Margit Meyer-Rödenbeck oor baba Luca
Dis heerlik om 'n nuwe mensie in haar lewe te hê, vertel Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla), nadat haar en Jurg Human se dogtertjie, Luca, 10 weke te vroeg gebore is. Sy is nou 2 maande oud. Margit het met Marguerite van Wyk gesels oor die uitdagings en die lekker.
Geniet jy dié nuwe babatjie?
Dis heerlik om hierdie hulpelose dingetjie te hê waarvoor ek onvoorwaardelik lief is.
Wat is die grooste aanpassing in jou en Jurg se lewe?
Tyd. Een klein mense slurp 24 uur op. As jy jou oë uitvee is die dag verby en jy het nie die helfte van die dinge gedoen wat jy moes nie. Luca is vir seker prioriteit nommer een in ons lewe.
Slaap sy goed?
As hulle so klein is, slaap hulle baie. Maar in die nag slaap sy baie goed tussen ma en pa in die bed en dan broei ons té lekker.
Borsvoed jy?
Luca is 'n baie klein babatjie omdat sy vroeggebore is en weeg net 2,8 kilogram. Net 'n bietjie groter as 'n pak suiker. Ek het verander in 'n 'Dairy Belle'. Elke drie uur voed ek 'n baie klein, honger dogtertjie.
Sing jy vir haar wiegeliedjies?
Nee, maar ek babbel onophoudelik met haar.
Wat is die lekkerste deel van ma-wees?
Ag, daardie warm lyfie teen my bors met die asempie in my nek.
Geniet Jurg dit om pa te wees?
Vreeslik. Hy is so verlief op sy dogtertjie. Die lekkerste vir hom is om net na haar te kyk en haar te bad.
Sal julle nog 'n baba wil hê?
Ja, sommer gou.
Watter klein dingetjies begin Luca doen wat julle plesier verskaf?
Omdat sy 'n premature babatjie is, doen sy alles twee maande later. Eintlik moes sy nog in my maag gewees het en eers op 12 Augustus gebore word. Maar sy maak die oulikste knies-geluidjies. Almal sê ek moet dit opneem, want hulle hou op daarmee en dan vergeet 'n mens dit.
Vir watter werksprojekte kry jy tyd noudat jy 'n ma is?
Ek doen steeds Die Boer, my en Jurg se teater-eetplek in Durbanville, se bemarking en bespreek kunstenaars. My jaarlikse Vlooi-produksie saam met Marinda Engelbrecht begin weer op 11 Augustus by die H.B. Thom-teater op Stellenbosch. Ek het die teks geskryf en is mede-vervaardiger daarvan. Die res van die jaar tree Dowwe Dolla aansienlik minder op, maar 2010 is sy terug met 'n splinternuwe vertoning.
Het jy nou al jou produksie oor in vitro geskryf en wanneer kan ons dit sien?
Nog nie, te min tyd met baba Luca in my lewe. Sal nog tyd maak.
Wat het die hele in vitro ondervinding jou oor jouself geleer?
Geduld en dat niks deur ons bepaal kan word sonder die Hoër hand se hulp nie.
Het dit jou en Jurg nader aan mekaar gebring, want dis nogal 'n gedoente om deur te gaan?
Ja. In vitro is 'n traumatiese proses en 'n mens sal beslis nie daardeur kan kom sonder die ondersteuning van jou maat nie.
Sou jy sê Luca is een van die beste ondervindings van jou lewe?
DIE BESTE!
Verwante artikels
-
Margit Meyer-Rödenbeck wys haar dogtertjie
SARIE Oktober 2011
Margit Meyer-Rödenbeck, ook bekend as Dowwe Dolla, wys haar driejarige dogtertjie en deel haar hoop, vrese en lewenslesse.
-
Raai wie's ons eie Ugly Betty?
SARIE - November 2007 | Kommentaar: 1
Sy's klein, fyn en blond. Heeltemal die teenoorgestelde van Ugly Betty, die oorgewig donkerkop met die bril en tandedraadjies wat TV-kykers wêreldwyd gaande het. Ons het 'n gewilde aktrise oorgemaak as ons eie Betty en haar die strate ingestuur...
