Robbie Wessels se geur van Kersfees
Ons onthou spesiale dae deur hul kleure én geure. Die sanger Robbie Wessels deel sy koester-herinnerings om Kersfees.
. . . snoek, gebraaide aartappels, malvapoeding en melktert.
Die nostalgie het Robbie glad geïnspireer om 'n storie te skryf:
In die vreemde stap 'n jongman in die straat af, vol verlange en hartseer omdat hy sy mense en geliefdes so mis. Hy's op soek na iets wat hy ken, iets wat hom kan herinner aan waar hy vandaan kom. Die horlosie slaan middernag en hy ruik 'n geur in die lug wat hy ken.
Hy loop in die rigting vanwaar die reuk kom, min wetend dat dit van alle kante af kom. Hy loop op en af in die klein straatjies, by kafeetjies, groente- en vrugtewinkels, koffiewinkels en parfuumwinkels in, maar nêrens kan hy met sekerheid sê dis dít wat hy ruik nie. Dis asof alles waaraan hy ruik 'n bestanddeel is van die wonderlike reuk wat hom omring.
Hy klim op die hoogste gebou in die stad. Daar's die reuk selfs sterker, maar steeds kry hy niks nie. Op pad ondertoe hoor hy 'n stemmetjie uit 'n hoek onder 'n trap: "Kan ek u help, Meneer?"
Die jongman skrik en wil eers hardloop, maar besluit tog om na die stem te loop. 'n Klein, krom tannie staan daar met haar kierie en kombersie. Dit lyk of sy daar gaan slaap.
"Wat lyk u so nuuskierig?" vra sy. "Mevrou," sê die jongman, "ruik u dit ook?"
"Ja, my kind. Dis al waarna ek heeljaar uitsien," sê die tannie. "Die reuk is oral."
"Tannie, ek moet weet wat dit is wat my soveel vrede gee. Dit moet iets bekends wees."
"Dis die reuk van Kersfees," sê die tannie.
Toe tref dit die jongman. 'n Traan loop oor sy wang en hy gaan sit op die trappie langs haar, neem haar hand en maak sy oë toe. Hy besef hy's nie vanaand die enigste een wat alleen op Oukersaand is nie.
Met die tannie se sagte, koue hand in syne begin hy die reuk identifiseer: "Tannie, maak toe jou oë. Vir voorgereg het ons soutkoekies met salami, kaassmere, olywe, aspersies en vrugte. Vir hoofgereg het ons skaapboud met gebraaide uie, snoek, geelvis met gebraaide aartappels en groente. Vir nagereg het ons malvapoeding met vla en roomys en melktert.
"Op die radio speel 'Little Drummer Boy', want dis Oukersaand. En ons is nie alleen nie."
Die geur van Kersfees
Wat herinner jou aan Kersfees? Vertel ons in die kommentaarboksie hieronder.
Verwante artikels
-
Dis binnekort Kersfees! Die kos, dekor en modes vir saamkuier
SARIE - Desember 2009
Ervaar die vreugde van saamdoen en saambeleef. Daar’s versierings om te maak, ’n Kersboom om te tooi en ’n kostafel om te dek vir ’n saamkuier-fees!
-
Jill Middlekop (Jansie in Egoli) se Kersfeesgeur
SARIE - Desember 2009
-
Kyk hoe lyk Robbie Klay nou!
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 2
Onlangs is in die media berig dat Robbie Klay 'n nuwe voorkoms het.
-
Os du Randt se geur van Kersfees
SARIE - Desember 2009
-
Reuben Riffel oor Kerskos
SARIE - Desember 2009
-
Robbie Wessels het 'n lewe na Leeuloop
SARIE September 2010
Dis al vier jaar sedert die sanger Robbie Wessels se befaamde (en berugte) supertreffer. Deesdae kyk hy heel anders na musiek.
-
Robbie Wessels wys sy foto's, vertel hoekom hy oorsee is
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Dis al vier jaar sedert die Leeuloop, die sanger Robbie Wessels se befaamde (en berugte) supertreffer. Deesdae kyk hy heel anders na musiek.
-
Wat jy nie van Robbie Wessels geweet het nie
SARIE September 2010 | Kommentaar: 1
Dis al vier jaar sedert die sanger Robbie Wessels se befaamde (en berugte) supertreffer. Deesdae kyk hy heel anders na musiek. En hier's nog 'n paar ander dinge wat jy nie van hom geweet het nie...
















Kommentaar
Ashwyn van London het gesê:
Dis my laaste Kersfees in London en alhoewel hulle Kersfees so mooi vier -naamlik die liggies en die koue en die sneeu - mis ek my mense die meeste. Ons gaan saam met ander Suid Afrikaners Kersfees vier en NIE kalkoen eet soos die gewoonte hier is nie. Ek mis my ma se sout aartappels en die lekker skaapboud. Ek mis ook haar malva poeding. Ek mis my pa se gebed aan tafel voor ons eet. Ek mis die gespeel en geraas van die klein kinders rondom ons. Ek mis die "te veel eet". Ek mis my mense. Dankie Robbie vir die storie. Mag God julle almal seën in hierdie Kers seisoen.
18de Des. 2009, 17:47Monique Neethling het gesê:
Dis n pragtige storie! Ons is ook hierdie Kersfees ver van die huis en geliefdes hier in Dubai. Maar ons sal ons spesiale Kers-tradisies wat ons van kleintyd geleer is met trots voortsit!
15de Des. 2009, 16:15