sr1304_rooitapyd100lr
Op die rooi tapyt

Rol die rooi tapyt uit! En só hanteer Karlien van Jaarsveld die kollig

Die rooi tapyt by die Oscar-
aand is vir my soos om 
mode-sjokolade te eet.”

Aan die woord is Chris Viljoen, SARIE se mode-direkteur. Hy sê rooitapyt-geleenthede is vir mense wêreldwyd groot okkasies omdat dit ons almal laat ontsnap van die werklikheid. “As die ekonomie boonop benard is soos nou, geniet toeskouers dit nóg meer. En álmal kan ’n opinie hê oor die sterre se uitrustings. Van die boervrou op Koekenaap tot die Vogue-redakteur …”

Ons het pas weer vasgenael gesit en kyk na die glam sterre by die Oscars, Golden Globe-toekennings, Grammy’s, Screen Actor Guild Awards … En letterlik gehang aan die lippe van die ewe modieuse aanbieders Ryan Seacrest en Giuliana Rancic op Live from the Red Carpet op E! Entertainment.

Plaaslik is ons glansgeleenthede ook aan die groei en word die rooi tapyte uitgerol. Daar’s die stylvolle mode-weke in Kaapstad, Durban en Johannesburg, die Loeries vir uitstekende advertensies, die Durbanse July en die J&B Met in Kaapstad, die ATKV-veertjies vir joernaliste en skrywers, die SAMA’s (South African Music Awards), kykNET se Fiëstas vir teatertoekennings … noem maar op.

En die volgende een om na uit te sien is om die draai, die Ghoema-musiektoekennings waar die land se top- Afrikaanse kunstenaars op ’n spoggerige blou tapyt 
in Carnival City aan die Oos-Rand hul modestorie moet ken …

Karlien van Jaarsveld

Ja, sy voel soos ’n oorsese celeb op die rooi tapyt, erken die sangeres Karlien van Jaarsveld, wat ook vanjaar daar te sien sal wees. “Dit maak al die harde werk die res van die jaar die moeite werd.”

Die ontwerper Anel Botha is verantwoordelik vir haar voorkoms: die rok, skoene, juweliersware.
“Sy weet presies waarvan ek hou.”

Karlien het al na baie oorsese sterre se houding op die rooi tapyt gekyk en maak hulle na. “Ek kies iemand met dieselfde liggaamsbou as ek. Ek probeer ook leer uit  buitelandse sterre se flaters. Daai fashion police oorsee is darem erg op die sterre se case …”

SARIE is die tydskrif-media-vennoot van die jaarlikse Ghoema- Afrikaanse Musiektoekennings wat vanjaar op 14 April in Carnival City se 
Big Top Arena op Brakpan aangebied word. 
Dit is die grootste toekenningsgeleentheid 
vir Afrikaanse musiek in SA waar sangers, 
musikante en albums, wat uitsonderlik die 
afgelope jaar presteer het, vereer word.