Nádine terug ná oorsese toer

Deur Marguerite van Wyk, SARIE - Oktober 2009

Nádine terug ná oorsese toer Foto’s: Frank De Mulder Galery

Sy verklap haar gunsteling liedjie op haar nuwe album asook wie haar inspireer.

Die sangeres Nádine het onlangs teruggekeer van 'n toer na Nieu-Seeland en gesels met Marguerite van Wyk oor haar nuwe album, "This Time I Know It’s For Real", haar oorsese toer,  haar gunsteling-akteur en -aktrise, rolmodelle en suksesgeheime.

Hoe was jou toer na Nieu-Seeland?
Dis 'n besondere mooi plek met asemrowende landskappe. Ek was sowat twee weke lank in Kiwi-land en het dit baie geniet. Ek het op die Noord- en Suid-eiland konserte gehad. Die plekke wat die meeste uitgestaan het, was die woud- en rivier-gedeeltes waar die rolprent Lord of the Rings verfilm is, in Wellington. Dan was daar ook die pragtigste groen berge en valleie, die wit sneeu op die bergtoppe op pad na Ashburton en die klein, groen lappies-landskappe (wat baie herinner aan die Kaap) in Christchurch.

Waar was jy veral gewild tydens jou reis?
My beste drie konserte was in Auckland, Wellington en Christchurch. Baie oud-Suid-Afrikaners woon al tien tot vyftien jaar in Nieu-Seeland. My 'onlangse' treffers van die afgelope dekade het vir hulle nie noodwendig dieselfde waarde of simboliek as vir Suid-Afrikaners in Suid-Afrika nie. Baie van hulle kan egter nog "Kaapse draai" onthou en ek het ekstra moeite gedoen om soveel as moontlik visuele herinneringe by die gehoor op te roep. Die mees verrassende ontdekking tydens my vertonings was dat mense my Afrikaanse én Engelse liedjies waardeer het. Ek kon die beste van myself as kunstenaar gee deur ou Afrikaanse liedjies, my eie treffers asook musiek van my internasionale album te sing.
 
Watter liedjie op jou nuwe album geniet jy die meeste?
Die titelsnit, "This Time I Know It’s For Real", weens die vokale tentoonstelling wat moontlik is daarmee. Maar ek wil nie net ballades sing nie, dus is "Made up my mind" verfrissend en natuurlik hou ek van "Kaapse draai".
 
Aan watter projekte werk jy op die oomblik?
Ek bemark my nuwe album. Op internasionale front beplan ek om dié album in verskeie Europese lande, asook in Nieu-Seeland, uit te reik. Ek het pas 'n splinternuwe DVD opgeneem, wat onder meer 'n live optrede in Europa, onderhoude, 'n TV-opname in België en akoestiese opnames met 'n Afrikaanse verrassing bevat.
 
Jou lewe klink geweldig besig . . .
Vir bykans 6 maande van 2009 was ek óf in Europa vir die opnames van my DVD óf in Nieu-Seeland vir konsertoptredes. Dit is dus baie moeilik om 'n vaste roetine te volg. Om daagliks gimnasium toe te gaan of sport te beoefen raak al hoe meer 'n uitdaging en tydsbeplanning is soms 'n groot probleem.

Ek probeer baie plekke besoek in vreemde lande om meer te wete te kom van hoe elke land se struktuur werk – hul politiek, geskiedenis en aardrykskunde. Ek is regtig baie betrokke by elke projek wat ek aanpak in my loopbaan, volg Duitse klasse en slaan dikwels self die konsepte vir my vertonings aanmekaar. Ek skryf ook die meeste van my eie materiaal.
 
Hoe hou jy by?
Ek wens ek het onuitputbare stamina gehad, maar natuurlik is ons almal net mense en ons raak soms moeg. Ek probeer myself pace, veral wanneer ek ver moet reis.
 
Waarna verlang jy die meeste as jy op reis is?
My eie bed, om my eie motor te bestuur, om Suid-Afrikaanse rugby-ondersteuners te hoor juig tydens 'n wedstryd, om 'n kerkdiens in die taal van my gebede by te woon, die voorreg om omring te word deur al die bederfgoedjies wat ons vroue só waardeer . . .
 
Hoe ontspan jy?
Ek lees, woon konserte by, ontmoet vriende vir lang koffie-sessies, gaan fliek graag, raak kreatief met my klerekas-beplanning, verf en hou van kristalle en als wat normale mense tot raserny kan dryf.
 
Jou skoonheidsgeheime?
Water, water, water! Genoeg vog vir jou vel deur goeie gesigprodukte te gebruik, en ek probeer genoeg slaap. Jou gesig, hare en stem wys heel eerste wanneer jy moeg is. Hou jou gesig uit die son in die somer. Daar is baie alternatiewe vir 'n sonbruin vel.
 
