FOTO Krieket Suid-Afrika

FOTO Krieket Suid-Afrika

Bekendes

Slaan hom vir ’n ses, Kagiso!

Eintlik moet mens sê boul hom vir ’n ses, maar in krieketterme werk dit nie! Kagiso Rabada het gisteraand 6 toekennings verower by Krieket Suid-Afrika se prysuitdelingsgeleentheid wat Donderdagaand in Johannesburg gehou is.

Die 21-jarige boulsensaie het die rekordboeke vir ’n ses gemoker met sy ses toekennings, die meeste nog vir een speler. AB de Villiers het verlede jaar vyf gewen en Hashim Amla het in 2010 ook vyf toekennings verower. Maar Rabada is op die ouderdom van 21 jaar en 62 dae die jongste speler om met 6  toekennings, waarvan een die mees gesogte Suid-Afrika se Speler van die Jaar, weg te stap. Sy naam kan nou genoem word in die uitgelese geselskap van spelers soos Jacques Kallis, Makhaya Ntini, Hashim Amla, AB de Villiers, Shaun Pollock, Dale Steyn, Graeme Smith en Vernon Philander wat ook al dié toekenning gewen het.

Rabada is ook deur die spelers aangewys as die Spelers se Speler van die Jaar en hy is ook die bewonderaars se SA Ondersteuners se Speler van die Jaar. Maar dis nie al nie! Dan is hy ook die Castle Lager Toetsspeler van die Jaar en die Eendagspeler van die Jaar. Sy sesde toekenning, RAM Aflewering van die Jaar, het hy gekry vir die bal wat hy afgestuur het om van Engeland se Jason Roy ontslae te raak in die internasionale KFC T20-wedstryd wat in Johannesburg gespeel is.

Volgens Krieket Suid-Afrika is Rabada se internasionale statistieke merkwaardig: 24 paaltjies in net 6 wedstryde teen ’n gemiddeld van 24.70 en 37 paaltjies in 20 eendagwedstryde teen ’n gemiddeld van 21.45.

Gelukwense het ingestroom van spelers en van Jan Alleman. Haroon Lorgat, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, het gesê: “Dit was een van die merkwaardigste debuutseisoene deur ’n jong speler in ons geskiedenis.” Rabada moes baie vinnig ’n groot rol vervul op die veld, nadat boulers soos Dale Steyn en Vernon Philander nie kon speel weens beserings nie.

’n Ondersteuner het ook getwiet dat Rabada ’n legende in wording is. Hoe waar is dit nie!

Baie geluk Kagiso Rabada.


Vir ’n lys van al die pryswenners, lees hier.

Bronne: http://cricket.co.za/news/13576/KG-hits-records-for-a-six