Nataniël se Kaalkop-Kersfees
Foto’s: Clinton Lubbe Galery
Kersfees. Dan bederf Nataniël sy vriende, familie en al die kinders in sy lewe met sakke vol liefde en geskenke. Alles word haarfyn beplan om die feestyd om te tower en elke jaar word ’n nuwe sprokie voorgestel. Sy fees bestaan uit sewe K’s
1. Kersfees
Reeds in Julie begin Nataniël se vreugdevolle verbintenis met Kersfees.
“Dis wanneer ek begin geskenke bymekaarmaak. En die opgewondenheid is nie minder as toe ek ’n kind was nie.” Dit kom van wonderlike herinneringe van Kersfeeste by sy ouma. “Ons was tjoepstil as hulle Bybel lees, want ons het geweet daar kom presente.
"As dit is wat jy glo, vier jy die belangrikste verjaardag van almal, en al is my familie oor die aardbol versprei, is dit die een tyd van die jaar wanneer ons bymekaarkom.” Dis wanneer hy dankie sê vir familie, vriende, die kinders in sy lewe, en die mense wat vir hom werk.
“Dit moet feestelik en visueel aantreklik wees. Ek koop tot nuwe borde vir die Kersete,” sê hy. Alles word fyn beplan.
“Moenie dink omdat jy die waarheid van Kersfees besef, jy kan slaplê met die aanbieding nie.” Jare se linte, krulle en gekleurde balle word uitgepak, blinkgevryf en uitgestal. Deel van Nataniël se Kersfees is gewyde musiek en met die stilering van sy uitvou-Kersseksie in SARIE het hy en sy assistent Wess-Lee met elke gereg ander musiek gespeel. “Ons het heerlik tussendeur gehuil,” sê hy.
Sy een onvervulde Kersdroom is dat hy nog nie ’n album Kersliedere opgeneem het nie, maar dit kom. “Dit sal in ’n katedraal met orrelbegeleiding opgeneem word,” belowe hy.
Elke jaar hou Nataniël ’n Kerskonsert omdat hy vir homself ’n geskenk wou gee.
“Ek wou net die mooiste musiek sing.”
2. Kaalkop
Nataniël dink Kaalkop, hy praat Kaalkop en hy skryf Kaalkop. Dis sý wêreld. Die naam “Kaalkop” het ontstaan omdat mense hom bel en vra of dit die sanger sonder hare is.
“Dit vat gestrooptheid vas. Behalwe vir my wardrobe, is daar geen fieterjasies aan my nie. Nie ek of SARIE het vermoed wat sou gebeur toe Michélle van Breda my gevra het om ’n rubriek - Kaalkop - vir die tydskrif te skryf nie. So word Michélle my eerste baas.
“Die uitnodiging was soos ’n vorm van aanvaarding. Toe het ek nog met baie vooroordele te doene gehad,” sê hy.
Hy is lojaal teenoor SARIE en dink weke lank oor elke rubriek. Sy enigste voorwaarde was dat hy elke maand in ’n nuwe outfit op sy foto by die rubriek sou verskyn! "Ek wou nie kommentaar lewer nie, maar mense se passie vier. Ek wou iets skryf wat spesifiek daardie soort mense ondersteun, al is hul passie gedroogde blomme of koeverte. Ek hou daarvan om vir enige ding wat mooi is ’n pedestal te gee.”
Dit het ook aanleiding gegee tot die geboorte van sy Kaalkop-reeks. “Dit was nog altyd my droom om my eie winkel te hê. Alles het begin omdat ek iets wou hê, dit gesoek het, dit nie kon kry nie en dan iemand gesoek het om dit te maak. Al my produkte moet meer as een doel hê. Die servette, wat eerste was, kan gelees word, want op elkeen is ’n storie gedruk, of dit kan gebruik word om ’n geskenk in toe draai of, as dit jou rêrig aangryp, hang jy dit op.”
Die Kaalkop-produkte, sê hy, is ’n reeks natuurlike gebruiksartikels wat iemand se alledaagse lewe opwindender moet maak. Met die Kaalkop-konsep wat oorborrel, besef Nataniël dat mense dalk bietjie deurmekaar is met wie hy is en wat hy alles doen.
