ffl_small
Op die rooi tapyt

NUWE SA FLIEK: Lag én huil in Fanie Fourie’s Lobola

Die internasionale première van die nuutste plaaslik vervaardigde rolprent, Fanie Fourie’s Lobola, is Woensdagaand by Killarney Mall in Johannesburg gehou. Henk Pretorius, regisseur en mede-draaiboekskrywer, sê die fliek het dié week opspraak gewek by die Pan African Film and Arts Festival in Los Angeles in die VSA.

“Dis ’n liefdestorie wat mense leer om hul eie tradisies te begin,” meen hy. Die fliek is gebaseer op ’n boek deur Nape ‘a Motana. Hy was self een van sy familie se lobola-onderhandelaars.

“Toe ek eers begin speel met die gedagte ‘wat as’, het ek baie kreatiewe scenario’s gekry,” sê Henk.

Draaiboekskrywer Janine Eser vertel nadat sy die boek gelees het, het sy gewéét sy moet ’n fliek daarvan maak.

Waaroor gaan die opwinding?

Dié romantiese komedie gaan oor Fanie Fourie (Eduan van Jaarsveld), ’n jong man wat in sy ma se motorhuis bly en self baie unieke karre vervaardig. Hy noem homself ’n paneelkunstenaar en sy broer, Sarel (Chris Chameleon), is hul ma se trots – hy is een van die land se grootste Afrikaanse sangers. Wanneer Fanie vir Dinky Magobane ontmoet, besluit hy om haar as sy metgesel na Sarel se troue te nooi.

Maar Dinky (Zethu Dlomo) het ’n agenda van haar eie – sy wil ’n stokkie steek voor haar pa se planne om haar met ’n ryk plaaslike man te laat trou. Sy stem in om saam met Fanie troue toe te gaan, mits hy middagete saam met haar en haar pa gaan eet.

Dan raak die twee onverwags verlief. Fanie leer Dinky om buite die boks te dink en sy maak vir hom ’n hele nuwe wêreld oop.

“Wat dit so spesiaal maak, is dat Fanie en Dinky nie by mekaar eindig oor politiek nie, maar omdat hulle nie sonder mekaar kan leef nie. Dis net ’n regte mooi liefdestorie,” het Eduan gesê.

Die rolprent laat jou lag, dit laat jou ’n traan wegpink. Dit vermaak jou. En met musiek van Jack Parow en Freshly Ground voer die klankbaan jou verder mee. Met toneelspelers soos Marga van Rooy, Jerry Mofokeng, Richard van der Westhuizen, Connie Chiume en Angelique Pretorius is dié fliek die kyk werd.

Fanie Fourie’s Lobola begin 1 Maart landwyd in teaters draai. Kyk solank die voorprent.