Sangeres Katherine Jenkins gesels met SARIE
Foto’s: verskaf Galery
Die Walliese sangeres Katherine Jenkins is bekend vir haar crossover musiek (sy sing operas en kontemporêre musiek). Sy het vroeër met SARIE gesels oor haar rolmodelle, uitdagings en gunstelinge.
Wat beteken sang in jou lewe?
Alles. Van 'n baie jong ouderdom was ek mál daaroor. Ek hou van die gevoel wat musiek my gee. As ek nié gesing het nie, sou ek waarskynlik 'n musiekonderwyseres gewees het. Of as ek iets heeltemal anders moes kies, sou ek 'n prokureur geword het.
Wie is jou rolmodelle?
Musiek-divas soos Barbara Streisand, Edith Piaf, Madonna, Maria Callas. Iemand soos Doris Day trek my ook. En dan natuurlik my ma, Susan. Sy het my en my suster van 'n jong ouderdom geleer om op ons eie voete te staan en ons eie geld te verdien. Dít het 'n sterk werksetiek by my gekweek.
Wat was tot nou toe die grootste uitdaging in jou lewe?
Om die dood van my pa, Selwyn, te hanteer toe ek slegs vyftien was. Hy het longkanker gehad. Dit was baie moeilik. Maar dit het my geleer hoe kosbaar die lewe is en dat mens vir die mense vir wie jy lief is, moet sê hoe belangrik hulle vir jou is. Ek het besef 'n mens moet voluit leef. Elke sekonde tel!

Jy is 'n pragtige vrou.
Wat is jou skoonheidswenke?
Ek gebruik goeie skoonheidsprodukte. Ek eet gesond en drink baie water. Omdat ek baie grimering gebruik tydens optredes en vir TV-opnames, glo ek dis nodig dat my gesig en hare sowat een dag per week ''rus''. Dan sal ek geen grimering dra nie en 'n haarmasker gebruik. Oefening kom nie vir my natuurlik nie. Maar ek het onlangs begin hardloop en ek probeer gereeld sowat 35 minute tot 'n uur hardloop. Dit help met streshantering. Ek dieet nooit nie en glo aan matigheid voor oë. Ek is wel 'n vegetariër. Ek het sowat drie jaar gelede gelees daar word baie chemikalieë in vleis gesit en dat dit nie goed vir mens is nie en sedert ek dit nie meer eet nie, voel ek baie beter. Ek eet wel vis.
Jy het al baie saam met die blinde Italiaanse operaster Andrea Bocelli opgetree. Hoe vind jy hom?
Ons het nog nooit saam 'n album opgeneem nie, maar dis 'n eer om saam met hom te werk. Hy is ongelooflik en het my vanjaar uitgenooi om by 'n Toskaanse fees te sing.
Wie is jou gunsteling-komponis?
Mozart. Daar is soveel vlakke in sy musiek en dit het baie diepte. Die een oomblik is dit komies en die volgende oomblik weer baie diepsinnig. Van my gunsteling-operas om te sing is deur hom gekomponeer.
Dui die naam van jou album, Believe, daarop dat jy 'n baie gelowige mens is?
Ek is 'n Christen en is spiritueel. Ek het as kind leer sing in die kerk hoewel ek vandag nie 'n gereelde kerkganger is nie. Dit klink dalk snaaks, maar ek 'sien' my pa gereeld om my. En voor optredes wissel ek 'n woord of twee met hom voor ek op die verhoog gaan . . .
Wat is jou gunsteling-operarol?
Carmen. Dis so 'n gutsy, gevaarlike karakter en 'n prettige opera.
Jy kom van 'n klein dorpie, Neath, in Wallis. Vanwaar jou belangstelling in opera?
My ouers het glad nie na opera geluister nie. Niemand daar is operakenners nie. My sangonderwysers het vir my 'n paar klassieke stukke gegee om in te studeer en gereken dit pas by my stem. Só het my liefde geleidelik ontwikkel. Dit was nooit 'n definitiewe besluit om 'n loopbaan in operamusiek te volg nie.
Sien jy uit na jou besoek na Suid-Afrika?
Ek was al vantevore daar om 'n vriendin te besoek en ja, ek sien ongelooflik uit. Baie puriste meen 'n mens kan nie, as jy 'n klassieke sanger is, klassieke én kontemporêre musiek sing nie. Ek stem nie saam nie. Ek het 'n klassieke opleiding en sing kontemporêre musiek in 'n klassieke styl en sing klassieke musiek in sportstadions. Ek wil juis wys dat operamusiek toeganklik vir die massa kan wees. Dis nie nét 'n ding vir die ryk elite nie. Die snob-waarde daarvan staan my nie aan nie.
Verwante artikels
-
5 minute met Rina Hugo
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 2
Die sangeres Rina Hugo het die naweek op die Rapport-Vonk Afrikaanse Musiektoekennings in Brakpan die kategorie ''lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek'' gewen.
-
Italiaanse sanger Patrizio Buanne
SARIE - Julie 2009
-
Opera-sensasie Pretty Yende
SARIE - Desember 2009
Pretty Yende het op die ouderdom van 24 die grootste operakompetisie in die wêreld gewen. Sy vertel hoe sy gevoel het
-
Sangeres Nedine Blom: Dié fliek inspireer my
SARIE - September 2009
“Ek het soveel geleer uit La vie en rose, oor die lewe van Edith Piaf."


















Kommentaar
Sonja het gesê:
Ek is mal oor haar en het 2 DVD's van haar.....absoluut asemrowend mooi met die stem van 'n engel. Dis nou al Maart 2010, dus wil ek weet wanneer sy wel Suid-Afika toe kom? Want indien sy wel kom, sal ek bitter graag na haar wil gaan luister.
7de Mar. 2010, 23:02Rhona het gesê:
Ek is mal oor Katherine! Het die artikel regtig geniet. Ons sien so uit na koms na ons land!!! Gaan beslis kyk. Ek sing self klassieke musiek en daarom is sy vir my absoluut 'n rolmodel en dis wonderlik om te weet sy is 'n Christen! Wens ek kan haar ontmoet! Mal oor haar...
28ste Des. 2009, 16:00Hyla het gesê:
Watter pragtige vrou is dit nie!! Nog nooit voorheen van haar gehoor/geluister nie maar gaan beslis van haar musiek aanskaf en dalk selfs n optrede bywoon.
25ste Okt. 2009, 20:16