“Ek wil nie soos ’n mal boer wees wat elke twee meter iets anders plant nie. Ek het een lewenstyl, een leefreeks en dit sluit boeke en CD’s in,” verduidelik hy.
Sy webruimte (www.nataniel.co.za) is verbruikersvriendelik met ’n Kersfeeswinkel, wat vinnig aandui waar al sy produkte te kry is. “In 2007 kan mense aansluit by ’n databank wat hulle op die hoogte sal hou van wie ek is en wat ek doen.”
3. Kreatiwiteit
“Ek het ’n groot probleem met daai woord,” sê Nataniël. “Dit sit onnodige las op enigiemand en klink vir my na ’n mediese toestand.”
I suffer from boredom, verduidelik hy.
“Ek hou byvoorbeeld nie van pizza nie. Ná die eerste sny, weet ek nie wat om met die res te maak nie. Dit verveel die aarde uit my uit.” Hy hou van mense wat die lewe uit ’n ander hoek bekyk. Elke oggend bring ’n nuwe opgewondenheid oor die dag wat voorlê.
“Iemand gaan my verbaas of verras. My huishulp, Ellen, trek aan soos Ivana Trump net van kan droom en ek hang al vroegoggend by die venster uit om te sien hoe Ellen lyk.”
Die mense in sy lewe verjaar almal 365 keer ’n jaar! En sy lysie van kreatiewe vriende is lank . . .
“Die mense met wie ek my die graagste omring, is mense wat lees. Ons klim in mekaar se koppe,” sê hy.
4. Kinders
As jy praat oor kinders, is daar vir Nataniël net een woord: respek. Jy kan nie respek by ’n kind afdwing as jy hom nie met respek behandel nie.
“Ek word mal as ek sien hoe kinders behandel word,” sê hy. “Jy kan nie kinders buig om by jou lewe in te pas nie. Voor jy die pret aanpak om kinders te maak moet jy weet of jy die nodige toerusting het om ’n lewensgids te wees. Ek wil soms kinders uit karre en winkeltrollies ruk as ek sien wat met hulle gedoen word.” Dis vir hom ’n hartseer saak. “Omdat ek single is en met lipstick sing, luister mense nie as ek oor kinders praat nie.”
Skryf daar in hoofletters, sê hy: OUERSKAP IS NIE ’N MAGSPOSISIE NIE. “’n Vaste inkomste en ’n stasiewa maak jou nie ’n bevoegde ouer nie. Ongelukkig
leer mense hul kinders dit wat húlle ken.” Hy glo die mees gebalanseerde kinders is dié wat hul ouers se vertroue en vriendskap het, nie lyfstraf nie. “As jy aan ’n kind slaan, verskuif jy sy siel, want dit wat hom moet beskerm, word nou sy gevaar. Lui mense slaan kinders,” sê hy. “Ek dink dis hoekom ek nog alleen is. Ek het nog nooit oor ’n volwassene gevoel soos ek oor ’n kind voel nie.”
Nataniël het ’n hele bondel woelwaters in sy lewe. “Ek sit soms en huil as ek net aan my kinders dink,” sê hy. As jy ’n kind in jou huis of jou hart het, sien jy die lewe anders. Kinders veroordeel nie.
“Hulle gee nie om wat jou kleur is, hoe jy dink of hoeveel geld jy het nie. Met Angelina Jolie se hare en geld, sou ek die hele wêreld se kinders aangeneem het. Dis vir my ’n ding. As ek ’n ander beroep moet kies, sal dit iets met kinders te doen hê. Unicef kan my môre bel, ek sal help.”
5. Kos
“Kos en krisis is vir my taalgenote,” sê hy. “Daar is twee soorte mense, dié met metabolisme en dié daarsonder.” Maar dan vergeet hy van die swaarkry en onthou die lekkerte.
“Die Here was slim toe hy ons gemaak het. Dit gaan alles oor keuse,” verduidelik hy. Hy glo kos het die vermoë om die alledaagse in ’n feestelikheid te omskep. As ’n mens die ritueel van kos en die kombinasie van smake verstaan, die effek van kos op die lewe, in smart of in vrolikheid, weet jy dat kos mense in ’n kring kry sonder voorkeur vir kleur of kultuur. En selfs as die loodgieter die dag kom, beplan Nataniël dae lank die snacks.
