Janie du Plessis se hoop, vrees en lewenslesse
Foto’s: Huisgenoot/Gerda Genis Galery
Janie du Plessis, suksesvolle sakevrou en motiveringspreker, kyk na binne.
EK HOOP
om werklik nog tyd te maak vir stilte, vir Sabbatdae. Toe ek kanker gehad het, het ek dit aan myself belowe. Maar tyd bly die grootste uitdaging in my lewe - my dae is te vol.
om my sielerusplek te kry. In Portugal het ek so ’n huis gehad. Ek soek ’n plek wat my visueel sus en in harmonie is met my persoonlikheid. Ek is baie bewus van hoe lig val, hoe die tuin klink . . .
dat my onderneming (wat onder meer fokus op eiendomsontwikkeling) ander sal help om hul ideale te bereik. Ek geniet dit om geleenthede te kan gee aan mense wat ek raaksien. Ons ontwikkel onder meer ’n stadjie op ’n eiland by Aboe Dhabi (Verenigde Arabiese Emerate) . . . dis ’n lewenstaak.
om dalk eendag nog meer te fokus op motiveringspraatjies. Ek kry baie uitnodigings as spreker - ook van oorsee. Dis my stille geestelike manier om te deel wat oor my pad gekom het. Dis baie bevredigend. Dit dwing my om na te dink oor my eie situasie en om te doen wat ek sê!
EK IS BANG
vir finansiële onsekerheid. Dit maak my die heel bangste op aarde. Ek het dit al ervaar en dit het my totaal verlam. Ek sal myself blind werk, maar ek wil nooit weer bang wees vir môre nie.
vir hoogtes. En die donker. Tydens ’n kragonderbreking wil ek nie daai ene alleen voor in die gang wees met die kinders agterna nie! Ek raak nie angsbevange oor goed nie, maar ek is
bewus van my swakhede.
vir my siekte. Maar ek het nie ’n spesifieke dieet of ’n filosofie oor kanker nie. Ek kuier, drink wyn en ek draf wanneer ek die kans kry . . . dalk is my resep om net aan te gaan met die lewe. Op skool het ek geen bang haar op my kop gehad nie. Ek was mal oor avontuur, met provinsiale kleure in vier sportsoorte. Ek is nie meer so waaghalsig nie. Die rekonstruksie ná die mastektomie is beperkend; dit maak dit moeiliker om sport te beoefen. (Ek ry wel heeltemal te vinnig!) Maar om regtig fiks te wees is ongetwyfeld nog die heel lekkerste gevoel.
WAT EK GELEER HET
Ons Boere-ouers het ons geleer om tog so ordentlik te wees. Van ordentlikheid het ek al hoeveel potjies geloop - dis nie goed vir die selfbeeld nie. Jy moet vroeg in jou lewe leer om mooi met jouself te praat. Ek wil my twee seuns van jongs af die kuns van positiewe selfgesprekke leer.
Die heel belangrikste ding in ’n verhouding is om werklik die kwessies waaroor ’n mens nie eintlik wil praat nie, te kan oordra. Jy moet uit die staanspoor eerlik in ’n verhouding wees. Ek was geneig om stil te bly wanneer ’n ding my pla, maar het geleer om my opinie en gevoel op ’n kreatiewe manier te verwoord.
Ek het vroeg begin vry en was my lewe lank in verhoudings. Nou is ek, vir die eerste keer, alleen. Dis heerlik. Ek wil nie graag weer trou nie. My hart moet ’n bietjie rus. ’n Mens raak bang vir trou wanneer jy sien wat ’n tweede keer alles verg. Die bagasie wat jy kan erf (plus jou eie), is so oorweldigend dat dit amper voel soos nog ’n hele onderneming wat jy aanmekaar moet slaan. My eks-man is onlangs oorlede aan ’n hartaanval - dit was ’n vreemde ervaring.
In die sakewêreld het ek vir die eerste keer werklik kennis gemaak met negatiwiteit. Daar is altyd iemand wat ’n ander ou se brood van sy bord wil steel. Ek het my nis gevind in die kreatiewe en konseptuele sy van sake.
As werkende enkelma was ek oorbewus van my tekortkominge. Noudat my seuns ouer is, besef ek: ’n Kind weet jy dink aan hom, al is jy nie daar nie. Hy verstaan al die dimensies van hoe lief jy hom het. Hy weet wie jy is.
Ek moet nog leer om net niks te doen nie. Eendag by my begrafnis gaan almal so ’n sug van verligting gee, en sê: Dankie tog, dis nou verby!
Baie mense droom van oorbegin. Daar is makliker maniere om oor te begin as waaroor ons fantaseer. Jy hoef jouself nie na ’n ander plek te verplaas nie. Dit lê net in ’n besluit. Ons het almal onvoltooide drome en ideale wat ons weer moet gaan haal en uitleef.
- Foto van Huisgenoot /Gerda Genis
Verwante artikels
-
Hoe't jy gevoel toe... Romanz jou liedjie opneem?
SARIE - September 2009
’n Liedjieskrywer van George, Adri van Nieuwenhuizen, het die liedjie “Journey of Hope” geskryf vir die jaarlikse Journey of Hope-veldtog.
-
Janie blog: "In een sekonde kan jou hele lewe verander ..."
SARIE - Maart 2011 | Kommentaar: 1
Vanoggend het Judith, wat by my aan huis werk, met trane in die oe by die werk opgedaag. Sy't 'n gruwelike ongeluk op die hoofweg gesien met 'n kind wat dood in die pad gelê het. 'n Taxi het 'n kop aan kop botsing gehad met die kar van 'n pa wat op pad skool toe is met sy dogtertjie in 'n pienk rokkie.
-
Janie du Plessis blog: "Die vakansie is verby – ek't ‘n vakansie nodig!"
SARIE - Maart 2011 | Kommentaar: 2
‘n Paar dae gelede het ‘n vriendin vir my gevra hoe dit gaan, wat my nuwejaarsvoorneme is en wat my mikpunte vir 2011 is. Ek weet nie! Ek het nog nie eers kans gehad om daaraan te dink nie!
-
Janie du Plessis en kie. op Harleys vir borskanker
SARIE September 2010
Die Revlon Journey of Hope, 'n borskanker-bewusmakingsveldtog skop weer in Oktober 2010 af.















Kry jou SARIE oral, enige tyd