Bekendes

Al die uitdagings agter die skerms op die stel van The Wild!

The Wild is die eerste SA sepie wat nie in ’n ateljee opgeneem word nie, sê Burgert Muller, publisiteitsbeampte van The Wild. Dit word op ’n wildsplaas sowat ’n uur buite Johannesburg opgeneem en die akteurs en produksiespan word elke dag met bussies heen en weer gery.

Omdat baie tonele buite geskiet word, is die produksieproses in die verlede soms vertraag. Wanneer dit skielik begin reën het byvoorbeeld, moes die span eers wag totdat dit opgehou het voordat hulle die tonele verder kon opneem.

Maar die span het intussen geleer om die natuur se onvoorspelbaarheid deel van die storielyn te maak, vertel Burgert. “Toe die veld een keer gebrand het, het ’n kameraman ’n paar skote van die rook geneem en een van die akteurs het in sy toneel gesê ‘ons moet die veldbrande dophou’ voordat hy voortgegaan het met die res van sy dialoog. Dit was dus nie nodig om te wag tot die rook weg is om verder op te neem nie.”

Baie lede van The Wild se span verkies dit om in die buitelug te werk, eerder as in ’n ateljee. “As die son sak, lyk die graslande goud,” sê Gert van Niekerk, een van die regisseurs. “Dis beeldskoon en skep atmosfeer in ’n toneel. Geen beligtingspesialis kan dit namaak nie. Dit word vir ons gegee.”  

* Kyk The Wild Maandae – Donderdae, 19:00 op M-Net