Op die rooi tapyt

Mej. Wêreld-voorskou – SARIE was daar!

Die Miss World Preview Celebration by Sol se One & Only Hotel in die Kaapse Waterfront was beslis ‘n okkasie waar die sjampanje, Martini’s en Cosmo’s gevloei het. Die 112 skoonhede het die asems weggeslaan.

Daar was boonop baie testosteroon in die lug. Die mans het oopmond gestaar! Hoe dan nou anders. Mooi bly mos mooi!

Celebs soos Michelle McLean (in ‘n stylvolle, superkort silwer mini), rugbysper Percy Montgomery en sy sexy model-vrou, Tasmin (in ‘n baie eina, turkoois mini wat haar lenige bruin bene mooi gewys het), eks-skoonheidskoningin Claudia Henkel (in ‘n stylvolle swart uitrusting) en ontwerper Gavin Rajah (in swart van kop tot toon) het oral verskyn.

Paul Venter, besturende direkteur van Homebrew Films, wat verantwoordelik is vir onder meer die vervaardiging van die vermaaklikheidsprogram All Acess op M-Net, het so ewe gesê: ”Ek was net hier om die sokkerster David Beckham te sien en hy is so klein met sulke snaakse hare dat niemand hom eens herken het nie. Iemand moes hom aan ons uitwys!”

Tammy-Anne Fortuin, aanbieder van Roer! op kykNET en een van die aanbieders en mede-vervaardiger van All Acess, was ook daar. Sjiek en vrolik soos altyd. (Moenie die artikel oor haar in jou Februarie-SARIE misloop nie, sy gesels met ‘n liefdes-ghoeroe!)

Die ”Mejuffrouens” het soos kinders in aandrokke met hoë skoene gelyk. Maar hulle is baie baie mooi. Dis net tande en blink oë en ‘n paar fotograwe het behoorlik bontgestaan agter die kameras.

Mej. Rusland (wat netsowel ‘n Boeremeisie van die Vrystaat kon wees – sy het ‘n vars glimlag, blou oë en appelwange), se naam is Kseniya Shipilova (18) en haar ma is Bulgaars en haar pa is Russies. Sy studeer toerisme en ekonomie en kom van Moskou. Sy vind Kaapstad lekker vibey, maar Durban en Port Elizabeth bietjie ”slaperig”. Sy is dol op Suid-Afrika. ”Die weer is wonderlik. Op die oomblik is dit so koud in Rusland.”

Maria Veliz Pinto, Mej. Venezuela (23) (sy is glo baie gewild in dié kompetisie), studeer internasionale besigheid in Londen en is ‘n sportafrigter, het verlief geraak op ‘n uil (sy praat van ‘n ”aail”), Billy, op een van die vele safari’s waarop hulle in Suid-Afrika gegaan het. ”Ek wil beslis terugkeer na Suid-Afrika. Miskien kan ek vrywilligerwerk in die wildreservate doen, want ek is mál oor diere. Ek het ook die woord ubuntu werklik my eie gemaak. Ek glo Suid-Afrikaners verstaan die begrip menslikheid. Orals waar ek gaan, sien ek glimlagte op mense se gesigte en ek reis báie. Maar hier sien ek dat mense regtig vir mekaar omgee.”

Magdalena Schoeman, die negentienjarige skoonheidsterapeut van Nieu-Seeland, wat in Suid-Afrika gebore is, dink sy staan ‘n kans om met die Mej. Wêreld-kroon weg te stap. ”Ek het só baie in dié wedstryd geleer. ‘n Mens leer ken baie ander kulture. Ek het bietjie Pools leer praat by Mej. Pole, wat terloops ook baie goeie Engels praat. My onderhoud-vaardighede het danksy dié kompetisie ook al baie verbeter. My gunsteling-ervaring tot dusver was by die Legends Resort naby die Limpoporivier waar ons die wonderlikste wit leeus gesien het.”

‘n Tipiese Skandinawiese skoonheid wat jy nie kan miskyk nie, is Mej. Noorweëe, met haar blonde hare en blou oë, Sara Skjoldnes. Sy is mal oor ski en snowboard, dink die paar Suid-Afrikaanse mans wat hulle ontmoet het, is baie goed gemanierd, en sy is mál oor die diere van Afrika. Haar skoonheidswenke? Drink baie water, eet gesond (maar bederf jouself so af en toe met ietsie ‘stouts’) en oefen gereeld. Sy dans elke dag en besoek die gimnasium gereeld.

Wie sou kon raai dat Luciana De Souza Reis, Mej. Brasilië, se gunsteling- Suid-Afrikaanse eetding biltong is? Sy is mal oor hoe ons dit geur.

Ons hou duimvas vir Mej. Suid-Afrika, Tatum Keshwar. Sy was só besig met onderhoude gisteraand, dat dit onmoontlik was om met haar te gesels!