Op die rooi tapyt

Fanie gaan kyk Shaka Zulu: The Musical

Absa-elite en uitgesoekte medialede het die opening van dié musiekblyspel in Pretoria se Staatsteater bygewoon. Wel, wat kan ek sê? Met die eerste noot het ek geweet hier kom ‘n ding. Ek dink ek het laas so gevoel toe ek The Lion King gesien het.

En ek hou van shows kyk. Ek kyk shows enige tyd wat ek kan, hier én oorsee. Ek het al van die bestes ter wêreld gesien soos Les Misérable, The Phantom of the Opera, Starlight Express en Saturday Night Fever. Uitstekende, wonderlike ervarings. Ek het ook al ‘n hele paar swakkes gesien waar ek summier wou opstaan en uitloop. Dit kan soms só boring wees dat ek sommer besluit ek hou niks van musicals nie. In baie gevalle voel ek hulle moet net ophou sing en begin praat!

Glo my, ek het nié so gevoel oor Shaka Zulu: The Musical nie.

Dalk is dit die Afrika-bloed wat in my are vloei wat my so lief maak vir Afrika-stories. Miskien is dit bloot die wêreldklas-talent wat hier onder ons neuse sluimer. Ons moet dit nou begin besef en erkenning aan die talentvolle teatermense gee. Wat Deon Opperman, Sean Else en Johan Vorster doen, is briljant. Deon het die lirieke en teks saam met Sean geskryf en ook die regie saam met Samson Khumalo gedoen. Johan het die musiek verwerk.

Die drie hoofrolle gee vermaaklike vertonings. Phumi Mncayi in die titelrol en Candida Mosoma en Nobunthu Mpahlaza as onderskeidelik sy ma en tante gee beeldskone vertolkings. Die res van die ensemble is nét so ‘n vreugde om te aanskou.

Dalk is dit vir sommige nie inheems genoeg nie. Daar is nie baie tradisionele danssessies nie. Daar is nie oorverdowende etniese tromme-musiek nie. Ja, dit is kommersieel. Dis immers wat ons gehore soek en wat op die ou end kaartjies verkoop.

Ek is só moeg vir die verskoning van min geld. Dan word daar van ons verwag om brouwerk te aanvaar as gevolg daarvan. Hoe boring! Kyk wat word hier gedoen met ‘n klein begroting. Talent is op die ou end nie iets wat in rand of sent gemeet kan word nie. Ja, ‘n groter rolverdeling en indrukwekkender dekor sal seker ‘n nice-to-have wees. Ek vermoed hulle gaan hieroor gekritiseer word. Dit het my nie gepla nie, want wat hulle wel visueel gedoen het, was heeltemal genoeg.

Jy gaan so lekker trots, emosioneel en opgebeur wees na dié produksie! Gaan kyk dit sommer vanaand!