Op die rooi tapyt

SARIE by die première van The Bang Bang Club

Die fliek vertel die verhaal van Greg Marinovich, Kevin Carter, Ken Oosterbroek en João Silva, vier koerantfotograwe van The Star, en dit speel af net voor die eerste demokratiese verkiesing in SA.

Soos jy afgaan met die roltrap na Sandton City se fliekteaters wag ’n hele spul fotograwe jou in. Al wat ’n bekende is, was daar, onder wie die akteurs Elma Postma, Anel en James Alexander, Amalia Uys, Ramey Short en Reynardt Hugo, om maar net ’n paar te noem.

Die kameras het oral geflits, die rooi tapyt het oorgeloop van bekendes, maar die aand het nie oor hulle gegaan nie – dit het gegaan oor die ouens ágter die kameras.

The Bang Bang Club is ’n fliek wat jou terugneem na die vroeë 1990’s. Na ’n Suid-Afrika wat heeltemal anders lyk as vandag, en dié vier dapper fotograwe wat hul lewe gewaag, en gegee het, vir die perfekte foto.

Hulle het in Soweto ingegaan wanneer dit die heel gevaarlikste was, verslaaf aan die mengsel van vrees en adrenalien wat hulle gedryf het om keer op keer terug te keer. Hier is hulle daagliks blootgestel aan grusame beelde en die dood, en die fliek neem jou op ’n reis van hul belewenis daarvan en die invloed wat dit op hul persoonlike lewe gehad het.

The Bang Bang Club is ’n lekker kombinasie van plaaslike en Hollywood-talent, met sterre soos Ryan Phillipe en Malin Akerman en ons eie Neels van Jaarsveld en Frank Rautenbach. Die toneelspel is oortuigend en boeiend, sodat jy saam met hulle daar is as lede van die ANC en die Inkatha-Vryheidsparty op mekaar losbrand en hulle die koeëls trotseer om hul kameras se knoppies te druk.

Die fliek is vir mense wat hou van aksie en spanning en belangstel in ons land se geskiedenis. Dis ’n ware inspirasie oor mense wat werklik hul passie geleef het en bereid was om daarvoor te sterf.

Kyk wie was almal by die première:

Neels van Jaarsveld, Diane Mostert, Frank Rautenbach en Leigh Rautenbach Kweku Mandela Amuah (Uitvoerende vervaardiger) en Steven Silver (Regisseur)
James en Anel Alexander Elma Postma
Matthew en Sonya Booth Karl Thaning en Nadia Valvekens
Chris Coutroulis en Vanessa Carreira

The Bang Bang Club begin op 22 Julie 2011 landwyd in teaters draai.