Gunsteling-akteur: Matt Damon

Gunsteling-aktrise: Kate Hudson

Rolmodelle?
Ek bewonder die intellek van Einstein, die sakevernuf van Richard Branson, die gesig van Patricio, die lyf van Ryk Neethling en die ore van 'n sielkundige!
 
Jou suksesgeheim? Harde werk, eindelose geduld, my geloof, gehalte-werk, nederigheid en 'n duidelike toekomsvisie.

Verwante artikels

  • Kyk! Nádine sing lewendig op Nederlandse radio

    Kyk! Nádine sing lewendig op Nederlandse radio

    SARIE Julie 2010

    SA sangeres Nádine is deesdae baie in die buiteland, so ook haar musiek. In 2009 was sy vir sowat die helfte van die jaar in Europa, en het sy konsertoptredes in Nieu-Seeland gegee.

  • Nádine binnekort as Maria Magdalena in Andrew Lloyd Webber-stuk

    Nádine binnekort as Maria Magdalena in Andrew Lloyd Webber-stuk

    SARIE - April 2011

    Die gewilde Andrew Lloyd Webber/Tim Rice-rock opera, Jesus Christ Superstar, is danksy Pieter Toerien binnekort op eie bodem te sien met ’n hele rits bekendes op die verhoog.

  • Nádine lok 3,5 miljoen kykers in Duitsland

    Nádine lok 3,5 miljoen kykers in Duitsland

    SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 2

    Die SA sangeres Nádine het op Disdag 22 Junie elke Suid-Afrikaner se hart trots gemaak toe sy op Fernsehgarten, 'n program op Duitsland se openbare uitsaaier ZDF, haar nuwe treffer, "Made Up My Mind", voor 'n kykertal van sowat 3,5 miljoen gesing het.

  • Nádine sing met ’n nuwe stem

    Nádine sing met ’n nuwe stem

    SARIE - November 2007

    Haar loopbaan is amper gekelder, sy was ’n teiken van skoolboelies en sy’s bang die liefde maak haar seer. Maar Nádine die kinderster het grootgeword

  • Nádine wen gesogte internasionale prys

    Nádine wen gesogte internasionale prys

    SARIE - Februarie 2010 | Kommentaar: 1

    Die sangeres Nádine is die eerste Suid-Afrikaner in die geskiedenis wat eerste plek by die World Peace Song Festival verower het met haar liedjie "This Time I Know It's For Real".

  • Roer! - Nádine se granaat-sangria

    SARIE - Julie 2009

    Nádine noem dit sommer 'Pret-fiësta' en met goeie rede! Dié drankie is heerlik verfrissend en is propvol smullekker vrugte.

  • Roer! - Nádine se Mexikaanse fondue

    SARIE - Julie 2009

    'n Fondue is iets wat 'n mens nie gereeld maak nie, so miskien is dit hoog tyd dat jy en jou vriende en familie weer 'n slag bymekaar kom vir een!

  • Roer! - Nádine se Tacos de Pollo

    SARIE - Julie 2009

    Vir diegene wat nie weet wat dié gereg is nie - dis hoender-tacos! Hou 'n Mexikaanse aand en sit voor saam met salsa en room.

Kommentaar

  • Nadine ek hoop jy kan een keer weer Nieu-Seeland toe kom.

    16de Jan. 2010, 09:48
  • Ek ondersteun jou 100 % Nadine. Baie dankie vir al jou harde werk en die liefde wat jy uitstraal. Lovies

    28ste Okt. 2009, 10:16
  • Ons het Nadine se konsert hier in Auckland gaan bywoon. Karien my vrou sing self en ons drie dogtertjies Jorien (7), Johanrie (5) en Yandrie (1) het dit verskriklik geniet.Ek ook! Sy was uitstekend. Dit was vir my opvallent hoe volwasse sy as kunstenaar geword het. Sy het 'n uitstekende verhoog persoonlikheid en is nog baaaie mooooi ook. Die hele pakket. Ek was aangenaam verras met haar interaksie met die gehoor. Sy het baie aandag gegee aan elke bewonderaar wat na die tyd 'n handtekening wou he. Ek moes in die ry staan vir drie, en 'n pragtige foto ook. Ons almal het dit so baie geniet dat ons elke dag na Kaapse draai en Made up my mind luister hier by die huis. Ons kan nie wag vir daardie nuwe CD nie. Sy het een van die liedjies gesing en ek dink dit het die potensiaal om 'n internasionale treffer te wees. Haai julle ouens daar moet mooi na haar kyk. Dis nou tyd dat sy 'n ordentlike toekenning vir haar bydrae tot die kunste daar in SA kry. Groete uit Auckland, NZ

    21ste Okt. 2009, 04:55

Web Development by FormFunction