Karen Zoid se hoop, vrees en lewenslesse
Met ’n nuwe album, Postmodern World, op die rak kyk sy na binne.
EK HOOP
om baie met my seun, Ben, te reis en sy oë oop te maak vir die diversiteit in die wêreld sodat hy vrydenkend sal wees. Hy gaan vanjaar saam met my Nederland toe. Ek wil nie hê hy moet op mense neersien omdat hulle van ’n ander ras is of ’n ander geloofsoortuiging of seksuele oriëntasie as hy het nie. Baie mense beperk hulself deur hul eie vooroordele.
ons land se kinders kry beter geleenthede, meer liefde en beskerming. Ek dink die wortel van misdaad in SA is kinders wat sonder ouers en dissipline grootword. Ek wil swaarder strawwe sien vir mense wat misdade teen kinders pleeg.
om my musiekvaardighede te ontwikkel. Ek gaan vanjaar klavierlesse neem. Ek wil eendag ’n paar liedjies op die klavier in my shows doen en leer om beter tromme te speel.
ek gaan meer tyd hê vir braai saam met vriende en familie. Met my werk mis ek baie verjaardagpartytjies en kuiergeleenthede.
EK IS BANG
ek het niks as ek eendag oud is nie - bedoelende geld en sekuriteit. In my vroeë twintigs, toe my loopbaan begin het, wou ek ’n huis en ’n beter kar koop. Ons vroue is so - ons wil organiseer en sekuriteit skep. Ek het hard gewerk en in ’n stadium uitgebrand. Maar ek het nou ’n huis en ’n kar en kan by lekker plekke vakansie hou. Geld gee jou keuses.
ek gaan dood vóór Ben groot is. Ek wil so lank as moontlik in sy lewe wees. My ma is dood toe ek nege was. Ek was van jongs af onafhanklik, maar ek het soms soos ’n weeskind gevoel. Vandag is my gesin vir my alles, ek voel ek behoort aan ’n eenheid en ek hoop nie die eenheid “ontbind” gou nie.
om te bad as daar weerlig is. Ek laat Don (my man) ook nie bad as die donderweer slaan nie!
WAT EK GELEER HET
Reis maak jou wys. Met my optredes is ek baie op pad en kry ek die kans om ander lande te sien. Dis maklik om in jou eie sirkeltjie te leef, maar as jy reis, sien jy almal is eintlik dieselfde. Almal wil gelukkig wees en iets bereik, niemand wil alleen wees nie.
Raak opgewonde oor klein dingetjies. Ben doen alles met soveel entoesiasme omdat hy dinge vir die eerste keer ervaar, soos ’n tuinslang wat spuit of as hy ’n voëltjie sien. Ek is nou soveel meer entoesiasties, want ek gaan saam met hom op ’n ontdekkingsreis.
Leef met eerlikheid en integriteit. Ek glo it’s better to be hated for what one is, than loved for what one is not. Ek skryf eerder liedjies wat ek wíl en sê wat ek wil sê as wat ek mense probeer beïndruk. Mense respekteer jou as jy eerlik is.
Daar’s krag in vergifnis. Almal het seer, maar deur te vergewe raak jy ontslae van jou pyn, en dalk help jy iemand om van sy pyn genees te raak. Ek het in my hoërskooljare dwelms gebruik en ek en my pa was lank vervreem. Ons kon mekaar vergewe en ons het vandag ’n sterk en oop verhouding.
Inspirasie is oral om my. As ek nuwe idees soek, lees ek, kyk ’n TV-program, gaan fliek of gaan na ’n park toe.
Moenie ander oordeel nie. Aan die begin van my loopbaan het ek lelike goed oor sommige mense gesê. Toe ek hulle ontmoet, het ek gesien hulle is sulke nice mense. Ek is spyt oor wat ek gesê het en probeer dit regmaak.
Kom altyd uit jou gemaksone. My ouma is ’n goeie voorbeeld. Sy’s in haar 80’s, maar sy pak die heeltyd nuwe uitdagings aan - sy verf, skryf gedigte en het onlangs vir haar aftree-oord se koerantjie begin skryf. Baie mense leef net vir halfsewe wanneer hulle 7de Laan kan kyk. Hou aan met leer regdeur jou lewe en pak nuwe dinge aan. Kry die beste uit jou lewe.
Gee met jou hele hart in élke verhouding, of dit met jou ouers, jou man, kind of vriende is. Moenie bang wees om seer te kry of verwerp te word nie. Jy gáán langs die pad teleurgestel word, maar dis beter om jou hart vir mense oop te maak as om jou hele lewe lank bang te wees.
Verwante artikels
-
EKSKLUSIEF: Musiekvideo van Karen Zoid: Bly by my!
SARIE - Oktober 2010
Kamera, ligte, aksie: Hier's Karen Zoid se Bly by my-musiekvideo, die eerste enkelsnit van haar nuwe album, Terms and Conditions - 'n hele week voordat dit op TV te siene is.
-
Karen Zoid
SARIE - April 2011
"Daar's krag in vergifnis."
-
SHOUT SA - Danny K, Steve, Kurt, Karen Zoid en ander sing teen geweld
SARIE Maart 2010 | Kommentaar: 2
Ná die sinnelose dood van Lucky Dube het die SA musikante Danny K en Kabelo besluit tot hiertoe en nie verder nie en die SHOUT-projek begin. Talle bekende SA musikante is genader om die Tears for Fears-treffer Shout van die 80's op te neem.
-
Só lyk Karen Zoid se nuwe CD-voorblad - kom kuier agter die skerms
SARIE September 2010
SA rocker Karen Zoid is besig om haar nuwe album, Terms & Conditions, op te neem. Die album sal teen einde Oktober op die rakke wees.
-
Tina Turner op 70!
SARIE - November 2009
Sy rock! Die superster Tina Turner vier vandag (26 November 2009) haar 70ste verjaardag.
-
TV-vrou vertel: Ek moet stilraak om te reflekteer; te fokus...
SARIE Julie 2010
Carien Loubser (35) is regisseur, vervaardiger en tydskrifredakteur, maar beskryf haarself as 'n legkaartbouer.
















Kry jou SARIE oral, enige tyd