Sandra Prinsloo vertel hoekom sy nie op die wal kan sit nie
Foto’s: Johan Wilke
Sandra se hoop, vrese en lewenslesse...
EK HOOP
om eendag in ’n rolprent te speel wat op eie bodem vervaardig is en van internasionale standaard is. ’n Gutsy rol waarin jy werklik jou tande kan slaan, jou ondervinding en rypheid gebruik. Daar was nog nie sulke fliekrolle in SA nie. Die lekker van teater is dat die materiaal nooit opraak nie.
Afri-Spaans roer ’n snaar by die publiek. Die idee het my aangegryp. Een van my heel beste vriende van die afgelope veertig jaar is ’n Spanjaard. Die land spreek tot my, die mense, die kuns, die dansers . . . ek is mal oor flamenco. Ek werk graag met stukke wat musiek in het.
op nog avontuur. Ek hunker elke nou en dan daarna. Dis gewoonlik fisieke goed. Ek en Willem [van Riet] het verlede jaar in die middel van die wildernis in Botswana gaan roei. Daar’s geen mens nie, net jy en die diere. As jy deur ’n poel roei en daar is 21 seekoeie mét kleintjies . . . ek sou dit nogal bestempel as ’n avontuur. Ek is nie ’n wal-sitter nie.
om die gorillas in Rwanda te gaan kyk. Dis bo-aan my lys. Ek hou daarvan om in Afrika in te gaan.
EK IS BANG
vir groot motte. Dis daai snaakse oë. Wat ’n ou simpel vresie, maar vrese ís simpel. Ek is in die algemeen nie ’n bang mens nie. Ek het geleer dat genesing in jou houding lê. As jy voor so ’n vrees staan, dink eers: Gaan dit my doodmaak? Indien nie, waarvoor is jy bang?
vir geweld. Maar vrees help jou nie. ’n Mens kan nie heeldag sit daarmee nie; jy kan seker maar net paraat probeer wees.
om eendag afhanklik te wees van ander mense as ek oud is. Ek gaan waarskynlik baie oud word, ek is baie gesond en fiks en het die gene. My pa is verlede jaar op 96 en my ma drie jaar gelede op 91 oorlede. Jy sien die aftakeling, die isolasie van vereensaming, die afsluit van die lewe, die aanbeweeg. Daai laaste stuk pad is swáár.
WAT EK NOU WEET
Gee om. Be kind. Jy leer dit met tyd. Dis ’n harde wêreld en daar is al hoe minder grasie.
Vertrou dit wat jy voel is reg. Bly by daardie interne kompas wat jou waardes bepaal. Moenie vleitaal en sulke goed kop toe vat nie.
Ek het iewers gelees as die groenigheid in die lente begin uitkom, maak die Amerikaanse Indiane sagte leerskoene om sagter te trap, want “moeder aarde is swanger”. Ons het daardie konneksie met die aarde verloor, dis hoekom ons in so ’n gemors is.
Toe ek jonger was, was ek meer wisselvallig, maar nou verloor ek nie sommer beheer as ek ontsteld is nie. Dis net negatiewe energie. My pa was ’n wonderlike voorbeeld: baie kalm, flegmaties, gelykmatig. Niks het hom ontspoor nie.
Ek is dankbaar ek ken nie depressie nie. Ek ken nie die diep gat waarin mense val nie.
Willem het ’n besondere uitkyk: Sit dit agter jou. Gister is gister.
Deur die jare het ek veral een ding oor mense geleer: Hoe groter die ego, hoe kleiner die mens.
As jy ouer word, sien jy makliker die humoristiese sy van die lewe. Niks is meer so verskriklik intens en ernstig nie.
Toneelspeel maak my vol. Dis asof jy al hierdie emosie ontlaai, maar jy word weer deur ’n ander energie gevul. Selfs ’n eenvroustuk soos Die naaimasjien dreineer my nie, dit vul my.
Voor ek Willem ontmoet het, was ek doodgelukkig met my honde, ek wou niemand in my lewe hê nie. Maar ons verhouding het my verryk, dis baie positief. Ons gee mekaar ruimte, ondersteun mekaar verskriklik en ons het ’n gesonde bewondering vir mekaar!
Gee ánder mense die reg om reg te wees. Om te luister is belangrik. Vroeër moes ’n ding vir my altyd net só wees. Nou is ek buigsamer. Ek het nie meer nodig om die leisels so styf vas te hou nie.
Die naturopaat Andrew Cook sê: Don’t just do something, sit there! Dis vir my moeilik, ek is baiebesig, ek hol rond, ek moet myself dwing om te sit en die uitsigby ons huis in Kalkbaai te geniet. Ek vind dit moeilik om temediteer, my brein is te besig. My bord is vanjaar oorvol – ek doen die regie en vervaardiging vir ’n kykNET reeks, ek moet in twee ander reekse speel en daar’s ’n stuk vir Grahamstad . . .
Ek het geleer om myself te vergewe, om nie meer so streng met myself te wees nie.
As student het my pa vir my gesê: Jy gaan nooit êrens sonder genoeg geld in jou beursie om vir ’n taxi te betaal nie. Dan word jy nooit gedwing om saam met iemand te ry met wie jy nie wil nie. Dit was fantastiese raad.
Jou ego is sekerlik die ding wat jou die maklikste kan laat struikel in die lewe. As jy dit net uit die pad kan kry, gaan jy makliker oor daardie teleurstelling of seerkry kan kom.
Verwante artikels
-
Sandra Prinsloo
-
Wat jy nie van Sandra Prinsloo geweet het nie...
Sy’s 'n vry siel, 'n sigeuner, sommer 'n bondel energie. En terloops, sy is steeds vriende met al haar kêrels!
















Kommentaar
Lily het gesê:
Sjoe dit is nou goeie raad!! dankie Sandra jy is so n pragtige mens
5de Apr. 2011, 10:18SONIA BOTHA het gesê:
Mens, praat jy nou wat tande het! Groete
5de Apr. 2011, 08:40Karin het gesê:
Vandat Ek Klein was, het Ek Sandra se innerlike skoonheid bewonder! Ek vergelyk Haarlem met Sophia Loren!
4de Apr. 2011, 18:02beppie het gesê:
Ja nee defnitief is sy die innerlike dame as wat sy uiterlik is dit is nou 'n dame in een stuk. Dankie vir sulke mooi voorbeeld van dame wees.
4de Apr. 2011, 11:52Mickey het gesê:
Dis die eerste keer dat ek iets lees oor wat Sandra se en voel. Ek het nog altyd van haar as aktrise gehou en haar bewonder. Nooit besef sy het so n pragtige uitkyk op die lewe nie. Doe so voort Sandra, jys pragtig en skoon.
2de Apr. 2011, 13:13Martie het gesê:
Janee, Sandra, alles baie mooi.... maar dink jy soms daaraan dat jou Willem van nou wel sy vrou vir jou verlaat het en hoeveel hartseer daar nie was nie, dog, soos jy nou vertel sy raad is: gister is verby... Ek hou van jou, bewonder jou vir wat jy vermag en dink jy is 'n groot kunstenaar.. maar, ai tog, daardie hartseer deur jou toedoen - nadat jy jou vriendin se man onderhoud mee gevoer het en hom vir jou geneem het... dit is wat my van jou hinder en hoop jy word ook vergewe
1ste Apr. 2011, 12:41