy het blykbaar 9 kg aangesit die afgelope jaar as gevolg van jou onderaktiewe skildklier. Het jy dit al afgeskud?
Ek was obese en het binne twee weke 5 kg verloor. Beslis nie op die gesondste manier nie. Ek het myself uitgehonger en sowat 100 km op die treadmill gehardloop. Ek pas nou weer in my nr. 32-jeans.
Watter ander gevolge het die skildklier op jou gesondheid?
Ek was bietjie "af“, maar dit beteken nie ek loop 24 uur van die dag met 'n lang gesig rond nie. Solank ek weet my man en kind is reg, is ek tevrede. My probleme met die skildklier het ook veroorsaak dat nie al my hormone afgeskei word nie.
Hoe kry jy dit reg om so positief te bly?
My geloof help baie. Ek bid elke tien minute. En ek sê sommer vir Hom dankie vir 'n mooi sonsondergang, vir my lewe en vra dat die Here my ouers, my kind en my man oppas. Ek kry ook baie bemoedigende e-posse, SMS’e en oproepe van familie en vriende. Ek is vanjaar twintig jaar in die bedryf. Soms kry 'n mens negatiewe kommentaar van 'n suurknol, maar ek steur my nie daaraan nie. 'n Mens besef nie almal kan van jou hou nie. Oor die algemeen is die aanhangers baie opbouend. Dit drá my.
Hoekom werk jou en Mark se verhouding so goed?
My man is ongelooflik. Hy bring soggens vir my tee in die bed, masseer my en as ek "af“ voel, dan huil ek in sy arms en hy sê ek hoef my oor niks te bekommer nie. Als sal regkom. Ons lag ontsettend baie. Vír en saam met mekaar. Die afgelope 7 jaar is ons 24/7 saam. Ons was nog net een aand nié bymekaar nie en dis toe sy pa dood is en hy George toe moes vlieg. Maar ek het die volgende dag by hom aangesluit. Ons glo mens moenie lewensituasies té ernstig opneem nie. As dinge vandag sleg is, kan dit môre net beter gaan. "If life hands you lemons, make lemonade." Ek is terloops ook mál oor suurlemoene en eet dit sommer net so. Dit is ook goed vir die stem – as ek CD’s opneem, drink ek warm tee met suurlemoen en heuning.
Verstaan Max dat jy nou 'siek' is?
Hy is bietjie angstig en as hy na 'n TV-program kyk waar 'n operasie op 'n dier of mens gedoen word, vra hy: 'Mammie, gaan hulle jou ook so opsny?'
Hoe voel jy fisiek – het jy enige pyn of ongemak?
Daar is net 'n effense drukking op my stembande, maar ek voel glad nie siek nie. Ek lei my lewe absoluut normaal. Maar sommige dae voel ek wel soos 'n hond as ek wakker word. Dan kyk ek nog in die spieël en lyk ook soos 'n hond! Maar as ek eers gestort het en my man en kind het my gesoen, is die lewe weer reg.
Wat het jy uit dié ondervinding met die tumors naby jou stembande geleer?
Moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie. Die lewe is heilig, broos en wonderlik. Leef só dat jy iets vir ander beteken. Die lewe sal 'n baie beter plek wees as ons ander behandel soos wat ons behandel wil word.
Jy en David Hasselhoff het onlangs duette opgeneem. Daar is in die pers bespiegel dat dit moontlik die laaste keer kan wees dat jy sal sing . . . Wat het jy die meeste van dié ervaring geniet?
Ons het gerol op die vloer soos ons lag. My man het als verfilm vir David se werklikheidsreeks wat in Amerika uitgesaai word. David is 'n ongelooflike vriend wat halfpad rondom die wêreld gevlieg het om my by te staan. Dit was 'n wonderlike ervaring.
Jy het sekerlik 'n gunsteling-liedjie wat jy self sing . . .
Ek was nog nooit 'n groot fan van my eie musiek nie, ek is ontsettend krities op myself en ek haat dit om na myself op televisie te kyk. Maar toe ek swanger was het ek "Tuine van my siel" vir klein Max geskryf. Hy het nog in my maag geskop. Dis 'n baie spesiale liedjie vir my. Ek het dit gesing by Skouspel toe hy ses maande oud was.
Verwante artikels
-
David Hasselhoff wys sy nuwe liefde
SARIE Julie 2011
Die TV-held en Britain’s Got Talent-beoordelaar David Hasselhoff het sy nuwe liefde aan Hello! gewys. Die paartjie het, heel gepas, in ’n Baywatch-fotosessie vir die tydskrif geposeer.
-
Patricia Lewis oor haar man, Mark
SARIE Augustus 2010
-
Patricia Lewis terug met Supersterre
SARIE - Februarie 2010 | Kommentaar: 39
-
Patricia Lewis: Altyd my ma se superster
SARIE - November 2007
Op 40 praat Patricia Lewis openhartig oor hoe die lewe haar soms verniel het – tog het sy wyser anderkant uitgekom ...
















