amalia uys

FOTO Werner Botha van Plastiek

Sy Klink Soos Lente

Amalia Uys deel haar dagboek! #SKSL

Amalia Uys speel die hoofrol in die nuutste fliek wat SA aan die praat het, Sy Klink Soos Lente. Al ooit gewonder hoe dit voel om in ’n fliek te speel? Wel, lees hier! Vir die volgende 12 weke deel sy haar dagboek met ons.

Amalia speel die rol van Linda, ’n beeldskone, uitgesproke ouditeur. Sy ontmoet Ben (gespeel deur Stiaan Smith) een aand in ’n kroeg. Hul storie begin daar, want om haar te beïndruk jok Ben vir haar en sê hy is in ’n band, Groenblare.

Lees hier Amalia se eerste dagboekinskrywing

sy klink soos lente

Uiteindelik is ons hier! Ná ’n paar weke van karakter- en teksontleding, repetisies en vergaderings met industrie-grootkoppe het die tyd aangebreek om in “Linda” se kop en skoene te klim en my eerste dag op stel aan te pak.

Die vorige nag was ’n ylerige toestand van flitsende beelde en rustelose bene. Dis hoe dit gaan in die wêreld van ’n aktrise wat nie kan wag om met ’n nuwe produksie te begin nie. Johannesburg is WARM en “lente” is ’n verlangse herinnering saam met jakarandabloeisels wat soos laasnag se party streamers in die straat opgaar. Ja … lente is dalk verby … maar dis tyd vir Sy Klink Soos Lente.

My vroegste call-tyd ooit. Ek moet 3.30 opstaan om my drywer 4.30 te ontmoet en dan te vertrek na ons location waar vandag en die res van die week se shoots gaan plaasvind. Neo bestuur en ek bevind my in die geselskap van ’n man wat al vir Samuel L. Jackson, Adam Sandler en Drew Barrymore rondgery het. Ek voel nogal spesiaal!

Op stel aangekom, gaan sit ek dadelik in die grimeerstoel om in Linda getransformeer te word. Dis ’n uur en ’n half lange proses en ek is in die bekwame hande van Claudia Hamman. Sy takel eers my bos hare en daarna word die airbrush beauty gun gebruik vir ’n gelaat wat mens laat lyk of jy met enige 18-jarige se jeugdigheid kan meeding … Kyk, dis mos nou ’n bederfie en ’n welkome redding!

sy klink soos Lente

FOTO Angelique (grimeerkunstenaar), Amalia en Claudia Hamman (grimeerkunstenaar)

My eerste toneel is saam met Darren Kelfkens, ampertjies veteraan-akteur en regisseur, wat die rol van Kaptein, oftewel Linda se pa, vertolk.

sy klink soos lente

FOTO Darren Kelfkens

Dis ’n rustige inleidende dag met ’n regisseur wat jou proses verstaan en jou vinnig gemaklik laat voel – Corne van Rooyen is ’n genie uit eie reg.

Dis nou wel my eerste dag op stel, maar die res van die span is al so ’n week aan die gang en ek kan sien hulle het murg in hul pype. Ek weet sommer hierdie gaan ’n goeie reis wees.

Ek kan werklik nie wag om te sien hoe hierdie reis gaan ontwikkel nie … iets sê vir my dat Sy Klink Soos Lente dalk, net dalk, die hoogtepunt van my loopbaan sover kan wees … Let the journey begin!

Lees nou

Die 1ste liedjie van Sy Klink Soos Lente is hier!

Ontmoet die band! #SKSL

Kyk! Sy Klink Soos Lente-lokprent