Dit het alles begin by sy ouma se huis, sê Nataniël, en is die hartseer van sy familie se gewig. “Sy het kos op die tafel gelos sodat die inbreker nie sleg voel nie. Die woorde fiksheid of dieet sou haar totaal stomgeslaan het.” Kos is hoe hy by sy omgewing en die seisoene inskakel.
“Selfs met al my kookboeke, kookdemonstrasies, kook op TV, dink ek glad nie ek is ’n sjef nie, maar ek weet hoe om te eet.”
Hy skei maklik die kaf van die koring as dit by mense kom, sê hy. “Dis die skoene wat hulle dra en die vreugde wat hulle ervaar voor ’n opwindende bord kos. Mense wat bang is vir nuwe kos het nie plek op my planeet nie.”
6. Kleur
Dit begin alles by wit. “Wit is wat jy kry as jy al die kleure saamgooi,” sê die man wat in die mooiste wit huis woon. “Dis die kleur van genesing.”
Sy wegkom van vorige kleurryke huise beskryf hy as “ontsnap uit daai bont Baroknes”.
Hy assosieer kleure met emosies en betekenis. “Dis vir my onmoontlik om met een kleur saam te leef,” sê hy. “’n Mens verander dan van dag tot dag.”
Kleur speel wel ’n groot rol op die verhoog - en in sy kos.
“Dan is dit ’n event,” verduidelik hy. Hy het elke paar jaar ’n rooi fase, is gek oor pienk en het oomblikke in oranje. As dit by sy gewone klere kom, is hy die gemaklikste in swart. As mens inloer by sy kostuum- en klerekamers, is die een uitspattig kleurryk en die ander stylvol en swart.
“Swart is my uniform. As ek iets anders dra, werk my brein nie.”
Volgende jaar vier hy 20 jaar op die verhoog en hy gebruik wit as tema in beide die storie en musiek om standpunt in te neem teen geweld, geraas, onnoselheid en oorlog.
“Ek word rêrig nooit moeg vir wit nie,” sê hy saggies. “Wit simboliseer vrede, gesondheid en helderheid.”
7. Kalender
Dit was ’n spanpoging saam met fotograaf Clinton Lubbe en Canon ten bate van die Anti-Animal Cruelty League. Dis gemik op die getal sewe in 2007.
“Sewe is ’n magiese en simboliese getal,” sê Nataniël. “Ons finale keuse was mense wat fassineer en inspireer,” sê hy. Nataniël se hele span het ingespring.Die einde van elke fotosessie is afgesluit met ’n uitbundige ete.
Sy vriende is almal mense wat baie aktief is. “Ons moet dagboeke nader skuif en jare vooruit etes beplan,” sê hy. Dis groot geleenthede en nie eers klere-uitrustings word herhaal nie. Hy woon nie in Pretoria oor ’n behoefte aan die Uniegebou nie. Dis die ongelooflike mense wat hy ken wat hom hier anker.
“Ek bel een reënerige aand my vriende om te sê my huis is oorstroom. Kort voor lank daag almal op met snacks, stofsuiers . . . en ons kuier!”
Verwante artikels
-
'n Kerswens van SA sanger Leon Schoeman
SARIE - Desember 2009
-
Die geur van Kersfees
SARIE - Desember 2009
Ons onthou spesiale dae deur hul kleure én geure. 6 bekendes deel hul koester-herinnerings om Kersfees
-
Dunay Nortjé: Dié reuk herinner my aan Kersfees
SARIE - Desember 2009
-
Nataniël oor pieknieks
SARIE - Desember 2009
-
SMS-diens bring SARIE-resepte na jou selfoon!
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 6
Jou SARIE tuis vergeet en nou wil jy bestanddele koop of 'n resep volg? Gebruik ons gerieflike nuwe SMS-diens en die resep kom na jou selfoon toe! Hier's die spesiale resep-kodes:
















Kry jou SARIE oral, enige tyd