Kommentaar
Ann het gesê:
Hi Patricia, dankie dat ek vir jou kan e-pos. Ek was nog my hele lewe to nou nog altyd gesond. Verlede week moes ek Dr toe weens n drukking in my keel. Ek is gestuur vir n sonar en vind toe ek het colloid cyst 2 van 2mm. Hulle se dit is nie kwaadaardig nie maar dit pla nogal.Jy se jy eet graag suurlemoene? Ek doen dit ook ! met baie sout.Is dit nie dalk die oorsaak van die cysts wat ek het nie? Die drukking in my keel is nog steeds daar. Groete, Ann
21ste Nov. 2010, 20:31Beverley het gesê:
Veel sterkte , ek weet alles is moontlik met geloof. Keep the faith and you will succeed. God is true!
26ste Jun. 2009, 00:29Gertie het gesê:
Baie sterkte Patricia!!! Jy's 'n ongelooflike en pragtige mens!!! Mag die Scio-behandeling werk!! Kyk mooi na jouself!!
25ste Jun. 2009, 14:38Elizabeth van Zyl het gesê:
Ek bid vir jou en jou gesin, ons kan maar net aan ons Hemelse Vader se hand vashou vir leiding en by hom skuil in moeilike tye. By Hom is niks onmoontlik nie. Soms gebeur dinge in ons lewe om ons sterker te maak. Ek bewonder jou: jy glo in God, jy is positief, en is 'n wenner! Sterkte vorentoe.
25ste Jun. 2009, 13:53Hester het gesê:
Patricia, jy moet altyd so pragtig bly. Hou vas aan jou geloof in God, doen wat reg is en wat jy geniet en weet S.A luister na jou musiek en wens jou net die beste toe. Voorspoed met jou en jou gesin. Wanneer kan ons die volgende baba verwag. Ek dink dit is tyd.
25ste Jun. 2009, 09:46Terry Viljoen het gesê:
'n Positiewe uitkyk op die lewe maak al klaar van jou 'n wenner Patricia. Ek glo jy gaan op die ou end gesond anderkant uitkom watter pad tot genesing jy ookal gaan volg. Wat 'n wonderlike onderseuningsbasis het jy in jou gesin.
23ste Jun. 2009, 14:59Elsa de Klerk het gesê:
Patricia ek glo jy is 'n sterk mens en jou positiwiteit maak jou 'n wenner! Wees net altyd jouself want dit is hoe ons van jou hou. Sterkte vir jou en jou gesin!
22ste Jun. 2009, 07:25Lisa het gesê:
Sterkte Patricia. Dis nie maklik om altyd positief te bly dink en op te tree nie, maar met God is ons tot alles in staat in die lewe!!
22ste Jun. 2009, 06:11Ria Harmse het gesê:
Ek glo daar is slegs een keer in jou lewe wat dit met jou sleg gaan. Dit is as jy die oggend opstaan en in die spieël kyk en niks sien nie. Dan het jy verdwyn in definitief nie in die regte rigting nie! Ek het 'n brein tumor van 8,6cm gehad 7 jaar gelede wat suksesvol verwyder was en as ek die bewerigheid, epilepsie pille en nie mag bestuur nie uitskakel, gaan dit met my beter as ooit. Ek neem jou opmerking van elke 10 minute 'n gebedjie ter harte. Myne dink ek is dalk 'n rapsie verder! Sterkte en groete! Ria
21ste Jun. 2009, 02:50Annette Hartman het gesê:
Pragtige artikel - alle sterkte Patricia
21ste Jun. 2009, 01:47Wilma Joubert het gesê:
Ek is werklik saam met Patricia dankbaar dat sy dalk kan genees word sonder 'n operasie. Ek glo dat dit vir 'n sanger/es baie moeilik moet wees om sy/haar loopbaan te moet stop. Sy moet net onthou dat omtrent die hele SA agter haar staan en saam vir haar bid. Haar positiewe gesindheid dra defnitief ook by tot haar herstel. Sterkte!
20ste Jun. 2009, 05:29Ronel het gesê:
Dit is altyd lekker om op hoogte gehou te word van wat in die vermaaklikheids mense se lewe aangaan. Op die einde van die dag is ons almal net gewone mense. Ek self het skildklier kanker gehad en dit motiveer my nou meer om die lewe uit n ander oog te sien. Alles wat mooi is vir Patricia en all sterkte vir wat nog moeg gedoen word re die behandeling
20ste Jun. 2009, 02:54Annette Havenga het gesê:
Ek dink Patricia is 'n "amazing" vrou en beslis 'n rolmodel. Gaan voort om so positief te wees, jy is in my gebede.
20ste Jun. 2009, 02:27Sandra O'Connell het gesê:
Die lees van die onderhoud met Patricia het vir my gevoel asof ek persoonlik met haar sit en gesels. Al die vrae was so toepaslik, so wat ons "gewone mense" sou vra en met haar antwoorde bevestig Patricia net weereens dat sy 'n opregte mens sonder enige by motiewe is. Dankie aan Patricia dat jy jou hart vir ons oopgemaak het en jou geloof en lewenspassie so mooi met ons deel.
20ste Jun. 2009, 01:58Pamela het gesê:
Alle sterkte Patricia, dinge kom op ons pad om net sterker mense van ons te maak. Julle klink na n fantastiese gesin!
19de Jun. 2009, 15:13