FOTO Facebook

FOTO Facebook

Bekendes

Sporty Spice se donker tyd in Spice Girls

Melanie Chisholm, oftewel Sporty Spice of Mel C, het nee gesê om weer deel van die Spice Girls te wees. Sy gaan nie saam met Geri Halliwell, Emma Bunton en Mel B op die groep se reünie-toer nie.

Sy het die aanbod van die hand gewys, want sy raak depressief as sy deel is van die groep. In ’n onderhoud met Event, The Mail on Sunday se weeklikse tydskrif, vertel sy hoe aaklig haar tyd as lid van die Spice Girls was. Sy sê die kollig het haar net ellende en eetsteurnisse op die hals gehaal. Sy kon glo nie eens vir haarself in die spieël kyk nie, want sy het niks gehou van wat sy sien nie.

FOTO Facebook

FOTO Facebook

Nog iemand wat nee gesê het vir die Spice Girls-reünie is Victoria Beckham.
Die oorblywende trio hoop om ’n talentprogram op BBC te reël sodat hulle nog twee lede kan kry om voltallig te wees vir hul Hyde Park-konsert volgende jaar, volgens The Mail on Sunday.

Mel C het gesê sy het nie haar besluit ligtelik geneem nie, en dat sy ná vele vergaderings met die ander drie besef het dit voel net nie na die regte ding vir haar nie. Na bewering is sy £2 miljoen aangebied om weer deel van die groep te word. Oor die geld wat sy van die hand gewys het, het sy ook erken dit was moeilik, maar dat sy nie wou hê die geld moes haar uiteindelike besluit beïnvloed nie. Al is sy ’n enkelma van ’n sewejarige dogter. Sy het 20 jaar gelede van die Spice Girls weggestap met ongeveer £22 miljoen, en bieg dat sy ongelooflik baie daarvan uitgegee het.

Sy het nou haar eie maatskappy, Red Girl Records, waardeur sy haar eie musiek bekend stel. Haar nuwe album, Version of Me, is haar sewende solo-album en sy weet sy gaan net ’n fraksie verdien van wat sy as deel van ’n Spice Girls-reünie-album sou maak. Maar dis alles die moeite werd vir haar, want sy wil nie weer teruggaan na haar dae van depressie, ellende en eetsteurnisse nie. Op haar nuwe album sing sy liedjies oor haar verbrokkelde verhouding met Thomas Starr. Sy het vier jaar gelede die verhouding verbreek, maar hy was haar steunpilaar in die dae nadat sy die Spice Girls vaarwel toegeroep het. In dié vier jaar het sy ’n baie lae profiel gehandhaaf en gefokus op haar dogter en op ma-wees.

In die onderhoud praat sy ook oor dinge waaroor sy berou het. Een daarvan is haar tatoes. Sy het oorweeg om dit te laat verwyder, maar party is nogal groot. Dit was oukei om die tatoes te hê as kunstenaar, maar dis nie juis oukei vir ’n ma nie, het sy gesê. Daar is ook ’n nuwe liefde in haar lewe, maar daar is geen huweliksklokkies op die horison nie. Sy is gelukkig met haar lewe, en sy kan self besluit wat om met haar lewe te doen, sê sy. Volgende week vertrek sy op ’n lang promosietoer vir haar nuwe album.

En ja, die Spice Girls sal maar volgende jaar sonder haar en Victoria moet konsert hou.

Bron: MailOnline

Lees nou

Sophia Loren is 81

Só dra jy enkelstewels in lente

Groot FM se Johrné10 kilos ligter