Op die rooi tapyt

Invictus-premiere: SARIE was daar!

‘n Mens kan kwalik glo dis dieselfde mens. Die Morgan Freeman wat voor ons staan in die rolprent-teater in Kaapstad se Waterfront vertel in sy besondere stem met die Amerikaanse aksent dat dit ‘n liefdestaak was om die rolprent Invictus te maak.

Die Morgan Freeman wat ons net daarna in die fliek sien, verdwyn heeltemal en wórd Nelson Mandela. Hy loop soos Madiba, praat (min of meer) soos Madiba en dra die essensie van dié ikoon en staatsman meesterlik oor.

Morgan is in Suid-Afrika vir die premiéres van Invictus, die rolprent oor hoe Madiba die Wêreldbeker-rugbytoernooi van 1995 gebruik het om die bloedjong SA demokrasie te verenig en brûe tussen mense te bou. En hoe hy François Pienaar en die Springbokspan geïnspireer het om die Australiërs en die All Blacks en almal anders te wen en die William Webb Ellis-trofee vir Suid-Afrika te verower.

Nes die fliek het die Kaapse premiére Donderdagaand hoendervel-oomblikke gehad. PJ Powers het vir ons Shosholoza en World in Union gesing, nes sy daardie onvergeetlike Saterdag op Ellispark gedoen het.

Sy vertel toe Madiba daardie dag in François se nommer 6-trui op die veld loop, het sy vir haarself gesê: ”Ons gaan oukei wees.”

John Carlin, skrywer van die boek Playing the Enemy: Nelson Mandela and The Game that Made a Nation waarop die rolprent gegrond is, het ook kom skouers skuur met gaste soos die huidige Springbok-afrigter Peter de Villiers, Chester Williams, wie se karakter ‘n mens heelwat in die fliek sien en Springbok-flank Schalk Burger.

Carlin het in talle lande as politieke korrespondent gewerk en was van van 1989 tot 1995 in SA vir die Britse koerant The Independent. In dié tyd het hy ‘n verhouding met Madiba opgebou.

”Nelson Mandela is die mees buitengewone politikus wat ek in my loopbaan ontmoet het en die Wêreldbeker ’95 was die mees buitengewone politieke gebeurtenis,” sê hy.

Maar dis ‘n babawagter wat hom die idee vir die boek gegee het! ”Ek het in Londen ‘n dokumentêre program oor Nelson Mandela help maak. Vriende van my se babawagter het dit gesien en vir my gesê dis veral die Wêreldbeker-tonele teen die einde wat haar geroer het. Ek het besluit as dit kon deurdring tot ‘n 19-jarige meisie wat half-Engels, half-Arabies is en geen konneksie met Suid-Afrika of rugby het nie, móét ek ‘n boek skryf.”

Carlin dink die fliek (met Clint Eastwood as regisseur) het baie goed uitgewerk, maar oor een ding is hy spyt: dat Morné du Plessis, oud-Springbok-kaptein en in ’95 bestuurder van die Springbokspan, nie daarin gewys word nie. ”As Madiba die argitek van die gebeure was, was Morné die konstruksie-voorman,” sê Carlin.

Die fliek is nie sonder leemtes nie. Dele is effens langdradig. Die Springbokke lyk maar na ‘n patetiese spannetjie voor hul groot oorwinning en Matt Damon beeld François Pienaar as ‘n taamlike bleeksiel uit, nie naastenby soos die sterk leier wat François eintlik is nie.

Maar in geheel is dit ‘n fliek wat jou bybly en diep sentimente aanraak. Die heel roerendste oomblik, die een wat jy dalk nooit sal vergeet nie, is waar François in Madiba se tronksel op Robbeneiland staan en in sy geestesoog sien hoe Madiba daar in sy gevangeneskap oor en oor die gedig Invictus (deur die Engelse digter William Ernest Henley) vir homself opgesê het:

[box:300:grey:left]

Beyond this place of wrath and tears
Looms but the Horror of the shade,
And yet the menace of the years
Finds and shall find me unafraid.

It matters not how strait the gate,
How charged with punishments the scroll
I am the master of my fate:
I am the captain of my soul.

[/box]

  • Ek sien hierbo dat Henriette Loubser se dat haar bekommernis is dat buitelanders nie die fliek Invictus heeltemal gaan begryp nie. Ek bly al amper 13 jaar in Naples, Florida in die VSA. Ek het Saterdag Invictus gaan kyk en was heel verras….ek dink die fliek was uitstekend en dat Morgan Freeman sy rol baie goed vertolk het asook Matt Damon. Ek kon nie help om n hele paar trane te stort nie want soos my man se dit wek emosies in n mens op veral as jy daar gebore en opgegroei het in die apartheidsjare en nou in die buiteland bly soos ons.

    Toe ons Saterdag na die fliek uitloop staan drie Amerikaanse vrouens en praat en se hulle wonder wat die skrum beteken in rugby….ek stop toe en se vir hulle dat ek vir hulle dit kan verduidelik. Hulle kon nie mooi die spel van rugby verstaan nie en het gewonder hoekom die spelers aan die einde van die finaal vir die wereld beker so bly druk het in die skrum. Na ek en my vriendin se verduideliking het hulle meer begrip gehad. Ek vra hulle toe wat hulle van die fliek gedink het en hulle se toe dat dit absoluut fantasties was. Hulle het werklik n begrip gehad en gese hulle wens daar was meer mense in die wereld soos Mandela.

    Ek het vir hulle n paar staaltjies vertel van my dae as mediese verteenwoordiger in die Paarl en wat die Distriks Geneesheer my vertel het van sy ondervinding as Mandela se geneesheer in die dae wat Mandela in die gevangenis was. Hulle monde het behoorlik oop gehang en ook was hulle verras toe ek hulle vertel dat Mandela die peetouer is van een van Francois Pienaar se kinders.

    Henriette, wees verseker dat die buitelanders wel n baie goeie begrip het van die fliek asook vreeslik positief is oor die fliek. Hier in Naples het n rugby afrigter Saterdag by die fliek Invictus pamflette uitgegee oor rugby saam met van die spelers wat hul rugby truie gedra het. Ek moet se die Amerikaners dink rugby is n verskriklike rowwe sport. Dit is eintlik so nie waar nie? Ons seun wat nou 14 jaar oud is het verlede week saam met my Suid-Afrikaanse vriendin se seun begin rugby speel hier in Naples en is gaande daaroor…………..ek sal nou nie se ma is gaande daaroor nie maar ek besef die wortels le maar diep in ons seuns!!

    Groete
    Ingrid De Villiers

  • TCXZI7 nkuvvoiisfem, [url=http://zowwvnufxcgv.com/]zowwvnufxcgv[/url], [link=http://spqccalhngns.com/]spqccalhngns[/link], http://iihsbggwztpq.com/

  • fiPPBn bzjkwaeqkkxp, [url=http://zooucezqbdec.com/]zooucezqbdec[/url], [link=http://fuqmbjjhnaut.com/]fuqmbjjhnaut[/link], http://dkpynxffapsr.com/

  • nodhOt cxzitgxibcoh, [url=http://yocyoqditsjc.com/]yocyoqditsjc[/url], [link=http://jhzjrjjbbero.com/]jhzjrjjbbero[/link], http://zycybhpydmaz.com/