-
Saam met Dowwe Dolla op die sonbed
SARIE - September 2009
-
Waaraan dink jy vandag, Margit?
SARIE - Augustus 2009 | Kommentaar: 4
5 Nov: Kyk hoe groot is Baba Luca al!
















Kommentaar
trish het gesê:
hey ek is 19 jaar oud en het polisistiese ovariële sindroom. beteken dit ek gaan nie swanger kan raak nie?
20ste Jan. 2010, 23:22Jo-mari en Louis het gesê:
Hallo julle!!! Veels geluk met die kleintjie!!!
21ste Des. 2009, 19:05Evette Mocke het gesê:
Hi Ons het die dr gaan sien en het besluit om die eierselle te laat inplant. Ons los dit in die Here se hande en vertrou dat Hy wat die beste weet ook weet wat ons hartsbegeerte is. Ons beplan om Okt of Nov die "stardust" in te plant. En Debbie, vir jou wil ek se baie geluk met die goeie nuus. Ons bid en glo saam met julle dat julle n gesonde en vol termein swangerskap sal he. Baie seen vir julle. Blessings.
19de Aug. 2009, 14:43Mariette Keyser het gesê:
hi ek enmy man het in Feb 08 ook die in vitro ding gedoen, ek het toe swanger geraak met 'n 2ling, 28 Nov was hul datum, maar daar het probleme gekom en hul is toe 3maande te vroeg sus 980g en boeta 1.4kg, na 65 dae en baie gebed is hul toe ontslaan uit NICU, ek is vandag baie bly om te se dat hul die einde Agustus 1 jaar oud word.
15de Aug. 2009, 22:27ALICIA AVENANT het gesê:
Ek en my gesin is mal oor Afrikaans. As daar nou twee mense in die musiekbedryf is wat ek moet uitsonder en baie respek voor het, is dit Kurt Darren en Juanita du Plessis. Hierdie twee mense ly 'n mooi skoon lewe en is 'n goeie voorbeeld vir ons jonger geslag en daarom is hulle sulke sprankelende persone. Dit is so 'n groot jammerte dat van ons beste sangers 'n mens so teleurstel wanneer dit kom by hulle persoonlike lewe, maar niemand kan 'n vinger wys na hierdie twee nie. Ons het reeds bespreek vir Vrydag, 21 Augustus vir Kurt se optrede in Bellville. Ons kan nie wag om te gaan nie. Kurt en Donay baie geluk met jul verlowing. Julle is bedoel vir mekaar. Alicia Avenant, Kaapstad
14de Aug. 2009, 10:49Debbie D het gesê:
Hallo daar! Ek het ook al in vitro gehad in Januarie 2007 en daar het ook niks van gekom nie! Ek was verpletterd om nie eens van my man te praat nie, en ons het besluit om als te los. (Ek het endometriose en polisistiese ovariele sindroom).Ons was weer vroeg die jaar by n Dr in Port Elizabeth en sou weer probeer maar het besluit om net te los. Maar met die hulp van die Here en baie gebed het ek so 9 weke terug uitgevind dat ek swanger is!!! Ja kan jy glo. Ek sal vir jou bid dat dit die keer sal werk, want dis n Geskenk van die Skepper. Sterkte
13de Aug. 2009, 15:32Evette Mocke het gesê:
Goeie middag Ons kom uit n In vitro ondervinding. My hart is vandag so seer want dis die tyd wanneer ons twee babatjie gebore moes word. Ons het November 2008 twee eierselle laat inplant maar niks het daarvan gekom nie. Dis vir my op die stadium n baie emosionele tyd. Ons sien volgende vrydag weer die Dr om te besluit of ons weer gaan probeer. Ons het 4 bevrugte eierselle wat gevries is en sal hulle graag n kansie wil gee. Enige raad?
6de Aug. 2009, 13:42